Loading
Pieter Cloete
Radio and Journalism
Pieter Cloete
Radio and Journalism
Ariticles

Afrikaans is nie in my DNS nie

May 8, 2025 Blog
Afrikaans is nie in my DNS nie

Ek is nie gebore om Afrikaans te praat nie. Inteendeel, as dit nie vir omstandighede was nie, was ek ’n volslae engelsman en sou my van “Cutmore” heet. Maar ek is met liefde ontvang deur die Afrikaanssprekende Cloete’s van Fort Victoria, Zimbabwe, in 1979.

Die soeke na identiteit is ’n kernaspek van aangenome individue se lewensreis. Volgens Erik Erikson, ’n ontwikkelingsielkundige, is identiteit “’n gevoel van persoonlike kontinuïteit en uniekheid.” Aanneming by geboorte kan hierdie kontinuïteit versteur, aangesien individue soms met vrae worstel soos: “Wie is ek regtig?” of “Waar kom ek vandaan?”

Betty Jean Lifton, ’n sielkundige wat self aangeneem is met geboorte, skryf: “The adopted self is fragmented, divided between two sets of parents, two histories, two identities.” Hierdie fragmentasie kan gevoelens van verlies en verlange ontlok — selfs in ’n liefdevolle aannemingshuis. David Brodzinsky, ’n kliniese sielkundige voeg by: “The search for identity among adoptees is often more intense, because of the inherent ambiguity about their origins.” Die herstel van hierdie identiteit behels dikwels die herwinning van narratiewe — ’n persoonlike poging om dele van die verlede met die hede te integreer om ’n sinvolle selfbegrip te vorm.

Vyf-en-veertig jaar later…

Ek het in 2024 besluit om my DNS te laat toets deur die platform MyHeritage. Ek was, soos reeds genoem, baie nuuskierig oor my agtergrond, my geskiedenis as mens, en waar ek kultureel en geneties inpas — en natuurlik oor die moontlikheid om dalk my biologiese ouers op te spoor, laasgenoemde is ’n ongelooflike storie… maar vir ’n ander dag…

26 November 2024

My resultate het daardie dag op die genealogiese webblad MyHeritage verskyn. Ek het sommer ’n baie oulike video van hulle ontvang oor my herkoms. Kyk hier:

Hoewel ek Afrikaans grootgeword het, verklap my DNS iets anders: 62% van my genetiese oorsprong lê in Skotland en Wallis, en slegs 3% in Suid-Afrika/Zimbabwe. My wortels is dus dalk vreemder — en verder — as wat my taal laat blyk.

Maar dit is in Afrikaans waar ek my menswees ontdek het. Dis die taal waarin ek leer liefhê het, waarin ek my eerste stories vertel het, en waarin ek vandag steeds droom. Afrikaans is nie net my moedertaal nie — dis my kultuur, my werk, my daaglikse geselskap, en my grootste werktuig om sin te maak van die wêreld. My identiteit is dalk biologies ingewikkeld, maar geestelik en emosioneel is ek gewortel in Afrikaans.

As kind van die Afrikaanse gemeenskap het ek ’n diepe waardering ontwikkel vir die klanke, ritmes en metafore van die taal. Ek glo Afrikaans is ’n taal van veerkragtigheid — dit het oorleef, gevorder en bly groei, ten spyte van uitdagings. Hierdie veerkragtigheid resoneer met my eie lewenspad as joernalis, omroeper, videovervaardiger en (hopenlik) aspirant toekomstige akademikus.

My reis in Afrikaanse media is ’n natuurlike uitbreiding van hierdie identiteit. Van my werk as musiekhoof en aanbieder by GROOTfm 90.5, tot my huidige rol by Pretoria FM se naweekspan, leef en werk ek in Afrikaans. Ek vertel stories in Afrikaans, gesels met luisteraars in hul moedertaal. My voltydse betrokkenheid by Maroela Media is ’n uitdrukking van my geloof in die krag van Afrikaanse joernalistiek — nie net om in te lig nie, maar om gemeenskappe saam te snoer.

Afrikaans is vir my ’n identiteit wat ek elke dag aktief vorm en uitdra. Dis nie net iets wat ek praat nie — dis iets wat ek wíl beskerm, laat groei en vernuwe. Ek glo ons taal moet nie net oorleef nie, maar floreer in die digitale era.

Om Afrikaans te wees, is vir my nie beperk tot ’n etniese of historiese afkoms nie. Dit is dalk nie in my DNS nie, maar dit is ’n keuse, ’n toewyding, ’n passie. Dis die manier waarop ek gekies het om my wêreld te leef — met integriteit, met kreatiwiteit, en altyd in my eie, eg Afrikaanse stem.

Die Franse filosoof Gaston Bachelard het dit treffend verwoord:

“A special kind of beauty exists which is born in language, of language, and for language.”

1 Comment
  • Freda Pretorius 8:58 pm May 9, 2025 Reply

    Pragtig Pieter,,

Write a comment