Wednesday , September 30 2020
Cheap domain registration and hosting!

Seisoen 5 van Getroud met Rugby!

Seisoen 5 van Getroud Met Rugby het op 20 Julie 2020 op ’n hoë noot afgeskop. Die Covid 19-pandemie, én die gepaardgaande protokolle, het beslis sekere uitdagings vir die produksiespan teweeg gebring. Dit was, en is steeds, ’n tyd van aanpassing en verandering, maar Deon Opperman en sy span is trots daarop om steeds een van kykNET se gewildste sepies te kan vervaardig, én om kykers met ’n splinternuwe seisoen te bederf.

“Om ’n groot produksie soos Getroud Met Rugby vir kykNET te kan vervaardig, is reeds ’n voorreg vir ’n skrywer/vervaardiger. Om dit dan vir vyf jaar te kan doen, is werklik ’n besonderse voorreg. Toe ek jare gelede aan die eerste seisoen van die destydse dramareeks geskryf het, het ek nooit kon dink dat GMR so ’n lang lewe sou hê nie. My opregte dank en waardering aan kykNET en al die honderde kunstenaars wat oor die jare tot GMR se sukses bygedra het.” Deon Opperman, vervaardiger.

Tesame met die bekendstelling van Seisoen 5, is die manne (en dames…) van Getroud Met Rugby bevoorreg om vir Theodore Jantjies by die Stryders te verwelkom. Theodore vertolk die rol van Jordan James, die Stryders se nuwe kondisioneringsafrigter. Jordan is pas terug van Nieu-Seeland, waar hy ná ’n tragiese gebeurtenis vir ’n tyd lank gaan woon en werk het. Theodore sê hy is baie opgewonde oor dié rol: “Dis ’n rol wat ek nog nie op die verhoog, of selfs op skerm vertolk het nie. Dis heeltemal anders as waaraan ek gewoond is…” Kyk hier na die volledige video-onderhoud op kykNET se webblad, waar hy meer oor dié nuwe karakter verklap.

Kykers kan uitsien na nog meer intrige, romanse, en baie drama. Amanda (Natasja Jacobs) keer terug nadat sy vroeër vanjaar koue voete gekry het toe Reitz (Sean van Noordwyk) volgens haar té ernstig wou raak. Gaan sy hom hierdie keer ’n kans gee?

Ryno (Adrian Steyn) en Thinus (Arno Marais) se huwelik word getoets wanneer Ryno besluit om ’n klerereeks saam met die mode-ontwerper Anton (Tiaan Kelderman) te begin. Sal ware liefde oorwin?

Die huidige ekonomiese klimaat laat ook nie die Stryders onaangeraak nie. Bart (Pierre Breytenbach) het sy hande vol om die Stryders se toekoms te verseker terwyl hy ook verbete vir Kristien (Marlee van der Merwe) se hart baklei.

’n Ongemaklike situasie ontstaan wanneer Simon (David Louw) sy ma, Yvonne (Karin Retief) aan Lulu (Ansu Visser) se alternatiewe ouers (Gretha Brazelle en Jürgen Hellberg) voorstel. Candice (Claudia Jones) en Liam (David Johnson) se verhouding blom, totdat Candice se ma, Priscilla (Shemane Harris) by die Willemses kom loseer en daarop aandring om in Candice se sukses te deel.

’n Splinternuwe humoristiese karakter, Nesie (Melissa Massyn) trek by die Beltrames in. Dié interessante jong dame, ’n kennis van Festus en Koekie se vriend se niggie, gaan kykers laat skaterlag. Nesie se onkonvensionele lewensuitkyk en reguit manier van leef, gaan boonop ’n teddiebeer-Stryder se hart laat smelt.

Soné Combrinck, uitvoerende vervaardig sê: “Getroud Met Rugby gaan oor die volgende paar maande vir kykers ’n roller coaster ride bied. Verwag liefdesdriehoeke, interessante nuwe karakters, pragtige nuwe stel-ruimtes, gesondheidskwessies, en ’n troue of twee…”

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Afrikaans gaan Global! Moenie dit mis nie!

’n Lewendige stroomkonsert, Afrikaans Gaan Global, sal op Saterdag, 5 September, grense oorskry om verligting …

Kyk die amptelike lokprent van Meisies wat fluit hier!

Is daar hoop vir ’n tweede kans na ’n verbrokkelde huwelik? Miskien, maar nét as …