Woensdag , Desember 12 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / STROOMOP se amptelike lokprent is hier!

STROOMOP se amptelike lokprent is hier!

Die lang wag is verby! Ivan Botha en Donnalee Roberts stel met trots die lokprent van hulle nuutste projek, STROOMOP, bekend.

Hierdie opwindende avontuurverhaal gaan oor meer as net lewe en dood. Dit vertel die storie van vyf dames – Lana, Vivian, Adrie, Nixie en Diona – wat elkeen besig is om te ‘verdrink’ en in die rowwe waters van die lewe rondgemaal word. ’n Sameloop van omstandighede neem hulle saam op ’n avontuur op die Oranjerivier. Hier gebeur die ondenkbare en hulle boot word omgegooi, die riviergids raak verlore en die vroue bevind hulleself in ’n stryd om oorlewing in die wildernis.

Die reis verander hulle lewens ingrypend, soos wat hulle saam deur seer en vrees worstel. Temas waarop die film fokus, is selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing.

“Soms gaan jy moet stroomop swem om te ontdek dat jy meer as genoeg is en oor alles beskik om enigiets te oorkom wat die rivier van die lewe na jou kant toe mag spoel,” sê Ivan en Donnalee oor die boodskap agter hierdie inspirerende film.

Anders as met hulle vorige twee lokettreffers, Pad na jou Hart en Vir Altyd, is beide akteurs nie dié keer saam op die silwerdoek te sien nie. Alhoewel hulle saam aan die prent gedroom, geskryf en vervaardig het, is dit Donnalee wat die vroulike hoofrol vertolk, terwyl Ivan sy debuut maak as rolprentregisseur. Hy is baie opgewonde oor die opwindende nuwe loopbaanuitdagings wat oor sy pad gekom het en vertel: “Ek het tien jaar terug, op die stel van Bakgat, al geweet dat ek regie wil doen, maar ek ek wou eers meer leer voordat ek dié uitdaging aanpak. Ek en Tom Marais het op die stel van Bakgat 1 ’n belofte aan mekaar gemaak dat wanneer ek my eerste film se regie doen, hy die kinematografie sal behartig. Tien jaar later en hier is dit nou.”

Die fliek, wat op die Oranjerivier en naby Onseepkans in die Noordkaap, asook rondom Johannesburg verfilm is, word gekomplementeer deur ’n sterk rolverdeling:

Donnalee (Vir Altyd, Ballade vir ’n Enkeling, Pad Na Jou Hart, Klein Karoo, 7de Laan), wat in die verlede verskeie toekennings vir haar toneelspel en filmwerk gewen het, waaronder Huisgenoot Tempo’s vir Beste Aktrise en Beste Speelfilm, speel die rol van die chirurg met ’n hartseer verlede, Lana. “Lana is een van die uitdagendste rolle wat ek nog gespeel het. Sy neem die lewe en haar werk baie ernstig op en haar moue is opgerol, of dit nou is om ’n lewe te red of ’n bakleiery te begin. Daar is ’n rede hoekom sy so ’n rebel is, maar sy het ’n goeie hart,” verklap Roberts oor haar karakter.

Vivian, die tweede Stroomopvrou, het haar lewensvreugde as kind reeds verloor en vind haar lewe hiper-vervelig en dit vererger daagliks haar neiging tot depressie. ’n Baie diep seer na ’n groot liefdesteleurstelling veroorsaak dat sy haarself in iemand anders probeer verander in ’n poging om aanvaarding te vind, maar in die proses verloor sy haarself heeltemal. Dié rol word vertolk deur Simoné Nortmann (Hotel, Wonderlus, Vuil Wasgoed) en sy beskryf haar karakter as volg: “Vivian is ’n data-analiseerder en dit is duidelik dat sy onseker is oor haarself. Sy hou van roetine en is omvergegooi deur hierdie avontuur, wat haar dwing om haar grootste vrese in die oë te kyk”. Simoné het kykers se harte verower in die bekroonde lokettreffer, Vir die Voëls, waarvoor sy as Beste Aktrise aangewys is by die Huisgenoot Tempo’s en Tallgrass Internasionale Rolprentfees.

Oor haar karakter, Adrie, sê Chanelle de Jager (Egoli, Die Boekklub 1&2, Boland Moorde): “Adri is die mamma van drie besige kinders, vir wie sy baie lief is, maar sy voel asof sy ’n bietjie verdrink en tyd nodig het om haar battery te herlaai.” Soos die meeste vroue daarbuite, skeep sy haarself heeltemal af in ’n poging om al haar boksies daagliks gemerk te kry, en iewers het sy haar innerlike krag en vreugde verruil vir besigwees. Adrie is in ’n voortdurende worsteling met haar gewig en sien nie haar eie mooi raak nie en, as gevolg daarvan, mis sy hoe mooi haar man haar vind.

Diona is in haar hart eerste ’n ma – sterk, uitdagend en bowenal beskermend. Hierdie eienskappe het haar gedryf tot ’n suksesvolle prokureur wat die leer van die besigheidswêreld hoog opgeklim het, ongelukkig was dit onwetend meestal ten koste van haar gesin. Na die dood van haar man moet sy probeer om die verhoudingsbrug tussen haar en haar dogter te herstel. “Diona is ’n ma, wat haar familie eintlik so ’n bietjie afskeep omdat haar werk vir haar baie belangrik is,” sê Ilse Klink (Isidingo, The Path, Villa Rosa, Roer Jou Voete) wat ’n bekende gesig is op die verhoog en kassie en onlangs Fiësta- en Naledi-toekennings gewen het vir Beste Aktrise.

Nixie bevind haarself terug in Suid-Afrika in die middel van haar studtydperk in London, maar die keer met ’n geheim wat sy nie met haar ma kan deel nie. Na haar pa se dood trek sy elke dag ’n bietjie meer terug in haar dop in, ongemaklik met die verhouding wat nou skielik met haar vroeër afwesige ma gevorm moet word en nie die vraag: “wat het in London gebeur” kan laat gaan nie. Carla Classen (Howled and she forgot to say sorry, A Sense of Touch, 7de Laan) ’n talentvolle aktrise en verhoogkunstenaar wat in 2016 ’n Woordfees-toekenning gewen het, se karakter in die rolprent is Nixie. “Sy is een-en-twintig en ’n milleniër wat baie betrokke is by ander mense op haar foon, maar ’n introvert is in die regte lewe. Sy gaan op die avontuur om haar pa se dood te probeer verwerk,” verduidelik sy.

Armand Aucamp (Ballade vir ’n Enkeling, Die Boekklub 1&2, Krotoa, Knapsekêrels) speel die rol van die riviergids, Guy. “Guy is ’n man van die aarde, sonder ’n ego en baie in voeling met sy emosies. Hy is baie toeganklik en verbreek nogal daardie vooropgestelde stereotipes wat bestaan oor hoe ’n man lyk en hoe hy regtig is,” beskryf hy sy karakter.

STROOMOP se draaiboek is geskryf deur Ivan Botha, Donnalee Roberts en Sean Robert Daniels van The Writers Block. Die produksie is vervaardig deur 17FILMS en The Film Factory SA, in samewerking met kykNET en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en word plaaslik deur Filmfinity versprei. Die rolprent begin op 9 Augustus 2018, landswyd, draai.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @stroomopfilm

Instagram: @Stroomopfilm

Hutsmerke: #RaakVerloreVindJouself #StroomopFilm #9Aug2018

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Liewe Lisa… nuwe fliek

LIEWE LISA, die debuutfilm van KOMPANJIE STORIES, se plakkaat is vandag bekendgestel. Die film word …

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju …