Saturday , January 16 2021
Cheap domain registration and hosting!

Rinél Day – Dit Staan In Die Sterre

Met 22 nommer 1’s op radiostasies regoor Suid-Afrika in 2013 én ’n 16de plek by ’n internasionale kompetisie waarby Celine Dion 2de geeïndig het, is dit duidelik: die talentvolle Rinél Day is een dinamiese sangeres om voortaan dop te hou.

Rinél wil geen steen ongaangeroer laat in haar droom om musiek te maak nie. Dus het sy nie geskroom om ook self te begin skryf aan die liedjies wat op haar pas vrygestelde album, Dit Staan In Die Sterre, verskyn nie.

“Ek het geen van die liedjies op my debuutalbum, Rinél Day, geskryf nie. Ek het egter help skryf aan die liedjies vir my nuwe album, Dit Staan In Die Sterre, en dit bevat soveel meer van my eie styl. Die lirieke en melodieë van elke snit op die album vertel ’n storie,” het Rinél vertel.

Die album bestaan uit 16 snitte en is ’n genotvolle kombinasie van beide ontspanne en opgewekte, musiek. Rinél gee erkenning aan Michael de Lange, Johan Oberholzer, Emil Struwig en Waldo Greeff wat gehelp het om die liedjies neer te pen asook aan Byron Kuntz wat die album vervaardig het.

Sy meen dat daar iets vir almal op haar nuutste album is.

“Ek het probeer om elemente van pop, rock en country by die album in te bring en Byron Kunts het daardie elemente presies vasgevang.”

Haar suiwer stem word veral uitgebeeld in vokaal uitdagende liedjies soos die titelsnit, Dit Staan In Die Sterre asook Maak My Joune, ’n Duisend Gedagtes en As Jy My Laat Gaan. Daar is ook een gevoelvolle duet saam met Elvis se Seun op dié album wat ’n mens oor en oor wil luister.

Die album is skaars vrygestel maar vorder reeds uitstekend.

“Tot dusver verskyn die titel snit, Dit Staan In Die Sterre, reeds op drie verskillende radiostasies se charts en daar is baie goeie terugvoer,” het sy gesê.

Rinél verskyn ook op 29 Maart op die gewilde program Jukebox waartydens haar eerste musiekvideo #DitStaanInDieSterre eksklusief vir die eerste keer gespeel sal word.

Rinél hoop om in elke dorp regoor Suid-Afrika op te tree. Hou hierdie donkerkop dop!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

10 miljoen trefslae vir Boerepompie!

Op 7 April 2020 word die treffer Hardekole (Ricus Nel ft. Refentse, Adam Tas & …

Water onder Andriëtte se brug!

Met Platinum-toekennings agter haar naam, is Andriëtte een van Suid-Afrika se top Afrikaanse Vroulike kunstenaars …