Tuesday , October 19 2021

Dozi skiet nuwe musiek video in swembad!

Die uiters gewilde en bekende Dozi, het gedurende Mei 2020 sy eerste enkelsnit, Partykeer Somtyds, vanaf sy splinternuwe album, Vrede, vrygestel.  Hy het dié album, wat ook sy negentiende album is, se bekendstelling met ‘n gratis aanlyn-vertoning op 27 Junie gevier en hierdie vertoning is deur bykans 7000 plus mense gekyk.  Die album het binne weke na uitreiking en nog voordat dit Musica se rakke getref het reeds onder die Top 10 verkopers in die land gepryk.  Partykeer Somtyds pryk tans op talle radiostasies landswyd se trefferparades.

Die liedjie is geskryf deur die uiters talentvolle liedjieskrywer, Stef Kruger en gaan  daaroor dat niemand van ons eintlik beheer het oor ons lewens nie en alles net genade is.  “Ons maak almal foute en word heen en weer deur die wind teen alles vasgewaai.  Maar dan baie keer kom daardie een persoon in jou lewe in wat alles kom regmaak en liefde in oorvloed bring.  “Dit gaan oor seisoene, die hele lewe gaan oor seisoene en dit gaan so gou verby en dan partykeer maak die hemel oop en gee vir ons reën en dit kom alles net weer terug na genade toe”, sê Dozi oor hierdie pragtige lied.

Die musiekvideo vir dié enkelsnit is op Dozi se plaas geskiet. Vonk Musiek het die video vervaardig en die regie is behartig deur Wian Van der Walt. Wian en Dozi het saam gesit en die konsep vir die video uitgedink. “Ons het die video hier op my plaas gekiet gedurende inperking.  My swembad het nie water in gehad nie, so dele van die video is onder in die swembad geskiet. Dit sal seker die enigste video wees wat daar geskiet word, want hy is nou propvol water!” verklap Dozi.

Vrede bevat ’n versameling snitte wat jou nie net nostalgies sal laat verlang na die verlede nie, maar ook met hoop sal vul vir die toekoms en met waarderende oë sal laat kyk na die hede. Hierdie akoestiese-verwerking bou voort op die wenresep waarvoor Dozi oor die jare bekendheid verwerf het, maar hy wys ook ’n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek.

Die album spog met twaalf oorspronklike snitte, waarvan hy drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep. Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ’n kombinasie van dieper dink musiek, wat hier en daar afgewissel word met ’n ligter dans nommertjie.“Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” deel hy.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Instagram: @doziopperman

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Musiekwerkswinkel vir kleuterskoolonderwysers – 17 April 2021

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), bied ’n …

Nuwe album vir Elandre!

Sy eerste album het binne ‘n oogwink platinumstatus bereik, sy eerste enkelsnit van sy tweede, …