Soek jy jou somerlyf terug? Ons vertel jou hoe!

340

Die somer is net vier maande weg en tog, terwyl jy jou lyf in die spieël staan en bekyk, kom jy agter dat jy (skielik) ’n ekstra vetlagie rondom jou maag gekry het! Jy besluit dat dit tog nie gaan help om daardie boks koekies wat jy gisteraand geëet het weg te redeneer nie. Dis tyd om beter besluite te neem! Jy’s vasbeslote om jou bikini-lyf terug te kry!

Ivana Buchana, nasionale fiksheidsbestuurder van Zone Fitness, stel die volgende 5 maniere voor om jou lyf terug te kry.

Hou by jou roetine
Ons almal weet die winter maak mens lui! Dis nie so maklik om, soos in die somer, 05:30 op te staan om te gaan oefen nie. Die belangrikste ding is om nie lui te raak nie, maar om aan te hou oefen. Bly by jou daaglikse roetine, ongeag hoe moeilik dit is. Jy sal beloon word vir jou moeite en jou dissipline.



“Kry ’n vriend om saam met jou te oefen” sê Buchanan, “dit is moeiliker om vir iemand anders ‘nee’ te sê as vir jouself en dit sal jou aanmoedig om aan die gang te bly.”

Let op wat jy eet (en drink!)
Dis baie belangrik om op te let wat jy eet. Probeer om versadigde vet en koeldranke met ’n hoë suikerinhoud te vermy. Probeer ook om minder koolhidrate te eet, veral saans. Sê totsiens vir brood, pasta, kraakbeskuitjies en koekies. Verminder ook jou kalorie-inname deur minder alkohol te drink.

Eet meer proteïene
Kos met ’n hoë proteïen- en veselinhoud laat jou gouer versadig laat voel. Dit beteken dat jy nie so gereeld honger sal wees nie, en dus ook nie so gereeld sal eet nie.

“Neute is ’n wonderlike proteïenbron” sê Buchanan, “en sal jou ’n natuurlike energiehupstoot gee.”

Drink genoeg water
Baie mense onderskat die krag van water. Hoe meer water jy drink, hoe meer kalorieë verbrand jy. Water maak ook jou vel skoon en glad, verhoog jou energievlakke en hou jou versadig tussen maaltye.

Versterk jou oefenprogram
Wanneer jy die intensiteit en frekwensie van jou kardio-oefeninge verhoog, sal jy opmerk dat jy in staat is om meer vet te verloor. ’n Intensiewe oefenprogram help om jou melksuurvlakke te verhoog. Dit beteken dat jy vinniger meer kalorieë verbrand – jou liggaamsvet word dus brandstof wat jou metabolisme aanhits. Probeer om op oefening te fokus wat ’n kombinasie van jou spiergroepe gebruik – soos hurkskoppe, spronge en opstote.

Hou jou doel voor oë en bly gedissiplineerd. Jy sal sommer gou-gou weer lyf kan wys!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments