Sunday , June 20 2021

Jagveld vat die pad!

Die hoog-verwagte nuwe Afrikaanse aksie-film JAGVELD (met Engelse onderskrifte) – geskryf deur die bekroonde meester van die riller-genre, Deon Meyer – tref fliekteaters regoor Suid Afrika vanaf 17 Maart. JAGVELD spog met Leandie Du Randt, Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Tertius Meintjies en ander gewilde plaaslike akteurs in die rolverderling.

Om hierdie opwindende nuwe uitreiking te vier, het die vervaardigers besluit om JAGVELD op ‘n landswye toer te neem – ‘n maand voor dit amptelik in fliekteaters begin wys.

Fliekgangers regoor Suid-Afrika kry dus ‘n beurt om JAGVELD eerste sien – met sommige van hierdie spesiale voorvertonings wat gaan plaasvind in unieke buitelug-fasiliteite, in ongewone plekke waar flieks nie sommer eksklusief gewys word nie. Van die akteurs uit die fliek gaan ook hierdie voorvertonings van JAGVELD bywoon – om aanhangers te ontmoet en saam te fliek.

JAGVELD pols met die energie van ‘n jaagtog, en verplaas die aksie na nuwe hoogtes; dit word beskou as ‘n sterk nuwe toevoeging tot die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Dit tref die silwerskerm met impak en lewer spanningsvolle elemente van die genre met die ondersteuning van atmosferiese kamerawerk, ‘n draaiboek van internasionale formaat, meesleurende musiek- en klank-effekte, die doodstille Karoo-landskap en uitstekende dog senutergende toneelspel deur ‘n uitmuntende groep akteurs.

Die (soms skrikwekkende) rolle wat vertolk word, is ‘n definitiewe verskuiwing van karakter vir meeste van die akteurs – wat deur uitmergelende voorbereidings moes werk om hierdie opwinde fliek te vervaardig. Aanhangers en ander fliekflooie regoor die land kan nou die akteurs self ontmoet op die JAGVELD-toer en bietjie gesels om te hoor wat dit verg om ‘n naelbyt aksie-fliek soos dié op die been te bring.

Hieronder volg die volle toerskedule vir JAGVELD:

18 Feb ruarie 2017                 Kleinmond

23 Februarie 2017                  Stellenbosch Wynfees, Warwick wynlandgoed

24 Februarie 2017                  Ster-Kinekor Tygervallei, Kaapstad

25 Februarie 2017                  Getafix Garden Café, langs die George Botaniese Tuine

1 Maart 2017                          Apollo teater, Victoria-Wes

2 Maart 2017                          The Snowflake, Potchefstroom

3 Maart 2017                          Mimosa Mall, Bloemfontein (dakparkering-area)

4 Maart 2017                          Nu Metro The Strip, Welkom

9 Maart 2017                          Scene VIP – Nu Metro Parkview, Pretoria-Oos

10 Maart 2017                        Mogolklub Funksiesaal, Ellisras

10 Maart 2017                        Hoërskool Pietersburg, Polokwane

11 Maart 2017                        Marken Boeresaal  (krieketveld), Limpopo

15 Maart 2017                        Labia Teater, Kaapstad (met boekbekendstelling) 

17 Maart 2017                        Kunstegrot, Thabazimbi

18 Maart 2017                        Bidvest Wanderers stadion, Johannesburg

Die storie in JAGVELD skop af met Emma le Roux (Leandie du Randt), wat op pad huis toe is – na die familieplaas in die Groot Karoo; mooi, sagte Emma, die pasifis en laerskool-onderwyseres. Sy het hierdie pad al ’n duisend keer gery, sonder enige voorval. Maar nie vandag nie, want vandag gaan haar paaie met Bosman en Baz en Jay s’n kruis; en Boela en AJ en Piet s’n.

Bosman (Neels van Jaarsveld), die baasbrein van ’n dwelmsindikaat en ’n psigopaat – is wreed en geweldadig. Baz (Tim Theron) en Jay (Bouwer Bosch) is sy meelopers – moordenaars, monsters. AJ (Danie Putter) en Boela (Edwin van der Walt), die rykmanseuns, is deel van die bende omdat hulle hoop om geloofwaardigheid en vinnige geld in dié wêreld te maak, terwyl Piet, die bangbroek (Luan Jacobs), die swakkeling is wat bykans enigiets vir sy neef Bosman sal doen.

Emma sien hoe dié ses ’n skokkende misdaad pleeg; en hulle sien dat sy hulle gesien het. Nou jag hulle haar soos ’n dier in die Groot Karoo. Sy is mos ’n maklike prooi waarmee hulle gou-gou sal klaarspeel.

Maar, niemand is werklik bewus van wie Emma regtig is nie; dié jagtog verloop dus nie volgens plan nie. Dinge begin uitmekaar val – teen ’n ontstellende spoed. Aanvanklik dryf haat en wraak die bende, maar skielik word oorlewing hulle dryfkrag.

Kaartjie-details en verdere inligting is beskikbaar op die JAGVELD Facebook-blad of besoek www.jagveld.co.za

Kliek hieronder om te kyk na die JAGVELD karakter-lokprente vir Leandie du Randt, Neels van Jaarsveld en Tim Theron: 

Kliek hier om na die amptelike, vollengte lokprent vir JAGVELD te kyk:
 

JAGVELD – sosiale media skakels:

Facebook (Jagveld)

Facebook (Fresh Flieks)

JAGVELD is ‘n Karoo Film Company produksie, in samewerking met KykNET Films en Times Media Films. JAGVELD uitgereik by fliekteaters regoor Suid-Afrika op 17 Maart 2017.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

7 wen Beiteltjies-toekenning

Agt woordkunsskeppers en -fasiliteerders is gisteraand, 30 November 2020, deur die Afrikaanse Woordkunsakademie met die …

Neels is gereed om liefde te vind

Hy het ‘n groot liefde vir teater, branderblankry en gholf, maar daar is een liefde …