Woensdag , Augustus 15 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Tyd word gevier in nuwe SAARKIE-musiekvideo!

Tyd word gevier in nuwe SAARKIE-musiekvideo!

Die konsep van die video is deur Girl with Hat Productions, wat bestaan uit André Oosthuizen (mede-regisseur, redigeerder en kameraman), Mjön van Blommestein (mede-regisseur) en kameraman, Thabi Modotuane, uitgedink en is in die groep se “Saarkie-huis” verfilm. Die verloop van tyd word aangedui deur die groeplede se klere wat verander, terwyl hulle steeds besig is om op presies dieselfde plek aan hulle musiek te skaaf.

LANGPAD, die tweede enkelsnitvrystelling vanaf hulle Ghoema-bekroonde album (Beste Rock-Album), Queen van die Toorbos, is vroeër vanjaar uitgereik en baie goed deur die publiek ontvang. Dié pop-rocksnit beklee tans die nommer een posisie op LEKKER FM se Top 40-treffersparade en gaan oor die pad wat jy moet stap om te kom waar jy is. “Niemand wil alleen deur die lewe gaan nie. Wanneer jy iemand langs jou het, wat die lewenspad saam met jou kan stap, gee dit jou rustigheid. Vriende en familie speel ook ’n rol om die langpad korter te maak!”, sê die meisies. LANGPAD is deur Adèle en Mjön geskryf toe hulle op pad terug was van ’n ooievaarspartytjie en hulle iets moes doen om wakker te bly en veilig by die huis te kom na die ver pad wat hulle moes ry. “Die liedjie is gewild onder aanhangers, wat reeds saam sing en dans, en het ’n tema waarmee almal kan vereenselwig omdat ons elkeen iemand het wat saam met ons ’n pad stap.”

Hulle nuutste treffer volg in die suksesvolle voetspore van hulle vorige vrystelling, Vir Altyd, wat vir sewe weke bo-aan LEKKER FM se Top 40 gekuier het en ook vir tien weke deel was van Bosveld Stereo se Top 20. Die musiekvideo, wat uit beeldmateriaal bestaan wat regoor die land geskiet is, is reeds deur meer as 10 000 kykers op YouTube gesien.

SAARKIE, wat bestaan uit Adèle Fouché (kitaar- en mondfluitjiespeler, voorsanger en liedjieskrywer), Lila Botha (dromspeler en agtergrondstem) en Mjön van Blommestein (baskitaar-, ukulele- en mondfluitjiespeler, agtergrondstem, en mede-liedjieskrywer) vier vanjaar hulle negende bestaansjaar en word beskou as een van die mees suksesvolle rockgroepe in die land. Die Saarkies het bekendheid verwerf vir hulle energieke elektries-akoestiese styl en is oor die jare vir verskeie Ghoema- en SAMA-musiektoekennings benoem, waaronder Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo en Groep van die Jaar. Sedert die groep se ontstaan, het hulle al hul stempel afgedruk by al die grootste Suid-Afrikaanse muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, STRAB, Mieliepop en Innibos en ook die verhoog gedeel met van die land se bekendstes soos Karen Zoid, Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf, Steve Hofmeyr, Kurt Darren, The Parlotones, Cindy Alter (Clout), Ballyhoo en vele ander. Hulle het ook al in vooraanstaande publikasies, waaronder Beeld, Vrouekeur, Huisgenoot, Kampus Beeld, Die Burger, Die Laevelder, ensovoorts, verskyn en was al te sien op verskeie televisieprogramme soos: Dis Hoe Dit Is Met Steve, MK Live, Fiesta, Expresso, Jou Show met Emo Adams, kykNET Top 20, kykNET JAM, Lekker TV, Jam Sandwich, CNBC Africa, Skole Top 10, Bravo en ook as gasaanbieders op Fiesta.

LANGPAD is net weereens ’n bewys van SAARKIE se vermoë om deur middel van hulle kopskudlekker rockmusiek ’n kragtige boodskap oor te dra wat direk met die hart praat. Die video is simbolies van die groep se vooruitgang en is maar net ’n voorsmakie van die opwindende dinge wat hulle vir die toekoms beplan!

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @SaarkieBand

Instagram: @saarkieband

Webblad

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Martin Bester wil net wees wie hy is, sonder toestemming!

Net wanneer jy dink dat Martin Bester jou nie nog meer kan beïndruk nie, verras …

Leon Gropp stel nuwe musiekivdeo op unieke wyse bekend!

Leon Gropp se eerste solo-enkelsnit, BAKENLIG, is reeds ‘n paar weke gelede met groot sukses …