Saturday , February 27 2021

Steffie le Roux stel nuwe enkelsnit vry

Sy het radioluisteraars die eerste keer tydens die RSG Kunstefees 2015 oorrompel met haar sonderlinge stem en eiesoortige komposisies in haar en Paul Eilers se woordkunsprogram Chriskras. Toe het sy kunsteliefhebbers in 2016 by die KKNK oorrompel met haar onopgesmukte teenwoordigheid, vertolkingbroosheid, musikale integriteit en kreatiewe skakerings. Toe is dit Austalië toe: op toer saam met Anton Goosen en Adam Tas.

Steffie le Roux is deel van ‘n uitgelese groepie liedjieskrywer-sangeresse; trots in die geselskap van Anna Davel en Lize Beekman. En vertolkers: Amanda Strydom en Laurika Rauch.

Maar Steffie druk haar eie stem, aanslag, styl en stempel op haar talent af – gekenmerk aan veerkragtigheid, prettige energie en onblusbare passie.

Sy is ‘n kunstenaar en performer in die ware sin van die woord: opgelei in drama, sang, dans (Latynse en kontemporêre jazz) en musiek (fluit, klavier en tjello). Tussen haar mentors is Chihiro Saito, Gabrielle Pittner en prof Werner Nel.

Met ‘n diploma in musiek aan die Noordwes-Universiteit was Steffie deel van die Alabama-studentegeselskap. Sy het saam met die a capella-vrouegroep CuttGlas opgetree en haar talent is in verskeie musiekproduksies – onder meer Annie, The Sound of Music, Little Shop of Horrors, Stuur Groete aan Mannetjies Roux en Droomkind – benut.

Sy is ook in die rolprente Verraaiers en Stuur Groete aan Mannetjies Roux gesien.

En nou kry kieskeurige kunsteliefhebbers haar debuutalbum: Vertel My: vars, ánders, storieryk, ‘n klankpallet van eerlike, tydlose eenvoud. Dit is die toonvenster van haar vernuf as komponis, liriekskrywer, toonsetter, sangeres en musikant. Daar is toonsettings van Cas de Villiers se gedigte Vertel my, Die skoonste dinge, Towerson en Êrens in die nêrens. Chris Torr het die lirieke vir Winterjas en Reëndruppels bygedra en Albert Short en Steffie het saamgewerk aan die snitte Marmer oë, Sterre voorspel en Amper. Uit Steffie se pen vloei Blomme oor die water, As ons oë en die luistervriendelike radiotreffer Oudtshoorn.

Dié stewige akoestiese produksie is deur Carel Cronjé en Cornell Boshoff van Carnell Collective vervaardig. Stem en instrument verweef in harmonie en skep ʼn klankbord waarop woord en melodie knus voorop pronk.

As jy klaar na die meisie van die Klein-Karoo se album, Vertel My, geluister het, sal jy die ganse wêreld daarvan wil vertel!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Brendan Peyper – Dis alles jy nuwe enkelsnit!

Met meer pret en lighartige liedjies soos “Lekkerder op my Trekker” en “Vasdanslyf ” op …

10 miljoen trefslae vir Boerepompie!

Op 7 April 2020 word die treffer Hardekole (Ricus Nel ft. Refentse, Adam Tas & …