Saterdag , September 22 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Veldtog Afrikaans se nuutste veldtog is hier!

Veldtog Afrikaans se nuutste veldtog is hier!

Afrikaans is #onmisbaar – dink na oor die waarde van JOU taal

Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy emosioneel tuis voel en getuig van jou kulturele hartklop. In die jongste reklameveldtog plaas Veldtog Afrikaans (wat die mooi, lekker, egtheid en eiesoortigheid van Afrikaans vier en uitbou) die kollig op dit wat Afrikaans vir al sy sprekers onmisbaar maak. Daardie eienskappe van my taal wat dit vir my moontlik maak om my gedagtes te verwoord, om konsepte te verstaan sodat ek dit kan toepas, wat my deel maak van ‘n spesifieke taalgemeenskap.

Afrikaans behoort aan elke Afrikaanssprekende en juis vanweë die diverse samestelling van die mense van hierdie land, is hierdie taal ‘n skatkis van kulture, variante en dialekte. Wat duidelik is uit die deelname van die vorige veldtogte, is dat mense al hoe meer bewus word van die waarde van hul taal.

Die gee net ’n kykie agter die skerms op van die mense wat deel is van die veldtog en wat in die reklameveldtog gebruik word en is geneem tydens die opnames. Hulle is: Johan Jack Smith (redakteur Taalgenoot), Marlene le Roux (uitvoerende hoof, Kunstekaap), Sinki Mlambo (ambassadeur vir Afrikaans), Mia de Villiers (leerder), Heindrich Wyngaard (joernalis, skrywer) en Sandra Prinsloo (ikoon & aktrise).

Jy is teen die tyd reeds bewus van Afrikaans.com en die mediaveldtogte om Afrikaans te bevorder soos “Hoe lyk JOU Afrikaans? en “Waarom is Afrikaans vir jou #onmisbaar?”

Met Veldtog 3 bou ons voort op die #onmisbaar-tema, maar ons vra nou meer spesifiek dat mense sal nadink oor die WAARDE van die taal vir hulle. Milanie Vosloo, projekbestuurder, Veldtog Afrikaans sê: “Hierdie kontemporêre veldtog sal jou opnuut opgewonde oor en trots op jou taal maak. Nege mense uit alle vlakke, beroepe en kulture vertel hoe taal aan hulle identiteit gee, wat die waarde van Afrikaans vir hulle is en hoe hulle hierdie besondere taal geniet. Hulle verwys veral na die opvoedkundige, ekonomiese en kulturele waarde van Afrikaans. Soos reeds uit ons vorige veldtogte duidelik was, is taal meer as die woorde wat ons praat. Dis ons wortels én ons vlerke: daarom onlosmaaklik deel van ons identiteit.”


Neem deel en gee JOU taal ‘n stem

Oor die volgende paar weke sal jy op sosiale media en in die breër media hoor en sien hoe Afrikaans se ambassadeurs en beskermhere en -vroue daad by die woord voeg en hierdie vraag beantwoord.

Ons nooi jou en jou lesers/luisteraars om op ons sosiale media-platforms (Facebook/Instagram) met die hutsmerk #onmisbaar deel te neem en vir ons te vertel: “Wat maak JOU taal vir JOU spesiaal?” So, neem deel en gee JOU taal die stem wat dit verdien!

Op Afrikaans.com (www.afrikaans.com) verken ons die Afrikaanse taalhutspot waar ons die lig sal laat val op die groot verskeidenheid binne ons vriendelike, hartlike taalfamilie – van Griekwa-Afrikaans tot Kaaps, skryf en -streektaal … ook praattaal. Hier kan jy die oorsprong en die wye landskap van Afrikaans leer ken en ontdek. Verryk jouself op Afrikaans.com waar jy jou kennis oor jou taal kan uitbrei.

Meer oor Veldtog Afrikaans*

Die veldtog is gebou op vier pilare:

Die webtuiste, www.afrikaans.com – waar die publiek alles oor die Afrikaanse leefwêreld kan vind.
Die bewusmaking van Afrikaanse organisasies en die uitlig van positiewe Afrikaanse projekte deur groter samewerking en koördinering.
Die uitbou van Afrikaanse gemeenskappe op sosiale media, deur ons ambassadeursnetwerk en ons muurprojekte waar ons mure by skole verf om kinders in Afrikaans te inspireer om trots te wees op wie en wat hulle is.
Mediaveldtogte – om die publiek net weer bewus te maak van die waarde, nut en lekkerte van die taal.
* Veldtog Afrikaans is ‘n inisiatief van Dagbreek Trust wat jare gelede in die lewe geroep is om Afrikaans te ondersteun en te bevorder. Veldtog Afrikaans bring reeds sedert 2015 die waarde van die taal onder ons aandag.

Luister na die radio advertensie hier:

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

DIE GELOFTE vir die eerste keer in Afrikaans!

Johan Vorster en Christoph Kotzé het kragte saamgesnoer en DIE GELOFTE vir die eerste keer …

Adam Tas se nuwe album is hier!

Adam Tas se growwe rasperstem en emosiebelaaide lirieke, het van dag een af diep kom …