Donderdag , November 22 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Snotkop is Souserig – nuwe album en enkelsnit!

Snotkop is Souserig – nuwe album en enkelsnit!

Snotkop het ‘n soliede reputasie van albums wat so oorloop van lekkerkry dat dit voel of dit onwettig behoort te wees. Sy kraakvars nuwe vrystelling, “SOUS”, is geen uitsondering nie!

 Van die eerste pols tot die laaste eggo in die 13 snitte wat die album beslaan is dit duidelik dat hierdie ‘n gekonsentreerde sous, propvol Snotkop-oemf is: ritmies, selfversekerd, tong in die kies, meer as net ‘n bietjie stout, bekkig en braaf!

Daar’s dik baslyne wat enige iets binne dieselfde skakelkode as jou kuier sal skud, met ‘n gesonde dosis techno, afgewissel met meer akoestiese oomblikke, en selfs ‘n brokkie reggae en ‘n tikkie sakkie-sakkie hier en daar – iets wat ewe tuis sal wees by ‘n sokkie dansvloer, klub of ‘n strandpartytjie vir die boeke.

Meeste van die snitte het hope tempo en skop, maar daar’s ook ‘n paar wat rustiger is vir bietjie asemskep… vir diegene wie se partytjie-lywe bietjie oefening nodig het.

Die snitte op die album getuig van ‘n ou wat wéét hoe om te jol en bes moontlik net slaap wanneer dit nou régtig moet. Dit sluit “Souserig”, “Kortbroek en plakkies”, “Dik in Desember”, “Dropit soos ‘n Disprin”, “Jy raas”, “Jeukerig”, “Plat plaasmatras” en “Proe soos naweek” in.

Een ding is vir seker: As jy nie met ‘n glimlag op jou bakkies geplak staan en groove saam met die ritmes van hierdie album nie, is jy waarskynlik besig om, onwetend, eintlik na iets anders te luister!

Dié album vanaf 20 Jul landswyd beskikbaar, maar wees versigtig: as jy hom aanskaf, sal jy beslis ook moet belê in ‘n groter stel luidsprekers, want dié SOUS word nie bietjie-bietjie gegooi nie!

Die enkelsnit is tans na radio stasies gestuur en jy behoort dit binnekort te hoor!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Wen ‘n studiebeurs met DZL en Gameways!

Die manne van die duo-groep DZL is bekend vir hulle liefde vir die natuur; as …

Sally Williams Nougat kry nuwe baadjie!

SALLY WILLIAMS NOUGAT is nie net die treffer wat die bekroonde liedjieskrywer, sanger, rubriekskrywer en …