Friday , February 26 2021

Riaan Grobler gee moed met – Dis die liefde!

Musiek tel mens op, gee jou moed en daai ekstra asem wanneer jy voel joune raak op. Riaan Grobler se vorige album met die titel Rerig Erig het hom in die kontemporêre mark gevestig. Riaan se vyfde en nuutste album met die titel Dis die liefde, is ‘n 16-snit album gelaai met splinternuwe Afrikaanse treffers en baie verrassings.

Van hierdie verrassings sluit in 4 duette met van die Afrikaanse musiekbedryf se gunsteling kunstenaars en Riaan vertel opgewonde: “Ek het vir jare al ‘n groot bewondering en respek vir Juanita du Plessis. Vandat Skarumba uitgekom het, het ek nog altyd vir myself gesê ek gaan eendag nog ‘n duet saam met haar opneem en nou het hierdie droom ‘n realiteit geword. My ma gaan tans deur ‘n moeilike tyd en dit beteken vir haar persoonlik ook baie”. Juanita sing saam met Riaan ‘n ou-bekende treffer van Bles Bridges, Laat my lewe, laat my liefhê en dit is volgens Riaan een van sy gunsteling liedjies op die album.Riaan Grobler cover

Die ander duette sluit in die nostalgiese treffer Karoonag wat Riaan en David Fourie met soveel gevoel sing dat dit jou laat terug verlang na verlore dae, asook ‘n duet, Drie wense, saam met die bekende tv-aanbieder, akteur en sangeres, Nadia Beukes van Boer soek ‘n Vrou wat Waldo Greeff spesiaal geskryf het.

Rinel Day en Riaan Grobler gooi nou hul gawes in ‘n musikale mandjie. Hulle pak ‘n pragtige nuwe duet aan en dié weergawe bewys dat hulle saam ‘n nuwe klank vir saamsing- en dansmusiek bring. Die pragtige snit, Mi Amore, is deur ‘n Sweedse skrywer geskryf en is ook die eerste enkelsnit van die nuwe album wat op verskeie radiostasies speel. Die mooi lirieke en spesiale melodie sorg dat Rinel en Riaan hul unieke stempel vir die aanvoeling en liefde vir musiek daarop kan afdruk. Elke troue, kuiergeleentheid en dansvloer sal hierdie nuwe treffer verwelkom en Mi Amore is reeds besig om die trefferlys te klim by verskeie radiostasies landswyd.

Verder beloof die album splinternuwe treffers uit die pen van Sarah Theron. Sarah het aan Riaan se vorige album geskryf en treffers gelewer soos Die hemel gooi sy sterre en In Hollywood. “Sarah weet presies waaroor ek wil sing en die lirieke uit haar pen pas so reg in my genre”, vertel Riaan. Hy is besonders opgewonde oor die titelsnit Dis die liefde. “Ek wou nog altyd ‘n wals sing en Sarah het die perfekte liefdeswoorde hiervoor geskryf”, gesels Riaan verder. Rooi Granaat vertel verder van die liefde, Kinderjare vat jou terug na kinderherrinneringe, Jakarandastad gaan oor Pretoria en sy bakens en Elke dag is ‘n geskenk het ‘n dieper betekenis wat jou net weer herrinner aan die mooi van elke dag.

Dis die liefde is vir Riaan ook ‘n baie persoonlike album. Hy dra dit op aan Les Swart wat volgens Riaan liefde vir musiek vir hom aangeleer het. “Tannie Les was ons buurvrou en was soos ‘n tweede ma vir my en is onverwags in die begin van die jaar na ‘n beroerte oorlede en ek het nie kans gehad om totsiens te sê nie. Ek het ure saam met haar voor die plate- en cd- speler spandeer en dit is waar my liefde vir musiek ontstaan het. Sy was ook die persoon wat altyd moes kom luister hoe ek liedjies oefen of orrel speel en sy sou vreeslik trots gewees het op hierdie album”, vertel Riaan emosioneel. Sy broer, André, is ook 5 jaar gelede skielik oorlede en Die nuwe Jerusalem is as bonussnit bygevoeg ter nagedagtenis aan hom.

Sy aanhangers kan ook uitsien na sy vertolking van It must be love, die bekende Country- treffer van Don Williams, en Gooi ‘n bietjie lyfie, wat jou na die dansvloer sal lok. Jy’s my engel is ‘n mid-tempo ballade met besonderse lirieke wat elke verliefde-paartjie met oorgawe gaan luister.

Die die liefde hoort in elke Afrikaanse musiekliefhebber se versameling. Dit is ‘n lekker- luister album met ‘n groot verskeidenheid treffers wat in almal se smaak sal val.

Volg hom op:
Facebook
Twitter: @RiaanGrobler
Instagram: @RIAANGROBLER
Of besoek www.riaangrobler.co.za vir toerbesonderhede en nuus.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Brendan Peyper – Dis alles jy nuwe enkelsnit!

Met meer pret en lighartige liedjies soos “Lekkerder op my Trekker” en “Vasdanslyf ” op …

10 miljoen trefslae vir Boerepompie!

Op 7 April 2020 word die treffer Hardekole (Ricus Nel ft. Refentse, Adam Tas & …