Home / Afrikaanse flieks en Teater / Republiek van Zoid Afrika 5de reeks vanaf 10 Mei op kykNET!

Republiek van Zoid Afrika 5de reeks vanaf 10 Mei op kykNET!

Suid-Afrikaners kan hul paspoorte afstof vir ’n onvergeetlike besoek aan die Die Republiek Van Zoid Afrika. Die splinternuwe seisoen van kykNET se bekroonde geselsprogram met Karen Zoid as aanbieder begin op Donderdag, 10 Mei. In die nuwe reeks vergroot President Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes.

Republiek van Zoid Afrika is onlangs vir die derde keer as Suid-Afrika se beste geselsprogram aangewys toe dit ’n SAFTA-toekenning hiervoor ontvang het, terwyl die reeks ook al talle Huisgenoot Tempo-toekennings opgeraap het.

Van die gaste in hierdie reeks is Eben Etzebeth, Refentse, Johnny Clegg, Jo Black, Minki van der Westhuizen, Franz Marx, Patricia Lewis, Yvonne Chaka Chaka en Johan Stemmet.

Carien Loubser, die reeks se vervaardiger en regisseur sê: “Daar is hoendervleis-oomblikke, daar is snaakse oomblikke en daar is diep oomblikke – alles saam verpak in ’n uurlange episode.”

Ouder gewoonte sal episodes afgesluit word met verwerkings van trefferliedjies en in Apple se iTunes-aanlynmusiekwinkel beskikbaar gestel word. Vorige seisoene se verwerkings het keer op keer iTunes se trefferlys gedomineer.

Karen is veral baie opgewonde oor die vyfde reeks se musiek. “Ek en die musiekvervaardiger van die RZA album, Theo Crous, is oortuig daarvan dat hierdie album, die beste nog is,” sê Karen.

“Mense wag met elke episode vir die liedjie aan die einde en dit is vir ons ’n hoogtepunt om die program só af te sluit.”

Kykers kan ook weer uitsien na skreeusnaakse insetsels met die Republiek van Zoid Afrika se geliefde panfluitsensasie, Marinda Senekal en haar maltrap familie.

Republiek van Zoid Afrika word vanaf 10 Mei op Donderdae om 20:30 op kykNET uitgesaai.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Suid-Afrika se gunsteling-komediant is terug op die grootskerm!

Hou vas aan jou sitplek want die grapjas, Leon Schuster, is terug met ’n splinternuwe …

Binnelanders se nuwe gesigte!

Van Junie af is daar heelwat nuwe dinge om na uit te sien in BINNELANDERS …