Place in the Sun-wyne, wat met Fairtrade-akkreditering spog, is groothartig, vrolik en optimisties. Die druiwe daarvoor kom van Devon Valley by Stellenbosch, en word gekweek deur positiewe mense wat floreer omdat hulle erkenning kry vir die rol wat hulle speel. Die kwekers ontvang ’n premie, en die Fairtrade-premiekomitee op die plaas besluit hoe dié geld bestee word.
Benewens verskeie opvoedkundige en ontspanningsinisiatiewe wat dié komitee bestuur om die lewensgehalte van die gemeenskap van 250 te verbeter, hou hy ook twee groentetuine in stand. Die oes sorg dat werkers en hul sowat 180 kinders ’n voedsame dieet volg.
Byna 1,5 ha is opsy gesit vir die kweek van uie, aartappels, ertjies, skorsies, pampoene, wortels, komkommers en waatlemoene. Die komitee verskaf die saad en sorg ook vir die besproeiing, terwyl die werkers in hul vrye tyd na die tuine omsien. Vanjaar se oes is reeds die derde. As hulle meer kweek as wat hul eie behoeftes is, kan die werkers die ekstra vir hul eie sak verkoop.
Deon Boshoff, hoof van die span wat die Place in the Sun-wyne maak, sê: “Wanneer die werkers wat die druiwe kweek en oes, voel hulle is ’n gewaardeerde en integrale deel van die wynmaakproses doen hulle ekstra moeite. ’n Mens merk dit aan die gehalte van die druiwe wat by die kelder gelewer word. As wynmakers probeer ons op ons beurt om dié sorgsaamheid in die wyn vas te vang deur die vrugtige eienskappe daarvan ongeskonde te bewaar. Dis ons manier om aan hul bydrae erkenning te gee.”
Daar is vyf wyne in die reeks. Almal is oral in die land by gekeurde drankwinkels te kry. Die kleinhandelprys van die sappige, smaaklike Merlot, Cabernet Sauvignon en Shiraz is sowat R52 per bottel terwyl die ongehoute Chardonnay en Sauvignon Blanc vir sowat R42 verkoop.
Volg Place in the Sun op Facebook (www.facebook.com/PlaceintheSunSA) en/of Twitter (www.twitter.com/PlaceintheSunSA)
Besoek die webwerf: www.placeinthesun.co.za
Gesels saam op Twitter met #veggiesgivingback