Wednesday , September 29 2021

Christia Visser se debuut-album hier!

Ballade vir ‘n Enkeling, Die Boekklub en Fynskrif het van Christia Visser ‘n huishoudelike naam gemaak. Haar besonderse sangtalent het egter ook meer gereëld in die kollig begin staan en wyd opslae gemaak. Nou – ‘n hele paar enkelsnit-lusmakers later – is haar lankverwagte debuutalbum uiteindelik hier!

“Gemaklik verlore” beslaan tien snitte – meestal Afrikaanse nuutskeppings uit Christia se eie pen, maar ook ‘n Engelse gunsteling of twee wat in kraakvars nuwe, hoë-definisie kleure pronk.  Die album is jonk van gees en beslis nie bang vir ‘n lekker partytjie nie, maar in dieselfde asem ook steeds baie goed deurdag in sy soms amper poëtiese aanpak van dieper hart- en lewenssake.

Die laer note, wat sinoniem is met Christia se stem, is ‘n deeglike bederf regdeur die album, maar sy skroom ook nie om heelwat hoër hoogtes – skynbaar moeiteloos – aan te pak nie. Meng dít met magiese harmonieë en enige iets van sterk baslyne en tegno-effekte wat gerat is vir ‘n behoorlike skoffel, tot rustiger, meer old school dansgeure, tot momente met net minimalistiese klavierbegeleiding en jy kry ‘n uitstekende vertoonkas vir haar merkwaardige liedjieskryf- en sangvernuf – ‘n samestelling wat jou sal laat terugkom vir meer!

Bekende treffers soos “17 shots” en “Die deur” – wat beide reeds goue status verwerf het – “Ons maak saak” met Elandré, Brendan Peyper en Refentse en, meer onlangs “Kaal voor jou” – wat Christia spesiaal vir haar verloofde vir hul troudag geskryf het – is op die album ingesluit, langs ander nuutskeppings soos “Wildste oomblik”, “Ek is net ‘n mens”, “Stukkie vir stukkie”  en die titelsnit.

Dekweergawes van Heart se immergewilde 1990’s treffer, “All I wanna do is make love to you”, sowel as T’Pau se “China in your hands” van die laat 80’s herleef – feitlik net so groot soos die hare van daardie era – in blinknuwe vertolkings wat selfs die oorspronklike opnames sal sien stof opgaar!

Met “Gemaklik verlore” maak Christia die beste moontlike eerste indruk – ‘n album wat ranglyse aan die brand gaan speel en sonder twyfel ‘n plek in enige musiekversameling wat sy sout werd is verdien!

Die album is nou landswyd beskikbaar.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Musiekwerkswinkel vir kleuterskoolonderwysers – 17 April 2021

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), bied ’n …

Nuwe album vir Elandre!

Sy eerste album het binne ‘n oogwink platinumstatus bereik, sy eerste enkelsnit van sy tweede, …