Visuele kuns by KKNK 2018 – Krap waar dit jeuk!

149

Die visuele kunsprogram by vanjaar se KKNK, wat van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April op Oudtshoorn aangebied word, is saamgestel deur nuwe visuele kunskurator, Lucia Boer.

Boer sê alhoewel die spreekwoord lui, “moenie krap waar dit nie jeuk nie”, het kuns presies die teenoorgestelde uitwerking. “Hoe meer jy daarvan sien, hoe meer wil jy daarvan weet. Dit laat jou werklik krap waar dit jeuk. Enige kunsversamelaar sal vir jou sê as daardie gogga gebyt het, is daar geen omdraaikans nie,” vertel sy.

Volgens Boer fokus vanjaar se visuele kunste op drukwerk as ’n kunsmedium. “Die ‘krap’ in die tema verwys ook na die tegniek wat in drukkuns gebruik word vir die kunstenaar om uiteindelik die werk te skep. Omdat daar ’n oplaag van ’n kunswerk gedruk word, is dié werk meer bekostigbaar vir intreevlak-kunskopers, maar dit is ook ’n medium wat groot byval vind by kunsversamelaars,” meen sy. Drukwerk-werksessies en kunsgesprekke by die fees gaan meer lig werp op dié besondere kunsmedium.

“Vanjaar se feesuitstalling is ’n besondere gekombineerde uitstalling deur ’n pa en seun, Johannes en Collen Maswanganyi – albei uitstaande Suid-Afrikaanse beeldhouers in eie reg. Collen is vanjaar die ontvanger van die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys,” vertel Boer. Hulle gesamentlike uitstalling, getiteld Dance and Carve with My Father, vertel met houtbeelde stories – sekeres spruit uit politiek, terwyl ander alledaagse gebeure uitbeeld.

Drie solo-uitstallings word aangebied, waaronder Architectus Konstruksie waar Chrisel van der Merwe eksperimenteer met drukwerk deur plate op verskillende bouterreine te laat, sodat dit deur die konstruksieproses beskadig word, met ’n merkwaardige en verrassende resultaat. “Ek besoek bouterreine en verwerk die plate van boormasjinerie of los dit daar vir die bouers om daarmee te maak soos hulle wil. Die metaalplate is gebruik vir die skepping van drukkuns en word self uitgebeeld op verweerde sement-beeldkuns,” vertel sy.

Equals & Averages, werke op papier deur Nadja Daehnke, fokus op wat was en wat sal wees, met die hede wat deurgaans verskuif word. In Re-acclimate skep Jürgen Dünhofen installasies met lense van teleskope, mikroskope en vergrootglase op hout-driepote om geprojekteerde landskappe wasig te maak, of om beelde af te breek.

Groepuitstallings wat fokus op drukwerk is onder meer dié van die Artist Proof Studio – Invest in the best, wat al die afgelope 27 jaar kunstenaars in drukkuns oplei, wat werk van jong en gevestigde kunstenaars uitstal. Die Walter Battiss Company stel outentieke kopieë van oorspronklike kunswerke van die meestersydrukkunstenaar, Walter Battiss aan feesgangers beskikbaar. Ander groepuitstallings op die program is Age of Innocence onder kuratorskap van Nadja Daehnke; The Creative Block onder kuratorskap van Tamlin Blake en bestuur deur die Spier Arts Trust; True Self: Open Dialogues onder kuratorskap van Tlotlo Lobelo; Selected works, onder kuratorskap van Stephan Erasmus waar ’n versameling van kunswerke deur ’n verskeidenheid jong en gevestigde kunstenaars uitgestal word en Vuurdans onder kuratorskap van Elfriede Dreyer. Dié uitstalling fokus op die vernietigende brande wat in Junie 2017 in die Tuinroete gewoed het.

Aspire Art Auctions hou deur die loop van die fees aanlyn kunsveilings waar feesgangers op kunswerke kan bie. Kunsliefhebbers kan ook hier hul kunswerke gratis laat waardeer. Iwasshot in Joburg is die uitvloeisel van ’n gemeenskapsprojek wat straatkinders oplei in die kuns van fotografie. Daar is ’n fotohokkie by die uitstalling waar feesgangers hul foto’s kan laat neem, en fotograwe wat op die terrein foto’s neem, bied dié foto’s te koop by die Prince Vintcent-gebou aan.

Met Maakit Mooi vaar Absa L’Atelier-kunstenaars, onder leiding van dr. Paul Bayliss, in Oudtshoorn in om permanente funksionele werke te installeer. Absa gee met dié inisiatief erkenning aan die dorp vir die rol wat dit in die ontwikkeling van die kunste speel. Hierdie kunswerke kan daagliks as deel van ’n rondleiding met dr. Bayliss besoek word. Hierdie rondleidings vertrek vanaf die Absa Rooiplein in die Kuierbuurt.

Boer tree ook daagliks om 11:00 by die Prince Vintcent-gebou in gesprek met die kunstenaars wat by die fees uitstal. Elke gesprek fokus op ’n ander kunstenaar en die relevante temas van hul werk word bespreek. Hierdie rondleidings word gratis aangebied.

Al dié kunsuitstallings kan daagliks tussen 09:00 en 17:00 gratis by die Prince Vintcent-gebou besoek word. Op 2 en 4 April open die uitstallings om 10:00. ’n Opwindende toevoeging tot die visuele kunsruimtes, is een van die dramaproduksies, Ons is almal freaks hier, deur Ingrid Winterbach met Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius, Kay Smith en Garth Erasmus, wat spesifiek in die ruimte tussen die kunsuitstallings gesien kan word.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Advertensie