Rocco de Villiers se nuwe album is hier!

334

Die bekroonde en uiters begaafde pianis, Rocco de Villiers, het beslis geen bekendstelling nodig in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie. Sy unieke klavierstyl, eiesoortige komposisies en verwerkings, en sjarmante verhoogpersoonlikheid, het musiekharte van dag een af kom verower. Dertien albums later bou hy steeds voort op dié wenresep.

Oor die jare, is hierdie talentvolle musikant se werk bekroon met verskeie pryse, waaronder SAMA-, Huisgenoot Tempo-, Ghoema-, Vonk- en Cape Theatre-toekennings, en sy mees onlangse album, Beautiful Beautiful Hymns, het ook pas GOUE VERKOOPSTATUS bereik. Die geestelike album, wat in 2015 uitgereik is, bevat hoendervleismooi weergawes van die allermooiste en bekendste gesange, soos Ava Maria, Heilig Heilig Heilig, Hoe Groot is U, Nader My God By U, Genade Onbeskryflik Groot, Stille Nag, ensoovoorts, en sluit moderne verwerkings deur Marius Brouwer, asook solo-stukke deur ander instrumente soos ’n doedelsak, kerkorrel, viool, trompet en trekklavier in. “Beautiful Beautiful Hymns is veel meer as ’n geestelike album. Dit is ’n samestelling van lofprysing, vreugde, geloof deur musiek en ’n feesviering van skoonheid. Die melodieë het almal die toets van die tyd deurstaan en neem my na ’n plek – binne myself – wat my op ’n uiters besondere wyse aanraak,” deel Rocco.

Beautiful Beautiful Hymns 2, wat in Junie 2017 uitgereik word, bou voort op die sukses van die vorige album. Dit fokus hoofsaaklik op Afro-Amerikaanse geestelike musiek soos Amen, Down by The Riverside, Kumbaja My Lord en vele meer. Anneli van Rooyen se Halleluja, Hallelujah van Leonard Cohen, asook Koos du Plessis se Gebed en Somerkersfees, wat teen nou so diep in die volksmond lê dat dit in die moderne Liedboek vervat is, kan ook op hierdie treffende CD gehoor word. Die vyftiensnit-album word afgesluit met een van Rocco se eie komposies, Liewe Hemel, Liewe Aarde. Hy sê: “Die stuk is 100% instrumentale popmusiek en ’n viering van Suid-Afrika se ongelooflike skoonheid, waarvan ons so maklik vergeet in die moeilike tyd waarin ons land en die wêreld tans is.”

Marius Brouwer, die SAMA-bekroonde verwerker en vervaardiger saam met wie Rocco die afgelope vyf-en-twintig-jaar albums maak, is weer aan stuur van sake in die ateljee. Raymond Green doen ongelooflik kitaarwerk en violiste, soos die immergewilde Lizelle le Roux, stryk dat die biesies bewe. “BEAUTIFUL BEAUTIFUL HYMNS 2 het ’n stewige popkwaliteit, sonder om die boodskap van hoop, vreugde en vrede van hierdie ongeloofike stukke in te boet,” vertel die musikant.

Buiten vir verskeie verhoogproduksies, kan Rocco ook met twee Mengeldrankie-boeke, ’n lewendige DVD-opname en ’n boek met klavierbladmusiek spog. Hy was ook betrokke by die klankbaan van die Amerikaanse fliek, Brewsie & Willie, het temamusiek geskryf vir nege televisiereekse, is die vervaardiger van twee televisiereekse en dokumentêre programme vir M-Net oor die geskiedenis van musiek en het sy lyf ook aanbieder gehou vir drie kykNET-programme, Kook en Klavier, Rocco en Klop die Klawers. Hy is duidelik ’n man van vele talente en die sukses, wat hy met elke projek bereik wat hy aanpak, laat aanhangers uitsien na wat hy volgende beplan.

BEAUTIFUL BEAUTIFUL HYMNS 2 word in Junie 2017 digitaal vrygestel, sal in Julie 2017 op winkelrakke beskikbaar wees en word van 3 tot 13 Augustus 2017 amptelik bekendgestel met die verhoogproduksie, AMAZING GRACE 2, by die Pieter Toerienteater, Montecasino in Johannesburg.

LIEDJIES OP DIE NUWE ALBUM

  1. Halleluja (Anneli Van Rooyen)
  2. Kumbaya My Lord
  3. Somerkersfees
  4. You’ll Never Walk Alone
  5. Hallelujah (Leonard Cohen)
  6. Pie Jesu
  7. Mary’s Boy Child
  8. The Little Drummer Boy
  9. Down by the Riverside
  10. When The Saints go Marching In/ Swing Low, Sweet Chariot
  11. Gebed
  12. Amen
  13. Hymne a L’Amour
  14. All Things Bright and Beautiful
  15. Liewe Hemel, Liewe Aarde

GAAN KYK ROCCO SE VORIGE MUSIEKVIDEO’S:

Music Box Dancer

Chariots of Fire

You Raise Me Up

Sarie Marais

Amazing Grace

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Web 

Facebook

Twitter: @RoccodeVilliers

iTunes

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments