Woensdag , November 14 2018
Home / Music / Qwade Dunn stel nuwe somertreffer vry!

Qwade Dunn stel nuwe somertreffer vry!

Wat is die geheim vir die perfekte somertreffer? Vars veelsydige talent, ’n opgewekte wysie en ’n eg Suid-Afrikaanse klank… Qwade Dunn se nuwe enkelsnit, GIRLFRIEND, voldoen beslis aan al hierdie vereistes en meer!

Met ’n speelse interpretasie van lewenslus en liefde, is dié verwerking – uit die pen van Qwade, Jazz Purple en ManCub (wat onlangs saam met Ray J en Rich The Kid gewerk het) – ’n goedvoel popliedjie wat Dunn se kenmerkende plaaslike klank met internasionale tendense verweef. Wat dit selfs nog meer uniek maak, is die mens agter die musiek. “My materiaal is doodeerlik; iets waarna ek nog altyd streef in my werk en lewe. Ek dra my hart op my mou, of dit nou goed of sleg is,” verduidelik die kunstenaar.

Wanneer jy na GIRLFRIEND luister, is dit maklik om te glo dat hierdie talentvolle ster oornag sukses behaal het, maar eintlik is hy al meer as ’n dekade lank doenig in die musiekedryf en glo hy dat “sukses, in enige vorm, harde werk, fokus en ’n bietjie geluk” vereis.

Die fotografie vir die enkelsnit is boonop ook deur Edward Cook behartig, wat al saam met musikante soos One Direction se Liam Payne, Jorja Smith, Khalid en Craig David gewerk het om net ’n paar te noem.

Qwade het in die dorpie Eshowe in KwaZulu-Natal grootgeword. As tiener, het dié plaaslike sanger Nieu-Seeland toe getrek om verder te gaan studeer. Met ’n passie en begeerte om naam te maak in die musiekbedryf, het hy self vir sy eerste musiekopname en -video betaal en dit het die aandag van die Britse agent, Johnathan (Jay) Jules, getrek. Nadat hy deur Sony Music ontdek is, het Dunn sy eerste amptelike enkelsnit, We Are, vrygestel wat in 2012 deur die Britste vervaardiger, James Reynolds, vervaardig is. Dié snit het speeltyd gekry op Nieu-Seeland se ZM Radio, wat van Dunn die eerste Afrika-kunstenaar gemaak het om hierdie prestasie in Australasië te behaal – wat nogal ’n groot een is vir ’n kunstenaar wat nog besig was om sy voete te vind!

In 2013, het Dunn teruggekeer na sy geboorteland om verder musiek te maak, maar op ’n ander manier. “Dit was op hierdie stadium wat ek en Jonathan Jules Jabba, ’n musiekmaatskappy met ’n verskil, begin het. Dit het ’n oplossing gebied vir internasionale musiekvervaardigers om die Afrika-mark, met sy groeiende ekonomie, te betree. Nie net wou ons produkte in Afrika inbring wat luisteraars sou geniet nie, maar ons wou ook ’n voertuig skep om Afrika-musiek oor die grens te versprei.”

Alhoewel besigheid vir eers sy hooffokus geword het, het Dunn aangehou om op ’n vryskutbasis musiek vry te stel, vanaf 2015 tot 2017. “Ek het ’n radio-/ televisietoer gedoen in Oos-Afrika en dit het toevallig so gebeur dat ons maatskappy ’n vennoot was op ’n program wat soortgelyk aan Idols was in Zambië. Ek het dit baie geniet om deur Oos-Afrika te toer, want die mense was vriendelik en die atmosfeer ongelooflik. Dit het my weer van vooraf verlief gemaak op ons inhoud.”

Hy is ook in 2018 genooi om ’n ambassadeur te wees vir een van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) se veldtogte teen kinderhuwelike in Afrika. “Ek was een van die gassprekers by UNICEF se Vroueberraad in Uganda. Dit was ’n baie spesiale geleentheid en het my laat besef dat ons regtig tyd en energie in ons mede-Afrikane moet belê.”

Wat sy musiekloopbaan aanbetref, glo die ambisieuse sanger – wat homself as 90% besigheid beskryf – dat hy nog nie eers ’n kwart bereik het van wat moontlik is nie. “Jy moet aanhou om vir jouself onmoontlike doelwitte te stel en daarvoor te werk,” – wyse woorde van ’n kind wat begin het as ’n platejoggie vir skoolfunksies en nou sy eie suksesvolle maatskappy bestuur en sy eie musiek skryf en vervaardig.

Alhoewel Dunn gereeld sy eie musiek skryf, glo hy ook aan die voordele van saamwerkgeleenthede. “Ek werk graag saam met liedjieskrywers en vervaardigers,” sê hy. “Ek dink baie kunstenaars maak die fout om hulle werk te na aan die bors te hou, wanneer daar eintlik iets baie belowends kan ontstaan wanneer verskillende perspektiewe saamwerk vir dieselfde doelwit.”

Hy is ewe openhartig oor waar sy inspirasie vandaan kom. “Dit is nie musiek of ’n spesifieke sanger wat ’n invloed het op my nie, maar eerder die kultuur wat die luisteraar se behoeftes dikteer. Deesdae hoef ons net platforms soos Spotify, Deezer of YouTube te nader, want daar is baie nuweling wat besig is om oulike goed te doen. Baie keer is dit ’n geval van ‘sjoe dit klink goed en ek wil deel wees daarvan’,” verduidelik hy. “Maar ek vind ook aanklank by Russ. Ons dink baie dieselfde oor besigheid en musiek. Vir my gaan die twee hand-aan-hand en daar is geen rede hoekom die een nie die ander kan komplementeer nie.”

Qwade Dunn het nog baie planne vir die toekoms en wil Afrika, een-land-op-’n-slag verower, as musikant en besigheidsman.

Die kunstenaar, wat tans opslae maak oorsee en ook daar woon, sal in November 2018 terug wees in Suid-Afrika vir die amptelike vrystelling van sy nuutste treffer!

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @QwadeDunn

Instagram: @qwadedunn

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Help needed: Beloved Cape Town Radio Presenter Faces Terminal Cancer Diagnosis

eloved radio presenter, Ian Ward (42), from Cape Town, has been diagnosed with Stage 3B …

Suid-Afrikaner slaan Londen stom met liedjie wat in bad geskep is!

Dit was die Suid-Afrikaanse kunstenaar, ANNA WOLF, se droom om saam met musiekvervaardiger, Pete Boxta …