Dinsdag , November 19 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Verona stel eerste enkelsnit vry sedert deelname aan the The Voice SA

Verona stel eerste enkelsnit vry sedert deelname aan the The Voice SA

“Jy’s my dag, jy’s my nag. Jy’s die rede dat ek leef. Jy’s my asem, my krag. Jy’s die een wat my laat val of sweef en ek kry net nooit genoeg nie…” is van die hoendervleismooi lirieke uit Suid-Afrika se gunsteling-omroeper, -televisieaanbieder, -joernalis en -realiteitsprogramster, Verona, se splinternuwe enkelsnit wat pas uitgereik is.

VERLOOR MYSELF IN JOU is ’n pragtige liefdesliedjie wat gaan oor daardie wonderlike gevoel in jou hart wanneer jy verlief en verlore is en ook oor hoe spesiaal dit is wanneer jy ontdek dat dit ware liefde is. “Elke persoon in hierdie wêreld verdien dit om gelukkig te wees en ten minste een keer halsoorkop verlief te wees. Al is dit hoe soetsappig en al mag dit dalk lei tot ’n gebroke hart,” verklap die sangeres, wat self onlangs verloof geraak het aan haar sielsgenoot. “Hierdie liedjie kan jy gerus opdra aan daardie een spesiale persoon in jou lewe. Ek hoop dit gee paartjies daardie woorde wat hulle nie altyd het nie, maar graag wil sê.”

Volgens die kunstenaar, was albei haar vorige enkelsnitte meer motiverend van aard en het sy besluit dat die tyd ryp is om ’n opbeurende liefdessnit met luisteraars te deel en die reaksie was sover baie positief.

VERLOOR MYSELF IN JOU vorm ook deel van haar debuut-album, Maskers, wat in Junie 2018 uitgereik is. Die bemarking daarvan moes egter eers vir ’n ruk op ys gesit word toe Verona deurgedring het na die uitkloprondtes van die realiteitsreeks, The Voice SA, nadat sy die beoordelaars beïndruk het met haar hartroerende weergawe van Avril Lavigne se Head Above Water tydens die blindeoudisies.

“The Voice SA was ʼn ongelooflike ervaring. Al het ek net tot by die uitkloprondtes gevorder, het dit my lewe totaal en al verryk. Ek het so baie geleer, lewenslange vriende gemaak en my kennis oor die musiekbedryf verbreed,” sê sy. “Ek hou daarvan om nuwe uitdagings aan te pak en uit my gemaksone te klim. As jy dit nie gereeld doen nie, groei jy nie. So nou pak ons die volgende fase volstoom aan.”

Haar eerste album spog met ’n versameling van elf kragtige kontemporêre liedjies, waarmee sy nie net haar siel ontbloot nie, maar ook haar ongelooflike sangtalent met die wêreld deel. ’n Verskeidenheid temas, soos om voluit te leef, kanse te waag, vir jouself op te staan, liefde en verlies, word aangespreek en gehore van alle ouderdomme sal daarby aanklank vind. Die titelsnit het die publiek onmiddellik gaande gehad. Dit het nie net die nommer een posisie op die Top 20-treffersparades van twee radiostasies bereik nie, maar kry ook steeds gereelde speeltyd ergoor die land.

Verona, wat in Meyerton woon, was vier die eerste keer toe haar talent ontdek is. Haar tannie sou haar by die skool kom optel en dan sou die twee uit volle bors sing op pad huis toe. Later is haar ma aangesê om haar vir sanglesse te stuur. Op 8-jarige ouderdom het Heidi Schoeman van die Ateljee van Uitvoerende Kunste haar ingeneem en het sy haar eerste liedjie by die Vereeniging Kunstefees opgevoer waarvoor sy ’n A++ gekry het. Gedurende haar skoolloopbaan het sy gereeld aand Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Concert Certificate voltooi. Vir vier jaar was sy deel van die Suid-Gautengse Jeugkoor, Colla Vocé. Sy het so ’n bietjie musiekteorie gedoen, speel klavier en kitaar en probeer altyd nuwe uitdagings aanpak soos om die ukulele te bemeester.

Na skool het sy eers besluit om haar sangloopbaan opsy te skuif om te gaan studeer. By die Noord-Wes Universiteit se Vaaldriehoekkampus het sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi. Gedurende hierdie tyd het sy die kans gekry om vir wyle die karakter, Brionay, in 7de Laan te vertolk en was ook naaswenner van die realiteitsreeks op kykNET, Jy is my liefling. Sy en haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was ook die vervaardigers en aanbieders van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het. Vir ʼn jaar lank het sy ook as omroeper by 90.6 FM Stereo, die Vaaldriehoek se plaaslike radiostasie, as mede-aanbieder van die ontbytprogram gewerk. As sy nie sing nie, is sy ook ’n knap joernalis en ’n sosialemediaspesialis.

Laurika Rauch, Amanda Strydom, Anneli van Rooyen, Koos Kombuis en Anton Goosen is van die musikante wat van kleins af ’n invloed gehad het op haar musiekstyl. Sy het ook groot waardering vir internasionale sterre soos Adele, Nora Jones, Katie Melua, Florence and the Machine, Alanis Morisette, Ellie Golding, Rachel Platten, Annie Lennox, Etta James, Ella Fitsgerald en Roberta Flack se musiek. Die bedryf het haar geleer dat niks verniet kom nie en dat jy hard moet werk om jou drome te bereik.

VERLOOR MYSELF IN JOU is beslis ’n moet vir elkeen wat mal is oor liefdesballades. Dié treffer se opgewekte tempo komplementeer nie net die deernisvolle boodskap wat dit dra nie, maar stel ook Verona se sterk stem perfek ten toon. Dit is die perfekte manier om die volgende fase van haar loopbaan af te skop en aanhangers sien uit om nog baie meer van hierdie talentvolle musikant te hoor.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Twitter: @verona_vertel
Instagram: @verona_vertel

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Kyle Grant: Grown-Up Christmas list se musiekvideo is hier!

Die uiters gewilde en talentvolle, Kyle Grant, het onlangs sy enkelsnit, GROWN-UP CHRISTMAS LIST, vrygestel. …

Jauni M stel nuwe enkelsnit bekend!

Jauni M het gedurende Junie 2019 haar debuut-album,  NIEMAND ANDERS, uitgereik en daarmee bewys dat sy …