Woensdag , Augustus 15 2018
Home / Music / WONDERboom verras met nuwe enkelsnit en kondig SA toer aan!

WONDERboom verras met nuwe enkelsnit en kondig SA toer aan!

WONDERboom het beslis geen bekendstelling nodig nie – met twee-en-twintig-jaar in die bedryf, nege albums op die rak, verskeie toekennings en ’n leeftyd se ervarings agter hulle, is dié legendariese rockgroepe steeds goed op dreef. Oor die jare het die band, wat bekend is vir hulle kenmerkende rockklank, luisteraars verras deur met verskillende genres te eksperimenteer, van funk tot punk en selfs afro-dans, maar dit is veral hulle lewendige optredes wat gehore bly bekoor. Nou kan aanhangers uitsien na nog ’n paar verrassings in die vorm van ’n nuwe enkelsnit, musiekvideo en ’n Suid-Afrikaanse toer!

Die vrystelling van hulle negende album, Rising Sun, na ’n lang stilte – dit is sewe jaar sedert hulle laas een uitgereik het – was die begin van iets baie spesiaal en WONDERboom is gereed om hulle eerste enkelsnit, Praying Mantis, vanaf die album met die publiek te deel. Die treffer is deur Cito en Martin Schofield geskryf en gaan oor die fatale fout om betrokke te raak by die verkeerde vrou. “Ons wou die tragedie vasvang wat gepaard gaan daarmee om vir die verkeerde vrou te val, en het ook probeer om terselfdertyd haar hartseer weer te gee. Dit gaan oor die besef dat jou ondergang onvermydelik is, en alhoewel sy sleg voel daaroor om jou hart te breek, moet en gaan sy dit steeds doen,” verduidelik Cito.

Die enkelsnit, wat deel uitmaak van ’n mooi storie wat deur die inhoud van Rising Sun saamgeweef word, is iets heeltemal nuut vir hulle. “Dit is anders as die res van die liedjies op die album en as enigiets wat WONDERboom nog ooit gedoen het,” sê die dromspeler, Johnathan Bell. Wade Williams, wat die baskitaar speel, stem saam: “As ’n musikant, dink ek dat ons die grootste tevredenheid daaruit put wanneer ons kan deel wees van iets waarmee luisteraars kan vereenselwig, terwyl ons steeds grense verskuif deur iets nuut en ongewoon te probeer.”

Die musiekvideo vir die enkelsnit word op 30 Julie 2018 bekendgestel. “Die konsep vir hierdie vreemde fantasieverhaal oor ’n hart wat gebreek word, was die breinkind van Roger Williams,” verklap Schofield. “Ons wou iets donker, maar lighartig, doen om te wys dat jy jouself nooit te ernstig moet opneem nie.”

WONDERboom is in 1996 gestig en bestaan uit Cito (voorsanger/ kitaar), Martin Schofield (kitaar/ sanger) en Wade Williams (baskitaar), die stigterslede wat al vir twee-en-twintig-jaar saam liedjies skryf en optree. Jonathan Bell (dromme) het in 2013 by hulle aangesluit, nadat hulle oorspronklike dromspeler, Garth McLeod, oorlede is. Die groep se naam is geïnspireer deur ’n straatbordjie wat na ’n klein dorpie net buite Kroonstad verwys. “Ons hou daarvan dat dit vir verskillende mense, verskillende betekenis inhou,” verduidelik Cito.

As een van die land se oudste rockgroepe, spog WONDERboom natuurlik met ’n indrukwekkende CV – hulle was al die hoofvertoning by verskeie groot Suid-Afrikaanse feeste en is benoem vir vyf SAMA-toekennings vir Beste Rockalbum. Hulle het ook die Suid-Afrikaanse been van die 2004 Global Battle of the Bands gewen en het tweede, wêreldwyd, geëindig in die finaal in die Astoria in Londen. Wanneer jy hulle uitvra oor die groep se grootste hoogtepunt, sonder almal dieselfde prestasie uit. Hulle het in Desember 2017 die land verteenwoordig by die Silk Road Indie-musiekfees in Chengdu, China, en met goud weggestap! ’n Ander hoogtepunt was om die verhoog te deel met Muse, Korn, Chris Cornell, Kaizer Chiefs, 30 Seconds To Mars, Good Charlotte en ander plaaslike groepe by die Cokefest in 2008.

Om die ongelooflike reis wat hulle sover gehad het te vier, gaan WONDERboom vanaf Augustus 2018 deur Suid-Afrika toer. Oor die rede agter hulle The Best Side Story-toer, verklap die groep: “Ons gewone vertonings is rockkonserte, waar ons die gehoor opgewonde en aan die gang hou. Hierdie is egter ’n rustiger tipe vertoning wat ’n storie vertel en die gehoor uitnooi om te deel in van ons mees intieme ervaringe. Soms is die stories agter sekere liedjies nie wat mense dink nie en nou het ons die geleentheid om daardie stories te vertel. Met die The Best Side Story-toer hoop ons dat luisteraars ons beter sal leerken; individueel en as ’n groep.” Hulle voeg verder by dat ’n toer die perfekte manier is om vir mense en by plekke op te tree waar hulle nie gewoonlik doen nie.

WONDERboom sal op die volgende datums vertonings hê, regoor Suid-Afrika:

31 Aug – Rustique Boutique, Middelburg

06 Sept – Barnyard Silverstar, Krugersdorp

15 Sept – Casalinga, Muldersdrift

21 Sept – Barnyard Plett

22 Sept – Vinyl, Cape Town

23 Sept – Café Roux Noordhoek, Kaapstad

27 Sept – Barnyard Emperors, East Rand

28 Sept – Barnyard Rivonia, Johannesburg

13 Okt – Barnyard Casterbridge, Witrivier

25 Okt – Musiekskuur (Rockwood Theatre), Pretoria

26 Okt – Caversham Mill, KwaZulu-Natal

03 Nov – Die Ou Pastorie, Brits

10 Nov – Radium Beer Hall

DIE MANNE AGTER DIE MUSIEK

Vir die stigterslid, liedjieskrywer en kitaarspeler, Cito (Martin Otto), is musiek letterlik sy lewe. Hy is al sedert hy sewentienjaar oud is betrokke in die musiekbedryf en sal dit vir niks verruil nie. “Wanneer ek nie op die verhoog of in die ateljee is nie, pols musiek verder deur my hart. Ek is mal oor die rol wat musiek in ons bisarre bestaan speel. Musiek het die krag om jou te maak of te breek,” sê hy. Daar is vir hom nooit ’n tekort aan inspirasie nie: “Soms hoor ek ’n wysie in my kop en ander kere is dit iets wat iemand gesê het wat my bybly en uitnooi om verder uit te brei. Ek geniet dit ook om saam met ander te werk en wanneer ek en Martin saamsit, kom ons met die beste idees vorendag. Om nuwe en ander instrumente te speel, inspireer my ook.” Cito is tans besig met verskeie ander projekte – waarvan een sy eerste solo-album is  – en doen ook musiekregie en klankontwerp vir korporatiewe of spesiale funksies.

Martin Schofield, stigterslid, hoofkitaarspeler, liedjieskrywer en sanger, is in Brittanje gebore en in Afrika grootgemaak. Hy het ’n voorliefde vir honde, kitare, reis, tattoes, spek en vyftigskultuur. Die kunstenaar werk al in die musiekbedryf vandat hy sestien is en het ’n lang lys van loopbaansuksesse op sy kerfstok, maar sonder “om WONDERboom saam met my broers te begin en my rekeninge met musiek te betaal”, as sy persoonlike hoogtepunte uit. Billy Duffy, John Squire, John Fruciante en Brian Setzer het almal ’n invloed gehad op sy eie musiekstyl en hy is tans besig om aan verskeie ander projekte saam met Cito te werk. Hy doen ook ateljee-/sessie-werk en verkoop vintage– en tweedehandse musiekinstrumente.

Baskitaarspeler, Wade Williams, is al van die begin af deel van die groep. Hy is al van kleins af versot op musiek en, alhoewel sy eie styl neig na die van Red Hot Chili Peppers se Flea, was dit George Michael se spesiale kombinasie van produksie en emosie wat Wade geïnspireer het. Dit is vir hom ’n groot voorreg om te kan optree. “Daar is min dinge wat so lekker is as om tydens ’n optrede ’n verbintenis te voel met jou groep en die gehoor. Dis die oomblikke waarvoor ek leef!”

Dromspeler, Jonathan Bell – wat ook ’n gekwalifiseerde prokureur is – het in ’n musikale huis grootgeword en wou al dromme speel vir solank as wat hy kan onthou. Hy het op die ouderdom van twaalf begin en het nog nooit opgehou nie. Die musikant het ’n wye musieksmaak, wat strek van die Beatles tot Elton John en alles tussen-in. Alhoewel hy hulle 2014-konsert voor ’n reuse gehoor by Oppikoppi en om goud te wen by die Silk Road Indie-musiekfees in China as loopbaanhoogtepunte uitsonder, glo hy dat die beste nog voorlê.

WONDERboom is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se grootste musieksuksesverhale, en hulle nuutste projekte – van Praying Mantis tot The Best Side Story Tour – bou voort op die stewige fondasie wat hierdie plaaslike rock-legendes reeds vir hulself gevestig het.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @WONDERboomBand

Instagram: @wonderboomband

SoundCloud

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Apple Music presents an exclusive playlist of “101 Songs That Never Get Old”!

Karen Zoid’s talent and passion for music has made her one of the top musicians in …

Sky Ocean ontbloot haar siel met nuwe enkelsnit!

Sky Ocean het een van daardie stemme wat jou in jou spore laat vassteek wanneer …