Donderdag , Oktober 17 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Steyn de Wet – Hooglied

Steyn de Wet – Hooglied

Met sy tweede album – Hooglied – voeg die liedjieskrywer en sanger Steyn de Wet ‘n gehalte-album aan die Afrikaanse musiekskat toe. Die albumtitel koppel aan Salomo se Bybylboek en onwillekeurig kry die album ‘n deurlopende, ongedwonge geestelike ondertoon.

Die album kerf die lewe se teenkante metafories: sorgeloos en roekeloos, oor behepthede en vergpype,  oor brassery en wellus, oor oorvloed en verlies, oor verbrokkelende verhoudings en selfdoodvertwyfeling. Die album vier die ekstase,  die klimaks en die euforie van die lewe – en helaas: dan die leë besef, ontnugtering en  berou wat tot bepeinsing en besinning wakkerklap!steyndewet

“Die album is ‘n uitnodiging na ‘n afskeidspartytjie,” sê Steyn. “’n Afskeidspartytjie is ‘n bittersoet affêre. Iemand het my eenkeer gesê: ‘As jy dié plek gaan mis, sal jy op die volgende plek gelukkig wees.’  Dit is waar, maar ek wil nie goodbye sê nie… Dit is nie die drome wat misluk wat jou breek nie. Ek is op die ou end dankbaar vir elke mislukking.  Die verkeerde droom wat waar word, is die wurggreep. Ons is almal op ‘n tyd die kind, die arm student of die jeugwerkende wat droom en hoop vir selfstandigheid. Dit is nou besig om waar te word; om ‘n realiteit te word vir my. Die ‘regte lewe’ klop nou al lank aan my deur.  Ek het dit probeer wegdink, probeer ignoreer, die uurglas probeer omkeer vir ‘n slot op hierdie seisoen, maar my halstarrige ontkenning grawe hierdie donker gat net al hoe dieper. Só: daar het jy dit: hierdie is my afskeidspartytjie. Geniet hom! Jy is genooi! En ek wil nie alleen voel nie.”

Dit is nie afskeid van die lewe nie. Dit is afskeid van die oue en die vernietiging- én ‘n omhelsing van die nuwe en die genesende. Dis die begin van ‘n ontwakende seisoen. Die album skop af met Billy Boy – ‘n jolige Nuwejaarspaartielied. Dan skop die werklikheid in en in die dertien snitte wat volg – Songs van verliefde mense, One last time, Hooglied, Sê my lief, Links 2 3 4, Bolande wyn, Slaan die wind, Stoksielalleen, Elke sterlignag, Okovango, Die vallei, Die lied van die geraamtes en Insanity – word teruggekyk na wat vóór die paartie gebeur het en tot hierdie kranksinnigheid gelei het.

Steyn, geskaaf deur die musiek van Bob Dylan, Leonard Cohen, Cat Stevens en Bruce Springsteen, put uit Afrikaanse litteratuur en lewenservaring en delf in folkrock-styl met spatsels blues in die mens se gebrokenheid én oorlewingswil – teen ‘n musikale pallet van akoestiese klawers en snare, versus progressiewe, sintuigmokerende orkestrasie.  Die album – met verwerkings en produksie deur Ben Ludik – is by die Universtiteit van Stellenbosch se ateljee opgeneem.

Steyn vertolk kragtig-innig in luisterliedjiestyl – met ‘n boeiende basstem, gekleur met luisterryke bariton- en tenoortone.

Die album is vars en vernuwend, uitdagend en verskuiwend.

Dit is die toonvenster van kunstenaarskap.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Douvoordag sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in nuwe enkelsnit!

Die gewilde duo, Douvoordag (Jattie & Ilse de Beer), sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in hulle …

Nuwe enkelsnit Die Heelal met Janie Bay en Early B pas uitgereik!

Die gewilde sangeres Janie Bay het pas haar tweede enkelsnit in 2019 uitgereik. “Die Heelal”, …