Talle debuutwerke in verskeie genres by die 22ste KKNK

271

Die KKNK skep die afgelope 21 jaar ’n platform vir kunstenaars om nuutgeskepte werk ten toon te stel en vanjaar is geen uitsondering nie. Meer as 30 produksies maak ’n buiging by die 22ste KKNK, wat van 24 tot 30 Maart op Oudtshoorn aangebied word.

HemelBesem, vanjaar vereer met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys, is in drie debuutproduksies te sien. In die skerpskerts komedie, Op ’n ernstige noot, sal hy en Yoma (Afrikaanse rymkletskoningin) die gehoor laat skater. In Die Afrikaansvatter, sluit o.a. Coenie de Villiers by hom aan vir ’n opwindende mengsel van skerpskerts, musiek, graffiti en animasie. Rymklets van Oos tot Wes bring die skerpste ryme en beste beats na die Klein Karoo, saam met o.a. Bliksemstraal, Linkris, Early B en ’n gaskunstenaar uit België.KKNK-Primary-Logo-290x597

“Almal ken my, maar niemand sien my siel nie. Ek’s mos invisible.” Dié woorde van Vinette Ebrahim se hoofkarakter in die debuut drama, Invisible, sal sorg vir introspeksie by elkeen wat die vertoning sien. Hierdie storie van aanpassing, speel in die lewe van ’n Distrik Ses-familie af, wat die karakters soveel meer lewe gee. Christo Davids is die regisseur van hierdie eenvrou-vertoning.

Die Man Jesus, met André Lombard onder regie van Charles J. Fourie, vertel die verhaal van Jesus op ’n baie persoonlike vlak, deur te kyk na sy menswees en hoe ander hom gesien het. Hierdie stuk ontleed Jesus se karakter en besoek die redes vir sy invloedryke lewe. Die gehoor word deel van ’n emosionele reis saam met Jesus en sy dissipels, wat strek vanaf Jerusalem en Galilea na Golgota.

“Ek stel hierdie jaar die eerste keer vir Ouma Dolla aan die wêreld voor,” sê Margit Meyer-Rödenbeck. Ouma Dolla maak ’n verskyning in #Dowwedolla, waar Dolla soos gewoonlik nie bang is om haar opinie oor alles, van sosiale media tot hondsdolheid, te lug nie.

In opvolg tot Schalk Joubert se Al lê die berge nog so blou, wat in 2015 by die KKNK met die Kanna vir beste musiekproduksie bekroon is, span o.a. Koos Kombuis, Katlego Maboe en plaaslike sangeres, Shinobia Saptouw (genomineer vir die Kanna vir beste opkomende kunstenaar in 2015) kragte saam in ’n opwindende nuwe produksie, Naledi berge nog so blou. Hierdie vertoning is ’n kulturele reis deur die geskiedenis van verskeie musiekelemente wat Suid-Afrikaners na aan die hart lê en beloof om terselfdertyd asemrowend en insiggewend te wees.

“Die debuutwerke by vanjaar se KKNK is gekeur om aan feesgangers ’n wye verskeidenheid keuses te bied en onvergeetlike ervarings te skep. Gehore sal opwindende teater sien met die beste vakmanskap en inhoud waarmee hul op soveel vlakke kan identifiseer. En die keuse van musiekgenres bied uiteenlopende musiekvermaak vir elkeen se smaak. Die nuwe en vars musiekproduksies op die feesprogram sorg vir musiek en ervarings wat nog lank in gehore se geheue sal bly,” sê Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.

Die feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments