Suidoosterfees op soek na nuwe talent!

102

Die 15de jaarlikse Suidoosterfees vind aanstaande jaar van 26 April tot 1 Mei in die hartjie van die Kaap plaas. Hierdie fees, met die tema Fantastiese 15 / Fabulous 15 / Zemikhosi 15, het ʼn klomp arms wat die Kaapse Vlakte, Boland, Swartland en Karoo deur die jaar besoek en een keer ‘n jaar almal in die diep-Kaap bymekaar bring.

Die Suidoosterfees bied vanjaar vir die vierde keer ʼn talentsoektog aan – een wat waarborg om so fantasties soos vanjaar se feestema te wees! Dit beloof om die Wes Kaap te laat skrik vir niks en te betower soos die wilde woeste “Kaapse Dokter”. Die Suidoosterfees sal vanjaar die volgende gebiede besoek om talent op te spoor en dalk vind ons net wat ons soek:

  • Frank Pietersen Musieksentrum in Paarl op 16 September 2017
  • Breytenbach Sentrum in Wellington op 14 Oktober 2017
  • Guga S’Thebe Kuns en Kultuur Sentrum in Langa op 21 Oktober 2017
  • Die Magnet Teater in Observatory op 28 Oktober 2017
  • The Stage in Bellville op 4 November 2017

Die Suidoosterfees Talentsoektog is op soek na jongmense tussen die ouderdom van 9 en 25 met hope talent in die volgende kategorieë: sang, instrumentaal, dans, toneelspel, towerkuns en meer. Groot pryse is op die spel! Dit vind vanaf 9:00 tot 16:00 plaas. Die SOF Talentsoek-semifinaal vind plaas op 10 Maart 2018 by die V & A Waterfront en die finaal word tydens die jaarlikse Suidoosterfees in Kaapstad aangebied. Inskrywingsvorms is beskikbaar op Suidoosterfees se webtuiste: www.suidoosterfees.co.za

Enkele hoogtepunte by die Suidoosterfees 2018 is Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe in ʼn Swing-show met Kaapse en Karoo-klanke. Beroemdes soos Shaleen Surtie-Richards, Vinette Ebrahim en Evita Bezuidenhout sal ook ʼn draai kom maak terwyl die jazz-ikoon Melanie Scholtz te siene sal wees in Cape Town Tango. Kom kuier saam met ons hier waar die Suidoosterwind ons sommer lekker deurmekaar kan waai.

Bly op hoogte van die jongste Suidoosterfees-nuus  op Facebook (@Suidoosterfees), Twitter (@Suidoosterfees) en besoek www.suidoosterfees.co.za.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments