Thursday , October 22 2020
Cheap domain registration and hosting!

Toorbos Film Reik Oorspronklike Klankbaan Uit Voor Rolprentvrystelling

René van Rooyen se verwerking van die bekroonde skrywer, Dalene Matthee, se topverkoperboek in 2003, TOORBOS, begin op 13 November 2020 landswyd in rolprentteaters draai. Die oorspronklike klankbaan vir hierdie magiese filmondervinding word vandag uitgereik, voor TOORBOS se vrystelling in November. Al die musiek vir die film is geskep deur die komponis Andries Smit van Pressure Cooker Studios in Kaapstad.

René se man, Corné van Rooyen, het Pressure Cooker Studios aanbeveel om die filmklankbaan te behartig aangesien die maatskappy ook die klankbaan vir sy film, Susters, gekomponeer het. Andries sê hy het nie die storie van TOORBOS geken voor dit nie, maar het grootgeword met Dalene Matthee se boeke in sy ouerhuis en onthou met vreugde dat hy Fiela Se Kind gekyk het toe hy jonger was en Kringe In ’n Bos gelees het op hoërskool.

Toe die span begin het om die oorspronklike musiek vir TOORBOS te skep, het hulle nog geen beelde gehad nie, slegs die draaiboek wat hulle kon gebruik om die storie te lees en uit dit hul eie beelde te vorm. Die prag en towerkrag van die bos het gou by hulle die meeste aanklank gevind, asook die uitdagings waardeur die mense in die gesig gestaar is en die krag van Karoliena Kapp om daardie uitdagings te oorkom.

Die span het uiteindelik hul klank en temas vir die film gevind nadat hulle ’n ‘musikale skets en palet’ vir die film geskep het en die reis van TOORBOS met die regisseur, Van Rooyen, bespreek het. Nadat hulle van die beeldmateriaal gesien het, het dinge meer sin begin maak en ’n duideliker prentjie het vir hulle begin vorm aanneem oor hoe om voort te gaan. Dit het baie werk en eksperimentering geneem om die musiek in lyn te bring met Van Rooyen se visie en dit het uiteindelik aan Pressure Cooker Studios die geleentheid gebied om iets spesiaals te skep terwyl hulle die bos lewendig gemaak het.

Die hoofelement waarop hulle gefokus het, was om te beklemtoon dat die film nie ’n mooi liefdesverhaal is nie; daar is ook vreeslike swaarkry in die film.

“So, die uitdaging was om daardie growwe, rou, organiese en outentieke klank te skep en om die ‘stem’ van die bos te vind. Op die ou einde het ons baie windgeluide opgeneem deur die konsertina en trekklavier te gebruik om saam met die bos ‘asem te haal’, asook om trekklavier-gonsgeluide te skep wat op en af, in en uit swel. Wanneer ons van die bos na die ‘beskawing’ beweeg, sou ons die klavier bekend stel en wegbeweeg van die growwigheid om die twee wêrelde effens van mekaar te skei.” sê Andries.

Andries beskryf die musiek as iets wat daar is om die storielyn te help en om dit te beklemtoon: Hy wou hê dat mense die donkerheid, maar ook die towerkrag van die bos moes voel; die swaarkry en ellende waardeur die mense gegaan het, en veral die reis en krag van Karoliena Kapp en die hoop wat uit dit alles spruit.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Afrikaans gaan Global! Moenie dit mis nie!

’n Lewendige stroomkonsert, Afrikaans Gaan Global, sal op Saterdag, 5 September, grense oorskry om verligting …

Kyk die amptelike lokprent van Meisies wat fluit hier!

Is daar hoop vir ’n tweede kans na ’n verbrokkelde huwelik? Miskien, maar nét as …