Treffende enkelsnit geïnspireer deur ’n ware verhaal

81

Chris Else is net drie-en-twintig jaar oud, maar in die vier jaar wat hy al in die musiekbedryf doenig is, het hy diep spore kom trap. Twee albums later, is hy terug met ’n splinternuwe enkelsnit – In Jou Skoene – wat sy strelende rasperstem soos ’n handskoen pas. Hierdie liedjie, uit sy eie pen, het ’n country-aanslag met lirieke wat diep tref en ’n wysie wat lekker is om na te luister.In Jou Skoene is een aand geskryf nadat ek Bobby en Karlien van Jaarsveld se nuwe reeks, In jou Skoene, op televisie gekyk het. In dié spesifieke episode was daar ’n tannie met die naam, Anna, en dit is waaroor hierdie liedjie gaan. Dit beteken vir my baie omdat ek dit self geskryf het en ook omdat dit iemand anders se storie vertel,” deel die sanger. “Ek dink mense gaan daarvan hou omdat dit gaan oor die lewe, die draaie wat dit loop en hoe dit voel om in iemand anders se skoene te wees.” Die enkelsnit sal amptelik bekendgestel word op VIA (kanaal 147) op 5 April 2017.

Chris is in Pretoria gebore, maar het in die Potgietersrus-omgewing grootgeword. Sy pa het gereeld na Neil Diamond, Elvis Presley en Bles Bridges geluister en hy is self ook baie lief vir hulle musiek. Country het ook ’n groot invloed gehad op die styl waarin hy vandag sing. Alhoewel hy geen formele musiekonderrig gehad het nie, is hy ’n knap kitaarspeler en liedjieskrywer wat begin musiekmaak het toe hy veertien was. Sedertdien het hy nog nooit opgegee op sy droom om voltyds sy passie uit te leef nie. “Ander se stories inspireer my en ek wil dit graag deur my musiek vertel. Ek geniet dit vreeslik om nuwe mense te ontmoet en op die pad te wees,” verklap hy.

Die sanger se debuutalbum, Gee My Nog ’n Kans, is twee jaar gelede uitgereik en is baie goed ontvang. Dit is ’n kombinasie van ballades en lekkerluister-musiek, soos Gee My Nog ’n Kans, Struisbaai en Lucas Maree se Droomvrou. Gebreekte Glas, sy tweede album, is ’n vyfsnit-EP wat deur Vaughan Gardiner vervaardig is. Die titelsnit, wat deur Christoff Kotze geskryf is, het koning gekraai op die treffersparades van verskeie radiostasies, waaronder Groot FM se Groot 20. Die CD bevat ook musiek uit die pen van Roux Cloete, asook Chris se verwerkings van gewilde Neil Diamond- en Bruce Springsteen-treffers. Die afgelope vier jaar, was die kunstenaar ’n gereelde gesig by troues, funksie, uitsoekgeleenthede en musiekfeeste, waaronder die Hans Die Skipper Fees in Hermanus, die Wacky Wine Festival in Robertson en die Bonnievale Bonanza. Hy het ook al die verhoog met verskeie bekende kunstenaars, soos Adam Tas, Ray Dylan en Stef Kruger, gedeel en beskou ’n onlangse vertoning by die KKNK as een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

As hy enige ander werk moes kies, sou hy graag wou boer, omdat hy baie plat-op-die-aarde is en die rustigheid van die plaaslewe geniet. Hy hou ook net soveel van die see en is ’n gesoute seehengelaar. “Ek sal graag nog eendag saam met Steve Hofmeyr wil werk, want ek dink hy is ’n goeie kunstenaar. Refentse en Dozi is ook vir my ’n groot inspirasie,” vertel hy. Tans is hy besig om te werk aan ’n nuwe album waaroor hy baie opgewonde is. “Ek wil graag hê dat luisteraars die album moet geniet en na my stories moet luister.”

Die musiekberyf het vir Chris Else geleer om altyd te bly wie hy is. Sy droom is om die harte van mense in Suid-Afrika, en regoor die wêreld, te verower met sy unieke rasperstem, treffende lirieke en eiesoortige aanslag. As In Jou Skoene enige aanduiding is van wat hy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op hom in die musiekwêreld.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Webblad

Facebook

Instagram @chris_else_twee

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments