Treffer na Treffer volume 7 – ‘n Dosis van jou gunstellinge!

‘Treffer na Treffer Volume 7’ doen dié reeks se reputasie uitstekend gestand met 35 van die mees gewilde treffers van vandag!
Die album bied meer as 2 ure se pure luistergenot op ‘n dubbel-CD propvol musiek wat ranglyse, dansvloere en kuiervure regoor Suid-Afrika vuurwarm laat brand.
Vir rustige wintersaande is daar lekkerluister-klanke soos dié van Adam Tas met ‘Want jy is boer’, Hennie Jacobs met ‘Dis ‘n land’ en Joshua na die reën met ‘Dat jy myne is’, sowel as die nostalgie van die Krone se ‘Klein bietjie wyn medley’, wat ‘Bicycle sonder ‘n slot’, ‘Kruidjie roer my nie’, ‘Klein Bietjie wyn’, ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’, ‘Pampoen’ en ‘Kyk diep in my oë’ insluit.
Kunstenaars soos Blackbyrd, Adam en Hulle draai die tempo op met ‘n sterk akoestiese ondertoon met snitte soos ‘I feel good today’, ‘Sal oorlog vir jou maak’ en ‘Al wat jy gaan kry’, terwyl Kurt Darren, Ray Dylan, Andriëtte, 4Werke, André Venter en vele ander sal sorg dat jou dansskoene jou nie met rus sal laat voor ‘n behoorlike draai op die dansbaan nie.
Natuurlik is daar ook snitte wat uitgeknip is vir ‘n lekker stadige dans, soos ‘Onvoorwaardelik’ van NRG en ‘Bietjie langer bly’ van Heuning, met kunstenaars soos Snotkop, DJ Ossewa en Vegas aan die keersy van ‘rustig’ met hul aansteeklik-uitspattige treffers ‘Rock my Amadeus’, ‘Briljantjie’ en ‘Beste tyd van my lewe’.
Goue gunstelinge herleef met ‘Sien jou weer’ deur Manie Jackson en Bles Bridges, Don Williams se ‘I believe in you’ deur Ricus Nel en ‘n merkwaardige duet, ‘As ek droom’, deur Carike Keuzenkamp en Nianell, terwyl relatiewe nuwelinge soos Brendan Peyper, Liezel Pieters, Jaun Boucher en Dirk van der Westhuizen hul staal in styl wys met kraakvars nuwe snitte!
Treffer na Treffer Volume 7 is ‘n album met iets vir elkeen – akoestiese-, ligte Afrikaanse-, country-, rock-, techno-pop- en vele ander klanke wat saamsmelt in ‘n diverse fees van musiek. Soos ander albums in dié super-gewilde reeks is dit ‘n móét vir enige versameling!
Die album is nou landswyd beskikbaar.