Donderdag , November 22 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Stroomop inspirasie aanbieding by Innibos 2018!

Stroomop inspirasie aanbieding by Innibos 2018!

Op Saterdag 30 Junie kleur die Stroomop-span Innibos vanjaar in met nuwe kleur. ’n Spesiale geleentheid word aangebied vir al die vroulike feesgangers op die feesgronde en alle vroue word uitgenooi om die unieke volheid en uitdagings van vrouwees saam met die aanbieders te vier. Hierdie betekenisvolle oggend sal plaasvind by Bateleur Landgoed in Nelspruit om 11:00.

Ons droom is om alle vroue in Suid-Afrika te inspireer en saam met hulle die uitdagings en avonture van vrouwees te vier en Innibos is ’n heerlike afskop-fees”, sê die skrywers en vervaardigers van Stroomop, Ivan Botha en Donnalee Roberts. Die Stroomop Inspirasie-aanbieding fokus op die oorhoofse temas van die film, naamlik: selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing. Dit het ten doel om vroue te inspireer om stroomop te swem, teen die wêreld se onrealistiese verwagtinge en om die avontuur van vrouwees elke dag te vier.

Die Stroomop Inspirasie-aanbieding beloof om ’n betekenisvolle geleentheid te wees waartydens bekende persoonlikhede hulle harte vir vroue deel in intieme gesprekke en bekoorlike sang. Donnalee Roberts sal as hoofspreker optree met hartstories wat vroue sal inspireer om anders na hulleself en vrouwees te kyk. Simoné Nortmann is die spesiale gasspreker van die geleentheid en deel oor haar eie vrouwees. Die geleentheid word verder ingekleur deur twee juweelstemme wat tot die siel van elke vrou teenwoordig sal spreek: Lizandra Winter en Kate Rok. Die span maak darem ook voorsiening vir iets sag op die oog met Ivan Botha wat as gasheer van die dag optree en saam ’n glasie sjampanje op vroue klink.

Uitstallers, onder andere die Sarie-winkel en Donnalee Roberts se “pop-up shop” met haar nuwe reeks The Romantic Collective, wat haar eie ontwerpe en ingevoerde klerereeks insluit, sal ook deel van die dag vorm. Daar sal ook ’n uitstalling van die Stroomop-roman wees. Die bekendes sal na die tyd beskikbaar wees vir ’n lekker saamkuier  en ontmoet-en-groet sessie. Elke gas sal ook ’n waardevolle geskenkpakkie huis toe neem.

STROOMOP word op Vrouedag, 9 Augustus landswyd in fliekteaters vrygestel. In Stroomop ontmoet ons vyf unike vroue wat almal besig is om in hulle eie realiteite te verdrink. In ń desperate poging om genesing te vind bevind die vroue hulleself op die Oranjerivier op voorgeskrewe avontuurterapie deur ń selfhelpgroep. Wat is die ergste wat kan gebeur? Tydens die avontuur lei wrywing tussen die vroue, wat elkeen met hul eie verskuilde en selfsugtige redes op die reis gekom het, tot ‘n ongeluk. In ‘n spanningsvolle oomblik word die gids en die vroue van die roeiboot afgegooi en rondgemaal in die stroom. Die gids spoel weg en die vroue word aan hulself oorgelaat om te oorleef in die genadelose wildernis …

Sal hulle heel aan die anderkant uitkom? Stroomop vertel ń verhaal van lewe en dood, vriendskap, selfontdekking, vergifnes en genesing. Die vyf vroue in die film word vertolk deur Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Ilse Klink, Chanelle de Jager en Carla Classen.

Stroomop is ’n opregte en opwindende avontuurfilm, vervaardig deur 17 Films en The Film Factory SA, in samewerking met kykNET, en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en word plaaslik deur Filmfinity Edms. Beperk versprei.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @stroomopfilm

Instagram: @Stroomopfilm

Hutsmerk: #StroomopFilm

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju …

Waarna jy kan uitsien in BINNELANDERS in November!

Donderdag, 1 November (Episode 104/3120) Nina veroorsaak dat Jax hospitaal toe trek, en Mercia deel …