Donderdag , November 22 2018
Home / Music / Sky Ocean ontbloot haar siel met nuwe enkelsnit!

Sky Ocean ontbloot haar siel met nuwe enkelsnit!

Sky Ocean het een van daardie stemme wat jou in jou spore laat vassteek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is hoendervleismooi emosie en ’n strelende klank in haar stem wat jou uitnooi om verlore te raak in haar musiek. Dit is dan ook hierdie eienskappe wat haar derde enkelsnitvrystelling, BLACKHOLES IN MY HEAD, so besonders maak.

BLACKHOLES IN MY HEAD is ’n moderne ballade met ’n pop-rock-aanslag. Hierdie ballade is in Australië geskryf in samewerking met Byron Keno en bevraagteken al die onbeantwoorde vrae wat daar oor liefde bestaan. Al daardie dinge oor die liefde wat niemand verstaan nie. “Somtyds gee jy jou alles vir iemand of iets nog voordat julle amptelik ’n paartjie is. Jy leer nie eers hoe om te vlieg voordat jy val nie, jy vat ’n kans en laat net gaan met ’n hart vol hoop en vertroue dat dit sal uitwerk. Wanneer dit ’n week later nie uitwerk nie, beweeg die persoon so vinnig aan en jy sit met die gebroke hart, kop vol gedagtes en ’n gekneusde selfbeeld. Ek was verlede September juis self in hierdie bootjie en my ervaring was ook die inspirasie agter die liedjie,” verklap die talentvolle sangeres en liedjieskrywer oor haar nuutste vrystelling. “Ek dink hierdie is ’n boodskap waarmee luisteraars sal kan vereenselwig. Liefde is ’n ontasbare ding wat jy voel maar nie kan vat nie, wat sin maak maar tog ook nie, maar mense is nie liefde nie. Mense voel net lief. So dis eintlik mense wat ons nie verstaan nie. Dis gekompliseerd, maar mens kan nie mense vergelyk met liefde nie. Aksies praat harder as woorde.”

Die musiekvideo van die enkelsnit is reeds ‘n tyd gelede vrygestel en is in ’n huis verfilm wat op die Johannesburgse middestad uitkyk deur Kyle White TV. “Dit gaan oor ’n onstuimige liefdesverhouding, waar die paartjie ’n liefde-haat-verhouding ontwikkel. Waar hulle eens so verlief was (herinneringe), kan hulle mekaar nou skaars uitstaan. Die mooi het seer geword.  Tog kom hulle altyd weer terug na mekaar toe, want al is dinge onrustig voel hulle steeds veilig by mekaar,” sê sy. “Op ’n stadium in die video voer ek ’n stryd met myself, want ek weet wat ek voel is liefde en hy bly basies vir my sê dat my pogings nie goed genoeg is nie. Dit maak my hartseer en kwaad op dieselfde tyd.” Kyle het die storiebord opgestel en die projek bestuur. Sy vrou, Chanel, was die grimmeerkunstenaar en ’n akteursvriend, Thiardt Roetz, het teenoor haar in die video gespeel.

BLACKHOLES IN MY HEAD is deel van Sky Ocean se debuut-album, Spore Van My Hart, ’n kontemporêre opname wat haar veelsydigheid as sanger en liedjieskrywer ten toon stel. Dit bestaan uit ’n verskeidenheid Afrikaanse en Engelse snitte, in verskillende style, wat verseker dat dit aan elkeen se smaak sal voldoen.

Daar is nie vir haar ’n spesifieke oomblik wat sy besef het dat sy ’n musikant wou word nie en meen dat dit iets is wat net nog altyd daar was. Sy kon immers sing voordat sy kon praat en oor die jare het haar passie vir musiek net meer-en-meer gegroei. Sy spog met ’n graad vyf musiekkwalifikasie van UNISA, asook graad ses stemopleiding van Trinity London College en graad sewe stemopleiding van Rockschool.

Die kunstenaar het waardering vir ’n wye verskeidenheid musiek (veral uit die tagtigs en deur Demi Lovato) en beskou die internasionale ster, Demetria Devonne Lovato, as een van die grootste invloede op haar eie outentieke musiekstyl. “Dit sal vir my ’n groot voorreg wees om in die toekoms saam met kunstenaars soos Elvis Blue en Die Heuwels Fantasties te werk”, deel die sangeres.

As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit soms van persoonlike ervarings of uit ander mense se stories kom, maar dat sy net iets kan sing as sy haar eie hart daarvoor oopmaak. Sy verklap ook dat sy oorspronklik teologie wou gaan studeer het, maar dat die Here ’n ander plan vir haar gehad het.

Daar is nog baie wat sy in die toekoms wil bereik en sy is nie bang om groot te droom nie. “Ek sal graag met BLACKHOLES IN MY HEAD internasionale status wil bereik, selfs platinum as ek kan en hoop dat ek ook benoem sal word vir toekennings vir hierdie liedjie. Ek skiet vir die maan, en wie weet, dalk eindig ek dalk nog tussen die sterre op. Daar is nie ’n ander opsie as musiek nie, geen plan B nie,” deel sy.

Die musiekbedryf het haar geleer dat harde werk, uithouvermoë en geduld die sleutelbestanddele is tot sukses en dat jy nooit in jouself moet twyfel nie. BLACKHOLES IN MY HEAD is nie net ’n bewys van Sky Ocean se uitsonderlike talent nie, maar gaan beslis ook vir haar ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers en op die treffersparades van die land se grootste radiostasies vestig.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Instagram: @skyoceanofficial

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Help needed: Beloved Cape Town Radio Presenter Faces Terminal Cancer Diagnosis

eloved radio presenter, Ian Ward (42), from Cape Town, has been diagnosed with Stage 3B …

Suid-Afrikaner slaan Londen stom met liedjie wat in bad geskep is!

Dit was die Suid-Afrikaanse kunstenaar, ANNA WOLF, se droom om saam met musiekvervaardiger, Pete Boxta …