Donderdag , November 22 2018
Home / Movies / Ware verhaal oor gewaagde kunsrooftog kry lewe op die grootskerm!

Ware verhaal oor gewaagde kunsrooftog kry lewe op die grootskerm!

Byna elke jongmens beland een keer in sy of haar lewe behoorlik in die sop… maar wat as die sopbeker per ongeluk oorloop omdat jy jou hand oorspeel het..?

AMERICAN ANIMALS is ’n spanningsvolle en merkwaardige rolprent oor twee universiteitsvriende, Warren Lipka (Evan Peters) en Spencer Reinhard (Barry Koeghan) wat so moeg is vir die eentonigheid van hulle alledaagse bestaan, dat hulle desperaat raak vir ’n bietjie opwinding en besluit om dit vir hulleself te skep deur een van die mees gewaagde kunsboekrooftogte in Amerikaanse geskiedenis uit te voer by die Universiteit van Transylvania in Lexington, Kentucky in 2004. Omdat hulle dit nie alleen kan doen nie, oortuig hulle twee ander vriende, Eric Borsuk (Jared Abrahamson) en Chas Allen (Blake Jenner), om saam met hulle geskiedkundige kunsboeke ter waarde van $10-miljoen te probeer steel, wat almal op die ou einde in die tronk laat beland!

AMERICAN ANIMALS is ’n fassinerende misdaadstorie, wat kykers sal boei as gevolg van die briljante formaat waarin dit aangebied word,”Movie Web se Julian Roman.

Dié ware verhaal, wat jou van die begin af boei en op die punt van jou stoel hou, is bekendgestel by die Sundance-rolprentfees wat in Januarie 2018 plaasgevind het. Wat dit so besonders maak, is dat die Britse regisseur (wat ook sy debuut maak as narratiewe speelfilmregisseur) en draaiboekskrywer, Bart Layton, dit vertel deur middel van ’n kombinasie van fiktiewe narratief en regte dokumentêrstyl-insetsels vanuit die oogpunt van die betrokke partye, wat dit baie duidelik maak dat alles nie so eenvoudig is soos wat dit mag lyk nie.

AMERICAN ANIMALS kry dit reg om heelwat swaar temas aan te spreek, sonder om die karaktereienskappe van ’n spanningsvolle misdaadriller prys te gee,” meen die rolprentresensiewebblad, Rotten Tomatoes, wat die fliek met ’n 85%-gradering beloon het.

Volgens Layton, wat bekendheid verwerf het vir misdaaddokumentêr, The Imposter (2012), waarvoor hy ’n BAFTA-toekenning gewen het, het hy dadelik geweet dat hierdie misdaadverhaal die potensiaal het om ’n goeie fliek te wees. Soos wat hy meer oor die saak gelees het, het hy besef dat daar iets vreemd daaragter moes skuil, omdat dit duidelik is dat die vier nooit hierdie misdaad suksesvol sou kon deurvoer nie. “Ek het besluit om met die regte persone kontak te maak omdat ek wou uitvind hoekom vier intelligente ouens, uit goeie huise, in die eerste plek met so iets sou wou voortgaan,” verklap hy. “Elkeen het ’n ander rede gegee vir hoekom hulle betrokke geraak het en omdat daar ’n algemene gevoel was dat hulle geen merkwaardige lewenservaringe gehad het nie, het hulle besluit om een te beplan deur misdaadflieks te kyk en op die internet navorsing te doen. Met tyd het dit al hoe moeiliker geword om afstand te doen van hierdie fantasie wat geskep is.” Vervaardigers Dimitri Doganis (The Imposter), Katherine Butler (Kill List), Derrin Schlesinger (Four Lions) en Mary Jane Skalski (Pariah) was ook betrokke by hierdie produksie.

Die fliek spog verder ook met ’n uitstekende rolverdeling en het reeds baie lof ontvang vir uitstekende vertolkings deur die hoofrolspelers. Evan Peters, wat bekend is vir die karakter Quicksilver in die X-Men-filmreeks, vertolk die rol van die voorbok, Warren Lipka, in hierdie aksiebelaaide misdaadverhaal, terwyl Barry Koeghan (The Killing of a Sacred Deer) die rol van die kunstige middelklasstudent, Spencer Reinhard, speel. Die voormalige bokser, Jared Abrahamson (Travellers), en Blake Jenner (The Edge of Seventeen) is, onderskeidelik, te sien as Eric Borsuk en fiksheidsfanatikus, Chas Allen.

Alhoewel die film jou plek-plek laat voel asof jy besig is om na ’n toneel uit die Ocean’s-fliekreeks te kyk, besef jy baie gou dat dit oor meer gaan as wat jy op die oppervlak sien. “Die rolprent vat ’n scenario wat voorkom soos ’n universiteitsgrap wat skeefgeloop het en omskep dit in ’n moderne tragedie, wat die donker dieptes van ’n unieke Amerikaanse eksistensiële krisis ondersoek. Dit vra ook die ongemaklike vraag hoe van hoe ver iemand, wat alles verniet gekry het, sal gaan om iets te voel,” skryf Katie Walsh van die vermaakwebblad, SouthFlorida.com.

AMERICAN ANIMALS beloof om kykers in te trek in ’n boeiende spanningsavontuur, wat die lyne tussen fantasie en realiteit aspris laat vervaag om insae te gee in die gemoedstoestand van die jongmense wie se lewens onherroeplik verander is deur ’n ondeurdenkte daad. Wanneer jy die bioskoop verlaat, sal dit wees met gemengde gevoelens… omdat ’n deel van jou sal worstel met die gedagte of die straf regtig gepas was vir die misdaad en of die bietjie opwinding regtig die prys werd was.

“Ten spyte van die swaar subteks, bly AMERICAN ANIMALS ’n opwindende, slimvervaardigde misdaadprent wat kykers sal vermaak, van begin tot einde. Dit beklemtoon ook die eerste reël van ’n suksesvolle rooftog: maak seker dat wanneer jy iets steel, jy sterk genoeg is om dit te dra,” voeg The Seattle Times se J.R. Kinnard by.

Die fliek word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd vrygestel word op 6 Julie 2018.

LEES NOG RESENSIES

New City Film

Charlie Juhl

Seattle Weekly

Paste Magazine

Slash Films

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook

Instagram: @ameranimals

Twitter: @AmerAnimals

Webblad

Hutsmerk: #AmericanAnimals

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

The Forgiven vanaf hierdie naweek in uitgesoeke teaters!

Die langverwagte rolprent, THE FORGIVEN, gaan oor Aartsbiskop Desmond Tutu se werk as die hoof …

Nuwe John Travolta fliek in teaters die naweek!

Die fliek waarin John Travolta lewe gee aan een van die mees berugte bendelede sedert …