Thursday , October 22 2020
Cheap domain registration and hosting!

Saarkie vier die Lentereën met die vrystelling van ‘n nuwe musiekvideo!

Daar is nie ’n beter manier om die opwinding en vrolikheid van die lente te vier as met ’n opgewekte en romantiese musiekvideo deur Suid-Afrika se gunsteling rock-evas, SAARKIE, nie.

REËNWEER, wat reeds besig is om die trefferleer te klim nadat dit onlangs vrygestel is, se musiekvideo vertel die verhaal van ’n plaasseuntjie wat elke dag hoop dat die meisie van sy drome hom sal raaksien. Alhoewel sy klaarblyklik onbewus is van sy bestaan, verloor hy nie moed nie, en neem hy elke dag sy sambreel saam skool toe… vir ingeval dit dalk reën en hy dit vir haar kan aanbied.

“Ek en Mjön van Blommestein het met die konsep vir die video opgekom,” verklap voorsanger, Adelè Fouché, oor wat agter-die-skerms gebeur het. SAARKIE se instrument-insetsel is deur Willem Foster by SunshineCo. in Johannesburg verfilm, terwyl Mjön die kinders op ’n grondpad in Pretoria afgeneem het en self ook verantwoordelik was vir die redigering van die video.”

REËNWEER is ’n lekkerluister rocksnit, uit Adelè se pen, wat gedurende die eerste vyf weke van die grendeltydperk geskryf is. Dit is die groep se eerste vrystelling nadat hulle vir ’n rukkie stil was. “Gedurende inperking, het die paaie ewe skielik stil geword in die aand. Die geraas van karre, is vervang deur naggeluide,” verklap die meisies oor die inspirasie agter die lied. “Almal wil iemand naby aan hulle hê. Grendeltyd het ons fokus geskuif na die dinge wat belangriker is as die gejaag van die daaglikse lewe.”

Dié snit bou natuurlik voort op die unieke rockklank waarvoor die groep bekendheid verwerf het en is een van daardie liedjies wat jou dwing om stil te staan en te luister wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. Dit is reeds baie goed deur die publiek ontvang en kan gereeld oor die radio gehoor word.

SAARKIE, wat bestaan uit Adèle, Mjön en Lila Botha, vier vanjaar hulle elfde bestaansjaar en word beskou as een van die mees suksesvolle rockgroepe in die land.

Die Saarkies het bekendheid verwerf vir hulle energieke elektries-akoestiese styl en is oor die jare vir verskeie Ghoema- en SAMA-musiektoekennings benoem, waaronder Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo en Groep van die Jaar. Hulle is ook ’n gereelde gesig by Suid-Afrika se grootste muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, Innibos en meer.

REËNWEER se vrystelling is net die begin van baie nuwe en opwindende dinge vir SAARKIE, wat verklap dat hulle binnekort terug is in die ateljee om nuwe musiek op te neem. ’n Eksklusiewe reeks Saarkie-toebehore sal ook binnekort aanlyn te koop wees. “Ons beplan ’n klomp opwindende verrassings waarna aanhangers kan uitsien,” meen die trio.

Net soos wat die lente nuwe groei en lewe bring, is SAARKIE ook besig om te bou aan ’n splinternuwe seisoen van hulle loopbaan. Met REËNWEER herinner die groep luisteraars nie net weer hoekom hulle so gewild is nie, maar bied hulle ook ’n voorsmakie van waarna musiekliefhebbers kan uitsien.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Breeknuus: Daai deng tref die aarde!!

Is it on? Welkom by die vandag se nuus. My naam is Refentse Cruywagen. Ons …

Resensie: Jan Blohm se nuwe album – Jenny

Kunstenaar: Jan Blohm Album: Jenny Resensie: 10/10 Die eerste keer toe ek van Jan Blohm …