Strandfontein is weer gasheer vir die gewilde Madeliefie Makietie!

196

Stof solank jou feesskoene af vir die immergewilde Madeliefie Makietie-fees wat vanjaar vir die tweede keer op die bekoorlike Weskus-stranddorp Strandfontein gehou gaan word.

“Vanjaar se Madeliefie Makietie gaan omtrent ’n belewenis wees. Nêrens in Suid-Afrika sal jy ’n mooier fees as hier in die Namakwa-Weskus kry nie,” sê Piet Otto, voorsitter van die Madeliefie Makietie-feeskomitee.

Die fees vind vanjaar op Vrydag, 26 en Saterdag, 27 Oktober plaas en spog met nie minder nie as elf van ons land se topkunstenaars om feesgangers te vermaak. Die stranddorp gaan ook gepak wees met stalletjies en aktiwiteite om oud en jonk besig te hou.

Kom makietie saam met kunstenaars soos Snotkop, Leah, Lee Scott, Steve Hofmeyr, Majozi, Karlien van Jaarveld, Irene-Louise van Wyk, Willem Botha, Juan Boucher, Dirk van der Westhuizen en Jo Black op die hoofverhoog in die Perdeskoen-arena.

Duisende besoekers het die Juweeldorpie tydens verlede jaar se fees besoek, wat gelei het tot die fees se omkeer suksesverhaal.

Lo-Mari van Vuuren van Vredendal het verlede jaar die feeskomitee geluk gewens. “Julle harde werk word baie waardeer. Baie dankie aan al die borge dat julle bereid is om in ons gemeenskap te belê. Ons glo hierdie fees gaan nog groei tot voordeel van ons hele gemeenskap. Nogmaals baie dankie aan almal wat ’n bydrae gelewer het,” het sy geskryf.

Volgens die woordvoerder van die fees, Cindy Shade, is daar nog enkele plekke beskikbaar vir stalletjies by vanjaar se fees.

Teken nóú 26 en 27 Oktober in jou dagboek aan en kom kuier saam met ons op Strandfontein vir vanjaar se Madeliefie Makietie.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Advertensie