Wednesday , March 3 2021

Suzanne se nuwe album en musiekvideo is hier!

Suid-Afrikaanse liefling en talentvolle Afrikaanse sangeres, SUZANNE, betower al plaaslike gehore vanaf haar debuut in 1997, toe sy die musiekwêreld op die vroeë ouderdom van tien betreë het. Agtien jaar en ses albums later, is Suzanne terug met haar nuutste album, Vuurbestand.   Hierdie album is nou te kry op alle goeie musiekwinkels se rakke en op iTunes.image008

Vuurbestand se klank is vars, die lirieke is kreatief en sy skitter met haar boeiende en besonderse stem.   Met hierdie nuwe album is Suzanne gereed om haar plek in te neem langs ander top Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Suzanne skop haar album bekendstelling af met die vrystelling van Belofte

Vuurbestand het die potensiaal om ‘n reuse sukses propvol treffers te wees en is boonop iets wat ‘n regte plesier was vir Suzanne om te skryf saam met haar man, Jacobus Uys. Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties het die album vervaardig en dit was opgeneem by Tommy Tucker Studios. Dane Taylor het die album gemeng en klankbemeestering is gedoen deur TL Mastering.

“Alhoewel hierdie album ‘n baie vars klank het, is daar verskeie elemente vanuit die 90’s waarvan ek baie hou.”  Suzanne

1.      Belofte: Toe ek en Jacobus in 2008 getroud is, het ons gesukkel om daardie perfekte liedjie vir die dag in ons moedertaal te kry. Ek was opsoek na ‘n moderne weergawe van ‘n klassieke idee in Afrikaans. ‘Belofte’ beskryf my en Jacobus se verhouding en hoe ons gevoel het op die dag wat ons vir mekaar in die oë gekyk het en aan mekaar trou beloof het. Ek sou nooit kon droom dat Fred hierdie liedjie so mooi sou laat klink met so ‘n moderne klank nie. ‘Belofte’ is nou vir my ‘n moderne weergawe van ‘n klassieke idee soos wat ek dit sou wou hê.image001

2.      Die lied in my hart: Die eenvoudiger dinge in die lewe maak my beslis die gelukkigste en ek wou graag daaroor sing. Fred het seker gemaak dat die eerlike klank van die verwerking by die eerlikheid van die lirieke pas.

3.      Vergewe my: Ons almal maak foute. Of dit iets groots of iets kleins is, verhoudings gaan altyd deur moeilike tye. Daar was vir my ‘n groot les in die skryf van hierdie liedjie, want ek moet weet wanneer om terug te staan sodat ek my foute kan raaksien. Die skryf van hierdie liedjie was vir my net weereens ‘n bewys dat skryf baie terapeuties en selfverreikend kan wees. Ek en Jacobus kon  albei leer kommunikeer deur hierdie liedjie. Dit hoef nie altyd so swaar te wees om jammer te sê of om iemand anders te vergewe nie. Dit is ‘n keuse. Wanneer ons nou vir mekaar kwaad raak sal die skuldige een sing: ‘Verge-he-he-hewe my’ en dan bars ons altwee maar net uit van die lag. 

4.      Liefde is alles: Dit is baie moeilik om te kies, maar hierdie lied is beslis een van my gunstelinge op die album. Fred se verwerking van hierdie positiewe boodskap gee vir my hoendervleis wanneer ek daarna luister. Ons is almal verbind, ons is almal een en die liefde tussen ons is die grootste seën. Dít is alles.

5.      Dieselfde: Hierdie was die eerste van my en Jacobus se spanpogings. Dit bly ook vir my een van die mees treffende en eerlike werke waarby ek nog ooit betrokke was.

6.      Somerson: Ek is beslis een vir die somer. Wanneer die winter te lank raak maak ek my oë toe en sien alles wat ek beskryf in hierdie liedjie. Ek geniet die prettige klank van die verwerking.

7.      Herinner: Ons het in 2011, twee dae voor Kersfees, ons beste vriend verloor in ‘n tragiese motorongeluk. Sy vrou was saam met hom in die voertuig en sy was op daardie stadium vier maande swanger. Sy en haar baba het die ongeluk oorleef en sy is vandag ‘n enkelouer van ‘n pragtige dogtertjie. Hierdie spieëlbeeld van haar Pa is vir ons elke dag ‘n herinnering. Ons weet nooit wanneer ons mekaar vir die laaste keer gaan groet nie. Roulen van der Hoven: Ons sal jou altyd onthou. Hierdie een is vir jou.

8.      My verhaal: Ons word almal geskaaf deur ons lewensondervindinge en ‘My verhaal’ is beslis ‘n goeie omvattende temalied vir my lewe. Dit was vir my ‘n groot voorreg om hierdie lied in my moedertaal te kon skryf.

9.      Jy’s my Held: Ek het hierdie lied vir my Ma geskryf na my Ouma se afsterwe. My Ma is ‘n baie sterk vrou, maar ek kon sien hoe haar Ma se dood haar geraak het. Ek het gevoel dat ek ‘n boodskap vir haar wou oordra deur middel van musiek. Die musikale verwerking is vir my baie gepas. Nes my Ouma, is dit baie kompleks, maar tog so eenvoudig. Ek voel veilig wanneer ek daarna luister en ek hoop dat die luisteraar dieselfde sal voel.

10.     Vuurbestand: Die musiekbedryf moet sekerlik die moeilikste bedryf op aarde wees. Almal wil bo uitkom en min mense gun vir ander ‘n plekkie onder die son. Ons het Vuurbestand geskryf in ‘n tyd toe hierdie realiteit vir ons baie duidelik geraak het. Ek en Jacobus het saam besluit dat niks ons gaan onderkry nie, want ons glo in ons musiek en mekaar. Net soos ons liefde vir mekaar, is ons passie vir skryf iets wat nie doodgemaak kan word nie. Ons kom altyd uit aan die anderkant, want ons is Vuurbestand!

SKAKELS:

Webtuiste

Facebook

Twitter

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Brendan Peyper – Dis alles jy nuwe enkelsnit!

Met meer pret en lighartige liedjies soos “Lekkerder op my Trekker” en “Vasdanslyf ” op …

10 miljoen trefslae vir Boerepompie!

Op 7 April 2020 word die treffer Hardekole (Ricus Nel ft. Refentse, Adam Tas & …