Home / Afrikaanse flieks en Teater / Plaaslike misdaadriller maak opslae oorsee!

Plaaslike misdaadriller maak opslae oorsee!

“Hierdie een het uitgestaan as die beste,” berig The Verge oor Suid-Afrika se nuutste grootskermsukses wat onlangs aan die wêreld bekendgestel is tydens die internasionale SXSW-rolprentfees in Texas, Amerika.

Gambit Films se NOMMER 37 is die eerste eg Suid-Afrikaanse vollengte speelfilm wat nog ooit die voorreg gehad het om deel te wees van hierdie gesogte geleentheid en het van dag een af die komplimente laat instroom vir regisseur, Nosipho Dumisa, asook die akteurs.

“Hierdie Kaapstadse riller deur die Suid-Afrikaanse rolprentmaker, Nosipho Dumisa, dra sy invloede met trots en plesier,” meen Hollywood Reporter, terwyl Graphic Policy die  toneelspel as “kragtig en indrukwekkend” beskryf.

Dit was daarom dus geen verrassing om te hoor dat dié misdaadriller ook pas gekies is om die land verder te gaan verteenwoordig by die agtiende jaarlikse Internasionale Neuchâtel Fantastic-Rolprentfees (NIFFF) in Switzerland, vanaf 6 tot 14 Julie 2018, nie. “Die fliek het ons verstom en dit gaan vir ons ’n groot eer wees om dit by ons fees te vertoon,” sê NIFFF se programkoördineerder, Loïc Valceschini.

NOMMER 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel en is regisseur en skrywer Nosipho Dumisa oor haar debuut-speelfilm. Sy is veral bekend as vervaardiger van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster. Die fliek, wat afspeel in ’n woonstelblok genaamd Haven Mansions in haar weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlaktes, bied ’n kykie deur die oë van ’n verbitterde eks-krimineel wat deur die wêreld waarvan hy eens so deel was opgekou en uitgespoeg is. “Dit is deur-en-deur ’n misdaadriller wat elke oomblik meer spanningsvol raak. Dit gaan oor alles wat vir ’n paartjie kan skeefloop wanneer depressie, nuuskierigheid, gierigheid, vrees en slegte keuses saamgegooi word,” se Dumisa.

Kyk hier ’n video-onderhoud met Nosipho deur Deadline Hollywood:

Irshaad Ally (Suidooster en Four Corners) speel die rol van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Die talent van verskeie plaaslike akteurs, waaronder Sandi Schultz (Binnelanders, Noem My Skollie), Deon Lotz (Hansie, Faan se Trein), Elton Landrew (Die ek, Anna, Dryfsand, 7de Laan), Ephraim Gordon (Class Act), Danny Ross (Broken Vows, Suidooster), David Manuel (The Outsiders, Noem My Skollie) en Amrain Ismail-Essop (This Life, Forgiveness) word ten toongestel, terwyl Monique Rockman ook beïndruk in haar eerste hoofrol op die grootskerm.

Die rolprent is vervaardig deur Gambit Films, in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word plaaslik op 1 Junie 2018 vrygestel deur Ster-Kinekor Entertainment en sal ook internasionaal versprei word deur XYZ Films.

LEES NOG RESENSIES OOR DIE FLIEK

Nightmarish Conjurings

Houston Cronicles

No Film School

Glize Magazine

Kyk die lokprent hier:

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Suid-Afrika se gunsteling-komediant is terug op die grootskerm!

Hou vas aan jou sitplek want die grapjas, Leon Schuster, is terug met ’n splinternuwe …

Binnelanders se nuwe gesigte!

Van Junie af is daar heelwat nuwe dinge om na uit te sien in BINNELANDERS …