Donderdag , November 22 2018
Home / Afrikaanse Musiek / STROOMOP se temalied bekendgestel!

STROOMOP se temalied bekendgestel!

STROOMOP, Ivan Botha en Donnalee Roberts se derde speelfilm, is vanaf 9 Augustus 2018 op die grootskerm te sien. Die temalied, met dieselfde naam, deur Reënwolf is pas uitgereik en die mooi lirieke en melodieë in die lied vang die boodskap en emosie van die fliek perfek vas.

Die enkelsnit kom uit die pen van die groep Spoegwolf se hoofsanger en kitaarspeler, Danie du Toit (ook bekend as Reënwolf), en is geïnspireer deur ’n ongewone ervaring uit die musikant se eie lewe en is spesifiek vir die fliek geskryf. “Dis ’n enorme voorreg om deel te kon wees van hierdie projek. Dit is wat ek wil doen vir ’n lewe, so dis vir my persoonlik ’n groot sprong en ’n geleentheid waarvoor ek al lank bid,” verklap hy. “Ek het deur ’n vreemde situasie gegaan vroeër vanjaar en dit probeer verwerk deur daaroor te skryf. Hopelik sal gehore kan aanklank vind by die liedjie, want dit sal goed wees om te weet dat ander mense is wat ook stroomop gaan in moeilike tye.”

’n Musiekvideo van die snit, wat deur Hugo Brand en Louise Pieterse vervaardig is, is ook reeds verfilm en speel af in die berge. “Die video is op Helshoogte geskiet gedurende die paar heilige oomblikke wanneer die son oor die berg opkom. ’n Man loop in berg tussen epiese tonele uit ’n fliek. Die idee was om die lied in twee plekke te anker: die film se storielyn, maar ook die luisteraar en skrywer se eie stories,” sê Danie wat ook ’n knap digter is en beplan om in die toekoms sy eie bundel uit te bring.

STROOMOP is ’n opwindende avontuurverhaal wat jou op vyf vroue se lewenveranderende reis neem na selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing. Dit vertel die storie van Lana (Donnalee Roberts), Vivian (Simoné Nortmann), Adrie (Chanelle de Jager), Nixie (Carla Classen) en Diona (Ilse Klink) wat elkeen besig is om te ‘verdrink’ en in die rowwe waters van die lewe rondgemaal word. ’n Sameloop van omstandighede neem hulle saam op ’n avontuur op die Oranjerivier. Hier gebeur die ondenkbare en hulle boot word omgegooi, die riviergids (Armand Aucamp) raak verlore en die vroue bevind hulleself in ’n stryd om oorlewing in die wildernis, met verrykende gevolge…

Ivan Botha se regisseursdebuut is vervaardig deur 17FILMS en The Film Factory SA, in samewerking met kykNET en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en word plaaslik deur Filmfinity (Edms) Bpk. versprei. Dit begin op Vrouedag, 9 Augustus 2018, landswyd draai.

SOSIALEMEDIASKAKELS

FLIEK

Facebook

Twitter: @stroomopfilm

Instagram: @Stroomopfilm

Hutsmerke: #RaakVerloreVindJouself #StroomopFilm #9Aug2018

REëNWOLF

Facebook: #Reenwolf

Twitter: #Reenwolf

Instagram: @danie_reenwolf

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Wen ‘n studiebeurs met DZL en Gameways!

Die manne van die duo-groep DZL is bekend vir hulle liefde vir die natuur; as …

Sally Williams Nougat kry nuwe baadjie!

SALLY WILLIAMS NOUGAT is nie net die treffer wat die bekroonde liedjieskrywer, sanger, rubriekskrywer en …