Suidoosterfees op soek na talent in Bellville!

70

Die 15de Suidoosterfees (SOF) vind aanstaande jaar vanaf 26 April tot 1 Mei by die Artscape Teatersentrum in Kaapstad plaas. Hierdie fees met die tema Fantastiese 15 / Fabulous 15 / Uchunge chunge 15, het ʼn aantal projekte wat die Kaapse Vlakte, Boland, Swartland en Karoo deur die jaar besoek en een keer ’n jaar almal in die diep-Kaap bymekaar bring.

Die vierde SOF Talentsoektog het reeds in September in Paarl afgeskop en is nou by die vyfde ronde wat op Saterdag 4 November van 10h00 tot 16h00 by The Stage Performing Arts-sentrum in Bellville sal plaasvind. Die inskrywings tot die soektog staan reeds op 80 en beloof om die Wes-Kaap te laat skrik vir niks en te betower soos die wilde woeste “Kaapse Dokter”.

Die Suidoosterfees is op soek na jongmense tussen die ouderdom van 9 en 25 in die volgende kategorieë: klassiek, alternatief en kontemporêr. Die semi-finaliste van die talentsoektog in Observatory is reeds gekies. Hulle is:

  • Garth Field (hip-hop, rap, dans, sang)
  • Robin Louw (uitvoerende kuns)
  • Musafana (dramatiese kuns)
  • Abdul Noor Francke (hip-hop, rap)
  • Carren Davids (kontemporêre dans)

Die SOF Talentsoektog-semifinaal vind aanstaande jaar op 10 Maart by die V & A Waterfront plaas en die finaal word tydens die jaarlikse Suidoosterfees in Kaapstad aangebied. Groot pryse is op die spel!

Enkele hoogtepunte by die Suidoosterfees 2018 is Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe in ʼn Swing-show met Kaapse en Karoo-klanke. Beroemdes soos Shaleen Surtie-Richards, Vinette Ebrahim en Evita Bezuidenhout sal ook ʼn draai kom maak terwyl die jazz-ikoon Melanie Scholtz te siene sal wees in “Kaapse Tango”. Kom kuier saam met ons hier waar die Suidoosterwind ons sommer lekker deurmekaar kan waai.

Bly op hoogte van die jongste Suidoosterfees-nuus op Facebook (@Suidoosterfees), Twitter (@Suidoosterfees) en besoek www.suidoosterfees.co.za.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments