Sondag , Desember 16 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Vuurwarm! Nuwe mannekwartet maak hulle buiging!

Vuurwarm! Nuwe mannekwartet maak hulle buiging!

Die splinternuwe en witwarm mannekwartet, Serenade, wat by Krone 5 hulle eerste amptelike buiging gemaak het se debuutalbum, “Bly lief vir my” is uiteindelik hier en musiekliefhebbers is in vir ‘n reuse bederf!

Dié vier manne – Mynhardt, Juandre, Dawie en Fredric – bring ‘n aansteeklike vermenging van oorwegend klassieke stemme en -instrumente, met sterk pop- en selfs technoklanke na die Suid-Afrikaanse musiektoneel – die tipe vuur wat radiogolwe en verhoë regoor die land aan die brand sal sing.

Die veertien snit album is saamgestel uit keurige verwerkings van bekende gunstelinge, sowel as kraakvars nuutskeppings,
wat almal die ryke harmonie van hierdie viertal ten toon stel – van barritongeure tot swewende, amper ondenkbaar hoë note;
van delikate en minimalistiese oomblikke tot kragtige, volkleur-boekette van klank.

Nuwe werke sluit die titelsnit, sowel as snitte soos “Hier is my siel”, “Picasso”, “As die waarheid vir my skree”, “Met nuwe oë” en “Somer serenade” in, terwyl dekweergawes van onder andere Michael Bolton se “Go the distance”, Jo Black se “Bring die hoop weer terug”, Bryan Adams, Rod Stewart en Sting se “All for love” en Kurt Darren se “Hemel op Tafelberg” in fluweelagtige harmonie tussen die album se omslae pronk.

Serenade en sensasionele veertien-jarige sopraan, Erin Beck, se weergawe van Freddie Mercury en Montserrat se treffer,
“Barcelona”, staan veral uit as ‘n viering van Suid-Afrika se ryke musiekskat – iets wat diegene wat daarna luister van kop tot tone hoendervleis sal laat kry!

Die vier is dit eens oor wat hierdie album vir hulle beteken: “Ons is geseënd, bevoorreg en ver verby woorde trots om hier te kan wees”, sê hulle, “Select se talentsoektog om hierdie groep te vorm het ons vanuit baie uiteenlopende lewensrigtings bymekaar gebring en gelei tot by ‘n finale produk waaroor ons baie opgewonde is. Ons vertrou dat dié musiek ver en wyd geniet sal word!”

“Bly lief vir my” is binnekort landswyd beskikbaar.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

4 Werke – Suid-Afrika se gunsteling gemengde viertal is terug!

4 Werke – Suid-Afrika se gunsteling gemengde viertal – is gerat vir selfs groter sukses …

‘n Nuwe album en toer vir Jannie du Toit!

Afrikaanse musieklegende, Jannie du Toit, is een van die min kunstenaars wat die toets van …