Vrydag , Julie 20 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Xander Joubert stel nuwe musiekvideo bekend!

Xander Joubert stel nuwe musiekvideo bekend!

Draai jou radio harder, want Xander Joubert se eerste enkelsnit, AARDBEWING, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die liedjie is pas vrygestel en reg om die radiogolwe oor te neem. Dit spog met ’n verfrissende nuwe popklank, waaroor luisteraars gaan mal wees en wat nog lank gaan koning kraai op die dansvloer.

Dié splinternuwe sangsensasie se lekkerluister-popstem is die perfekte pasmaat vir hierdie polsende goedvoeltreffer uit Werner Beukes se pen. AARDBEWING is ’n interessante popverwerking, met ’n moderne sokkiedans-aanslag, wat gaan oor verliefwees en al die emosies en opwinding wat daarmee saamgaan. Die snit se opgewekte wysie sal nie net jou voete laat jeuk om te dans nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. “Die hele doel van popmusiek is eenvoud… met ander woorde – min woorde, so die storie is eenvoudig. Dit gaan oor iemand wat smoorverlief is op iemand anders. Ons het dit geskryf met die doel om aandag te trek en die luisteraar te nooi om saam te sing. Die publiek moet dit geniet en aanklank vind by die boodskap,” vertel hy. “Die lewe is maar soms chaoties en moeilik en ek dink ’n lighartige liedjie kan so ’n bietjie geluk sit in die dag van diegene wat dit luister.”

’n Musiekvideo van die treffer, wat deur bekroonde filmmaker Gerhard van Rooyen vervaardig is, reeds op 7 Julie 2018 bekendgestel en die sanger vertel opgewonde: “Dit gaan oor ’n bleeksiel wat baie verlief is op ’n meisie wat hy graag wil vra om sy metgesel te wees vir die matriekafskeid. Hy het geen sosiale vaardighede nie en weet nie hoe om die meisie te benader nie. Die kyker ontmoet ook sy alter-ego, wat hom intimideer en hom effens spot omdat hy is soos wat hy is. Die ou worstel dan met homself om sy onsekerhede te oorwin en genoeg selfvertroue op te bou om by die afskeid op te daag en te wees wie hy nog altyd wou wees.” Die video is op verskeie plekke in en rondom Pretoria verfilm.

Xander is passievol oor musiek en werk al vir die afgelope sewe jaar hard daaraan om sy droom te verwesenlik. Sy sangtalent is reeds op hoëskool ontdek, toe ’n juffrou hom Die Volkslied hoor sing het en genooi het om deel te neem aan ’n kompetisie, waarin hy baie goed gevaar het. Dit is ook hier waar die musiekgogga hom behoorlik gebyt het. Daarna het hy besluit om vir stemafrigting te gaan en het hy verskeie ander kompetisies gewen, wat vir hom – na skool – ’n kontrak by Majorca losgeslaan het wat hy ongelukkig nie kon aanvaar nie. “Ek kom glad nie uit ’n musikale huis uit nie, maar ek was nog altyd gefassineer deur die musiekbedryf en musikante. Daar is ook verskeie groot herinneringe en emosies uit die verlede wat ek aan musiek koppel. Om te sing was nooit deel van my planne nie. Ek was ’n sportman, met ’n tennisbeurs by Curro College, maar dinge het op die ou einde uitgewerk soos wat dit moet,” gesels hy.

Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, het hy groot bewondering vir kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Elvis Blue. Hy luister ook graag na oorsese musikante soos Keith Urban, Florida Georgia Line, Sam Smith, ZAYN, Josh Groban, Michael Buble, Sia en Little Mix. “My grootste inspirasie is om goeie musiek te maak wat treffend is. Ek wil heeltyd verbeter en is nooit tevrede met my liedjies nie. Ek sien dit as ’n goeie ding, want so sal ek aanhou verbeter. Daar is baie musiek en genres waarvan ek hou, maar ’n goeie stem sal my altyd beïndruk,” deel die kunstenaar.

As hy nie ’n musikant was nie, sou hy graag wou boer of ’n eetplek oopmaak om sy vaardighede agter die kospotte ten toon te stel. Maar vir nou is sing sy grootste fokus en werk hy hard aan sy debuut-album, wat heel moontlik gaan spog met tien oorspronklike Afrikaanse en vier Engelse snitte, wat vir later vanjaar beplan word. Hy besit ook sy eie onafhanklike platemaatskappy, XJ Records, en wil in 2019 graag nuwe kunstenaars onder sy vlerk neem. Verder droom hy ook daarvan om eendag sy werk met internasionale gehore te deel.

Xander glo dat musiek baie kan verklap oor wie jy is… en hy beplan om seker te maak dat syne vir hom ’n gerespekteerde plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vestig. AARDBEWING gaan nie net ’n treffer op die dansbaan en treffersparades wees nie, maar is ook die begin van ’n baie belowende musiekloopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @XanderJoubert

Instagram: @xander.joubert

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

BOON laat Weiveld ontplof met nuwe temalied!

Is dit Pitbull..?! Dalk Jack Parow..?! Nee wag, dit lyk mos soos Queen… of is …

Weiveld gaan ruk hierdie Vrydagaand!

Die bekende en sekerlik een van die grootste kuierplekke in Pretoria, Weiveld, gaan ruk en …