Protesteer vir Afrikaans

361

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vandag gesê dat hy eersdaags, op Dinsdag 28 Maart 2017, die jaarlikse Afrikaans-Ekspo gaan bekendstel, en so ook met nuwe vorm en kleur!

Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryfkompetisie wat veral fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders en studente ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars.

Volgens Johan Jansen van Vuuren, Projek- en kommunikasiebeampte by die FAK is vanjaar se tema Protes. “Die vroegste vorm van protes was die Reformasie waarvan ons vanjaar Reformasie 500 vier. Na die Anglo-Boereoorlog was daar ’n protes teen die verengelsing van Afrikanerkinders. In die FAK se bekroonde film, Doodkry is min (1961), wys Jamie Uys die beeld van ’n seuntjie wat met donkie-ore in die hoekie van die klas staan omdat hy durf Afrikaans praat. Uys vertolk Afrikaners se uitdaging in die tydperk as vernedering, verarming en verengelsing. Op 9 Augustus 1956 het ongeveer 20 000 vroue in Pretoria na die Uniegebou te voet opgetrek om beswaar te maak teen bepaalde voorgestelde wetswysigings rakende die paswette as onderdeel van die Stedelike Groepsgebiede Wet van 1950. Dit het gelei tot gedigteprotes, liedereprotes ensovoorts en heelwat persone het geprotesteer; dink maar aan Breyten Breytenbach, André P Brink, Etienne Leroux, en dies meer.”

Jansen van Vuuren meen dat ons vandag ook protes beleef met die #Feesmustfall-veldtog; soos ons op kampusse sien en daarom word deelnemers gemotiveer om te protesteer wat hulle dink onregverdig en onbillik is. “Ons standbeelde en kuns is maar ’n paar voorbeelde waar ons taal, kultuur en geskiedenis vernietig word.”

Die FAK moedig Alle graad 6- tot 12-leerders en studente, Afrikaanse huistaalsprekers of sprekers wat Afrikaans as ’n tweede of derde taal het, in enige land, om te protesteer d.m.v. ’n dagboekinskrywing, koerantberig, opstel, kortverhaal, poësie, fotografie en/of ’n historiese geskiedenisopstel.  

“Die Ekspo word vanjaar in ’n nuwe formaat aangebied om sodoende aan te pas by die moderne tegnologie en om deelname aan die Ekspo meer toeganklik te maak. Deelnemers sal van hul persoonlike sosiale media gebruik moet maak as deel daarvan om in te skryf en die opwindende nuus is dat studente ook vanjaar vir die eerste keer kan deelneem aan die dinamiese kompetisie,” vertel Jansen van Vuuren.

Belangstellendes kan hier kliek om vir die Ekspo in te skryf asook om meer inligting te verkry.

Inskrywings vir die kompetisie sluit 30 Junie 2017 en die volgende pryse is op die spel:

’n Erkenningsertifikaat word aan elke deelnemer gegee, wat by skole se prysuitdelings oorhandig kan word. Kategoriewenners ontvang ’n medalje. Daar word ook ’n algehele wenner aangekondig wat die uitblinker was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur ’n foto, ’n opstel of selfs een van die biografiese profiele was. Die wenner ontvang die wisseltrofee en R5000 kontant word gegee vir hul skool vir hulpmiddels óf ’n opvoedkundige uitstappie vir die Afrikaans- óf Geskiedenisklaskamer.

Die skool wat die meeste leerders inskryf vir die kompetisie, kry R10 000 vir hulle Afrikaanse departement en ontvang ook ’n FAK-boekgeskenk en ’n kopie van die nuutste FAK-Sangbundel vir hulle skool.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments