Dinsdag , November 19 2019
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Nuwe aanstellings by Kunste Onbeperk!

Nuwe aanstellings by Kunste Onbeperk!

Lizané Basson is aangestel as die nuwe algemene bestuurder en Jenna-Leigh Bilong as die nuwe bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aanbied. Jenna-Leigh het reeds in September in die pos begin en Lizané sluit vanaf 14 Oktober by Kunste Onbeperk aan.

“Ons is baie opgewonde om hierdie nuwe aanstellings aan te kondig. Beide Lizané en Jenna-Leigh is twee besonderse mense – hulle het ‘n liefde vir die kunste, ‘n passie vir mense en beide is gedrewe en hardwerkende individue. Kunste Onbeperk se direksie en personeel sien uit daarna  om saam met hulle die volgende paar jaar aan te pak en te bou op die sukssesse en nalatenskap van hulle voorgangers,” sê die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, Hugo Theart.

Lizané het uitgebreide projek-, administratiewe en finansiële bestuursvaardighede. Sy het sedert 2006 aan verskeie projekte by die ATKV, waaronder die Tienertoneelkompetisie, gewerk en is ook in 2013 as projekbestuurder daar aangestel. Die heel eerste ATKV-Tjokkertoneel (toneelkompetisie vir laerskole) het ook vanjaar die lig gesien met Lizané as organiseerder. Sy het ’n passie vir teater en die ontwikkeling van gemeenskappe en sê die nuwe hoofstuk in Oudtshoorn is vir haar ’n groot voorreg. “My doelwit is om met sorg en oordeel al die rolspelers se belange op die hart te dra” sê sy. Dié ma van twee is ook tans besig met haar graad in besigheidstudies. 

Jenna-Leigh het 15 jaar ondervinding in die mediabedryf. Sy het haar tande by die Vallei FM gemeenskapsradiostasie in Worcester geslyp waarna sy ook ondermeer Skakelbeampte vir die Nasionale Instituut vir Dowes was. Haar ondervinding in die radiobedryf is by RSG voortgesit, waarna sy ‘n skuif na televisie gemaak het. Sy was vir ongeveer sewe jaar ‘n nuusleser- en skrywer by eNuus op KykNET en KykNET en kie en is ook deesdae op vryskutbasis deel van die SABCNuus-span op SABC 2. Sy sê sy is opgewonde om deel van ’n dinamiese organisasie, soos Kunste Onbeperk te wees, wat ’n belangrike rolspeler in kuns en kultuur in Suid-Afrika is, ‘n ekonomiese bydrae tot Oudtshoorn en die Wes-Kaap maak en ‘n rits geleenthede vir die bedryf skep.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Maroela Media spog nou met eie liedjie!

Nuus is, net soos musiek, iets wat nooit uit die mode gaan nie. Dit trek …

Deel XV van die WAT is beskikbaar en die Aanlyn WAT is bygewerk en verbeter

Deel XV strek alfabeties van SKOOL tot by SRI LANKAANS en op ‘n enkele bladsy …