Donderdag , November 22 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Suid-Afrika swem saam STROOMOP!

Suid-Afrika swem saam STROOMOP!

Stroomop is amptelik op Vrouedag, 9 Augustus vrygestel in fliekteaters landswyd. Met reuse afwagting vir dié avontuur op die grootskerm loop die filmmakers se harte oor van dankbaarheid na openingsnaweek. Fliekgangers wat dit gedurende hierdie eerste naweek van vrystelling gaan kyk het se terugvoer stroom in en die vloedgolf van aangeraakte harte wat gedeel word, het die filmmakers, Ivan Botha en Donnalee Roberts, aangemoedig om ’n persoonlike boodskap te skryf aan almal wat dit reeds gekyk het, asook almal wat nog gaan:

Dit was vir die afgelope drie jaar ons grootste droom om mense saam te kan neem op hierdie epiese visuele avontuur en met hulle te kon deel wat ons ervaar het op daardie asemrowende ongerepte deel van ons land waar daar op dele nog nooit eers ’n voetspoor getrap is nie. Daardie wêreld raak letterlik aan jou siel. Daar is soveel inspirerende STROOMOP-vroue wat al ons pad gekruis het en ons al inspireer het, Stroomop is ’n hulde aan hulle, vroue wat daagliks die heldinne van hulle eie storie is. Ons hoop was dat elke vrou wat dit gaan kyk ’n stukkie van haarself in ons karakters sou sien en ons is onbeskryflik dankbaar en oorweldig deur die magdom terugvoer van regoor die land oor presies dit!! Ons is net so dankbaar vir die mans wat die avontuur amper meer geniet het en ook met ons hulle harte en wonderlike insig gedeel het. DANKIE aan elke persoon wat Stroomop al gekyk het en wat dit nog gaan kyk, dis te danke aan julle dat ons trots Suid-Afrikaanse stories kan vertel en films kan maak wat net hier in ons land gebore en gemaak kan word. DANKIE!! DANKIE!! DANKIE!!” – Ivan Botha & Donnalee Roberts.

Filmfinty se Aankope- en Bemarkingshoof van Onafhanklike Films, Pieter Geldenhuys deel die volgende: “Filmfinity is opgewonde om aan te kondig dat Stroomop nie net die grootste openingsnaweek by die loket vir ’n Afrikaanse film vir die jaar gehad het nie maar ook die grootste openingsnaweek vir ’n plaaslike film vir die jaar. Die film was so suksesvol dat nog fliekteaters die komende naweek bygevoeg word wat die film sal vertoon.” NuMetro Emperors Palace, Movies@The Ridge, Movies@Silverstar, Victorian Theatres in Newcastle en Minimax Paarl is teaters wat bygevoeg word.

Stroomop se loketinkomste na openingsnaweek is R2.5 miljoen en meer as 38 500 mense het die film reeds gaan kyk en saam op die Oranjerivier-reis gegaan. Kykers word vasgevang in die grootste avontuur wat plaaslike films nog grootskerm toe gebring het. Die avontuur bly egter nie op die skerm nie, maar woel diep binne kykers met oomblikke wat harte teer aanraak en dan weer oomblikke wat kykers kliphard laat saamlag. ’n Paar kykers het die volgende gedeel oor Stroomop:

Dankie dat julle die realiteit van wie ons as vroue is, uitbeeld. Die lewe is geen fairytale nie, maar ons elkeen is perfek nes ons is. Daar is niks sterker as vroue wat mekaar ondersteun en dra deur moeilike tye nie. Ons weet nie altyd wat aan die anderkant wag nie, maar saam sal ons bo uitkom! Dankie vir ’n amazing storie wat my net weereens laat besef het, opgee is nie ’n opsie nie!

– Adele Ferreira Redelinghuys –

Wow!! Ek is spraakloos. Hierdie fliek was voorwaar die moeite werd om na uit te sien. En wat ’n beter fliek om jou Vrouedag mee af te sluit. #StroomopFilm het my op ’n persoonlike emosionele reis gevat. Dit was snaaks, emosioneel, vol drama en tonne avontuur wat omtrent aan jou hartsnare geroer het. Dankie Donnalee Roberts en Ivan Botha vir ’n uitstekende fliek. Dit het my opnuut van binne bemoedig dat ek as vrou nie alleen stroomop swem nie, en dat jy in jou stroomop oomblik jou storie kan gebruik om iemand anders te bemoedig. Doen jouself ‘’n guns en gaan kyk die fliek. #StroomopFilm #9Aug2018 #NouInTeaters #RaakVerloreVindJouself

– Charlene Steyn –

Stroomop is een van die beste films wat ek nog ooit gesien het … Julle kan ongelooflik baie trots wees, want dit is een wonderlike film. Stroomop is een groot inspirasie-film. Dankie vir al die harde werk wat julle in die film ingesit het, dit was die moeite werd gewees.

 – Instagram-naam: Jolene_x –

Wat ’n ongelooflike rolprent. Dis is ’n inspirasie vir elke vrou. Ek sal nooit weer skuldig voel oor ’n red velvet cupcake nie! So opbouende en unieke ondervinding. Beslis ’n voorbeeld van ‘women empowerment’.”

  Instagram-naam: c_harnebrynard –

Hierdie opwindende avontuurverhaal gaan oor meer as net lewe en dood. Dit vertel die storie van vyf dames – Lana, Vivian, Adrie, Nixie en Diona – wat elkeen besig is om te ‘verdrink’ en in die rowwe waters van die lewe rondgemaal word. ’n Sameloop van omstandighede neem hulle saam op ’n avontuur op die Oranjerivier. Hier gebeur die ondenkbare en hulle boot word omgegooi, die riviergids raak verlore en die vroue bevind hulleself in ’n stryd om oorlewing in die wildernis. Die reis verander hulle lewens ingrypend, soos wat hulle saam deur seer en vrees worstel. Temas waarop die film fokus, is selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing.

Die fliek, wat op die Oranjerivier en naby Onseepkans in die Noordkaap, asook rondom Johannesburg verfilm is, word gekomplementeer deur ’n sterk rolverdeling: Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Chanelle de Jager, Ilse Klink, Carla Classen en Armand Aucamp.

STROOMOP se draaiboek is geskryf deur Ivan Botha, Donnalee Roberts en Sean Robert Daniels van The Writers Block. Die produksie is vervaardig deur 17FILMS en The Film Factory

SA, in samewerking met kykNET en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en word plaaslik deur Filmfinity (Pty) Ltd versprei. Die rolprent begin op 9 Augustus 2018, landswyd, draai.

Vennote wat hierdie produksie moontlik maak: kykNET, Filmfinity (Pty) Ltd, Sarie, Makro, Camp Master, SA Forest Adventures, Under Canvas Events, Gozone Water, Laeveld Agrochem, Placecol, Areyeng Rentals, Fix Post Productions, Media Film Services, Starburst Promotions, Key Art Services, Busamed Modderfontein Privaathospitaal, Two Tales Animation, Ark Inflatables, The Writers Block.

Vir meer inligting oor die film, besoek gerus: www.stroomopfilm.co.za

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @stroomopfilm

Instagram: @Stroomopfilm

Hutsmerke: #RaakVerloreVindJouself #StroomopFilm #9Aug2018

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju …

Waarna jy kan uitsien in BINNELANDERS in November!

Donderdag, 1 November (Episode 104/3120) Nina veroorsaak dat Jax hospitaal toe trek, en Mercia deel …