Dit is reeds met die eerste oogopslag dat ‘n mens weet dat iets werklik merkwaardig omvou word deur die swart en goue baadjie van Romanz se album, ‘Grootste Treffers” – ‘n finale encore vir Suid-Afrika se gunsteling mannekwartet. 40 treffers, 5 nuwe opnames in ‘n ware versamelstuk!
Dié viermanskap, wat reeds sedert 2008 Suid-Afrikaanse- en wêreldgehore betower met hul meesterlike harmonieë, het oor die verstek van 6 jaar ‘n lig-klassieke sensasie geword wat die kalklig telke male met die grootste name in musiek, en selfs koninklikes, gedeel het.
In Februarie 2014 het hulle die besluit geneem om die musiekindustrie met ‘n laaste album, ‘Lig Jou Stem Op’, vaarwel te roep en te fokus op hul invididuele loopbane en mikpunte.
‘Grootste Treffers’, ‘n dubbel-cd album, is ‘n juweelversameling van Romanz-gunstelinge en vat al die nuanses wat eie is aan dié groep, van fluweelsagte solo’s tot kragtige hoendervleis-harmonie met volle simfonie, in ‘n musikale skatkis vas.
Dié album is ‘n kleurryke vermenging van nuutskeppings sowel as nuwe vertolkings van reeds- bekende werke, met sekulêre treffers wat fyn verweef is met gospel elemente in ‘n fees van musiek in Afrikaans, Engels en Italiaans.
Snitte soos ‘My Hele Hart’, ‘Houtkruis’, ‘You Got It’, ‘Glaskasteel’ (saam met Nianell), ‘Neem My Op Vlerke’, ‘Reik Na Die Sterre’, ‘Ek sal getuig’, ‘Hierdie aand’, ‘African Dream’, ‘I want to spend my lifetime loving you’, ‘Vicino A Me’, ‘Die Onse Vader’ en vele ander sorg vir meer as 2 ure van van die beste wêreldgehalte luistergenot wat Suid-Afrika nog opgelewer het.
Die album spog met 5 splinternuwe snitte – ‘Waterval’, ‘Jou Hart Is Weer Myne’, ‘Breek Die Stilte Nou’, ‘Soebat’ en ‘Ek Leef My Droom’ – met laasgenoemde wat die hart waarmee die vier hierdie laaste encore opgeneem het met passie en opregte dankbaarheid blootlê.
Soos die manne van Romanz in die album se omslag sê: “Na 6 absoluut onvergeetlike en geseënde jare was dit dié perfekte not om hierdie beweging in elkeen van ons se concerto op af te sluit. Die droom hou egter nie hier op nie want dit leef voort in elkeen van ons… so hierdie is net die begin!”
‘Romanz Grootste Treffers’ is nou landswyd beskikbaar.