Woensdag , November 14 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / STROOMOP inspirasie aanbieding deur Atterbury Teater!

STROOMOP inspirasie aanbieding deur Atterbury Teater!

Vrouedag vanjaar gaan behoorlik gevier word! ’n Dubbel-bederf wag op die vroue van Pretoria met die vrystelling van die langverwagte avontuurfilm, STROOMOP en ook die aanvang van die amptelike Stroomop Inspirasie-aanbieding in samewerking met Atterbury Teater op 9 Augustus 2018 by Atterbury Teater, Pretoria.

Om die impak van hierdie film te vergroot bied ons eksklusiewe inspirasie-geleenthede aan in die opbou van die film. Ons droom is om alle vroue in Suid-Afrika te inspireer en saam met hulle die uitdagings en avonture van vrouwees te vier”, sê die skrywers en vervaardigers van Stroomop, Ivan Botha en Donnalee Roberts. Die Stroomop Inspirasie-aanbieding fokus op die oorhoofse temas van die film, naamlik: selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing. Dit het ten doel om vroue te inspireer om stroomop te swem, teen die wêreld se onrealistiese verwagtinge en om die avontuur van vrouwees elke dag te vier.

Die Stroomop Inspirasie-aanbieding beloof om ’n betekenisvolle geleentheid te wees waartydens bekende persoonlikhede hulle harte vir vroue deel in intieme gesprekke en bekoorlike sang. Donnalee Roberts sal as hoofspreker optree met hartstories wat vroue sal inspireer om anders na hulleself en vrouwees te kyk. Simoné Nortmann is die spesiale gasspreker van die geleentheid en deel oor haar eie vrouwees. Die geleentheid word verder ingekleur deur vyf juweelstemme wat tot die siel van elke vrou teenwoordig sal spreek: Caroline Grace, Janie Bay, Lizandra Winter, Clarice Pieterse en Kate Rok. Die span maak darem ook voorsiening vir iets sag op die oog met Ivan Botha wat as gasheer van die dag optree en saam ’n glasie sjampanje op vroue klink.

Daar sal nie net stil gesit word by die geleentheid nie, vroue word verwelkom met iets te drinke en ligte verversings. Placecol vier saam vrouwees deur heerlike bederf-stasies op te stel waar die gaste gratis behandelinge kan ontvang. Daar sal ook grimeerkunstenaars wees wat regstaan met mooimaak-raad, mini-makeovers en om vir die wat avontuurlustig genoeg is ’n rooi lip aan te sit. Ander uitstallers, onder andere Donnalee Roberts se “pop-up shop” met haar nuwe reeks The Romantic Collective, wat haar eie ontwerpe en ingevoerde klerereeks insluit, sal ook deel van die dag vorm. Daar sal ook ’n uitstalling van die Stroomop-roman wees. Die bekendes sal na die tyd beskikbaar wees vir ’n lekker saamkuier  en ontmoet-en-groet sessie. Elke gas sal ook ’n waardevolle geskenkpakkie huis toe neem.

Daar sal twee Stroomop Inspirasie-aanbiedinge gehou word op Donderdag 9 Augustus om voorsiening te maak vir meer vroue om die dag saam te vier. ’n Aanbieding neem drie ure in beslag. Die eerste aanbieding sal vanaf 09:00 tot 12:00 geskiet en die tweede vanaf 13:00 tot 16:00.

Die beste nuus is dat STROOMOP op 9 Augustus landswyd begin en vroue na afloop van die Stroomop Inspirasie-aanbieding die film op die grootskerm by alle teaters sal kan gaan kyk.

In Stroomop ontmoet ons vyf unike vroue wat almal besig is om in hulle eie realiteite te verdrink. In ń desperate poging om genesing te vind bevind die vroue hulleself op die Oranjerivier op voorgeskrewe avontuurterapie deur ń selfhelpgroep. Wat is die ergste wat kan gebeur? Tydens die avontuur lei wrywing tussen die vroue, wat elkeen met hul eie verskuilde en selfsugtige redes op die reis gekom het, tot ‘n ongeluk. In ‘n spanningsvolle oomblik word die gids en die vroue van die roeiboot afgegooi en rondgemaal in die stroom. Die gids spoel weg en die vroue word aan hulself oorgelaat om te oorleef in die genadelose wildernis …

Sal hulle heel aan die anderkant uitkom? Stroomop vertel ń verhaal van lewe en dood, vriendskap, selfontdekking, vergifnes en genesing. Die vyf vroue in die film word vertolk deur Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Ilse Klink, Chanelle de Jager en Carla Classen.

Stroomop is ’n opregte en opwindende avontuurfilm, vervaardig deur 17 Films en The Film Factory SA, in samewerking met kykNET, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en word plaaslik deur Ster-Kinekor Entertainment versprei. Die rolprent begin op 9 Augustus 2018, landswyd, draai.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @stroomopfilm

Instagram: @Stroomopfilm

Hutsmerk: #StroomopFilm

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju …

Waarna jy kan uitsien in BINNELANDERS in November!

Donderdag, 1 November (Episode 104/3120) Nina veroorsaak dat Jax hospitaal toe trek, en Mercia deel …