Wat van Afrikaans is vir jou #onmisbaar?

176

Sewe miljoen Suid-Afrikaners praat en lééf Afrikaans – ‘n taal wat op eie bodem tot stand gekom het – eiegoed wat gegroei en ontwikkel het tot ‘n akademiese taal waardeur sprekers internasionaal presteer en plaaslik floreer.

Afrikaans.com kan nie ‘n Suid-Afrika sonder dié taal indink nie, daarom beskou ons Afrikaans as #onmisbaar en beklemtoon ons die belangrikheid van die taal en sy sprekers in ons nuwe advertensieveldtog.

Oor die volgende aantal maande kan jy uitsien na ‘n interessante veldtog wat ondersteun word met feitelike inligting op Afrikaans.com en in die media oor die waarde van Afrikaans t.o.v. onderrig, kultuur en die ekonomiese bydrae.

Die nuwe reklameveldtog van Afrikaans.com beoog om:

  • Suid-Afrikaners opnuut bewus te maak van die waarde en nut van Afrikaans vir verskillende mense, sektore, ekosisteme en hulself.
  • Bewustheid te skep van die impak van Afrikaans met spesifieke fokus op moedertaalonderrig, sy sprekers se leefwêreld, die uniekheid van die kultuurlewe en die prestasie en selfwaarde van die sprekers van die taal.
  • Die publiek aan te moedig om Afrikaans nie net te verken en te vier nie, maar om ook eienaarskap te neem en dit op te pas!

Die veldtog

Die eerste suksesvolle veldtog van www.afrikaans.com het die publiek bewus gemaak van die kleurvolheid en diversiteit van die Afrikaanse landskap met betrekking tot die unieke manier waarop die taal gepraat en geleef word. Die tweede veldtog, wat eersdaags op buitelugborde, gedrukte media en die radio is, kommunikeer op ‘n ernstiger noot die effek wat dit sal hê as Afrikaans nie meer so toeganklik en bekombaar is soos wat dit tans is nie. Die advertensieveldtog doen ‘n beroep op digitale deelname deur mense uit te nooi om met die hutsmerk #onmisbaar te vertel waarom Afrikaans binne sy/haar konteks en ervaringswêreld onmisbaar is.

Pas dit op …

Sê Milanie Vosloo, projekbestuurder: Veldtog Afrikaans: “Soos met die eerste veldtog: Hoe lyk jou Afrikaans?, moedig ons mense aan om na te dink: ‘Wat sal ek mis en verloor as Afrikaans nie meer daar is nie? Wat sal gebeur as my kinders nie meer Afrikaanse onderrig ontvang nie? Wat kan ék doen om die taal te koester?”

Afrikaans ís onmisbaar! Veldtog #onmisbaar is ‘n belangrike bousteen in die bewustheid daarvan.

Kyk gerus na die volgende lusmakers oor die onmisbaarheid van Afrikaans:


Lees meer hier.

* Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments