VASELINETJIE – Stampvol teaters, reeds oor R1 miljoen by loket!

160

Vaselinetjie’, die film gebaseer op Anoeschka von Meck se bekroonde jeugroman, is op Vrydag 22 September in teaters landswyd vrygestel en het reeds meer as R1 mijoen by die loket verdien en is deur meer as 23 000 mense gesien. Boonop aangewys as die ‘Beste Film‘ by die kykNET Silwerskermfees 2017, is resensente vol lof oor hierdie moet-sien film.

Vaselinetjie, ’n wit dogtertjie, word deur haar liefdevolle bruin grootouers op ’n afgeleë dorpie in die Noord-Kaap grootgemaak. Wanneer die welsyn egter uitvind dat Vaselinetjie nie die egpaar se biologiese kleinkind is nie, word Vaselinetjie na ’n staatsweeshuis in Johannesburg gestuur. Daar moet sy aanpas in ‘n rowwe kinderhuiswêreld en raak verlief op die vurige Texan Kirby.

Die regisseur Corné van Rooyen sê: “Ek is uit die veld geslaan deur die groot kykersgetalle. Plekke soos die Paarl en Garden Route was heelnaweek uitverkoop. Boonop is ek dankbaar vir die pragtige verering onder resensente.”

Verskeie mediabronne het sedert die film se vrystelling ‘Vaselinetjie’ se lof besing:

“A story that will give viewers hope.” – Jamal-Dean Grootboom, The Tonight, The Star.

“Vaselinetjie sal jou kwalik onaangeraak raak as dit ’n eerste ontmoeting is. As jy haar reeds ken, bied die prent ’n bykomende skakering van kosbare waarde.” – Laetitia Pople, Die Burger | 4/5 Sterre

“’n Uitstekende Afrikaanse rolprent.” – Leon van Nierop, Rapport | 4/5 Sterre

“Vaselinetjie het al die onderdele wat ’n besonderse film opmaak.” – Reney Warrington, LitNet | 4/5 Sterre

“Dié storie se leisels is stewig vasgegryp om ’n kykervaring te skep wat fliekgangers vir lank sal bybly.” – Dee Theart, Bioskoop | 4/5 Sterre

Nicole Bond en Marguerite van Eeden maak hul silwerskermdebute onderskeidelik as die jong en ouer Vaselinetjie Bosman. Die rolverdeling sluit ook in Arno Greeff, Elzet Nel, Elani Dekker, Marise Loots, Anchen du Plessis, Daniah de Villies en veteraanakteurs Royston Stoffels en Shaleen Surtie-Richards.

Vaselinetjie’, ’n film deur The Film Factory in samewerking met Red Letter Day Pictures, is vervaardig deur Danie Bester en Saskia Schiel, versprei deur Ster Kinekor Entertainment en is NOU in teaters landswyd te sien.

VASELINETJIE

Facebook

Webwerf

Instagram

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments