Woensdag , Januarie 23 2019
Home / Afrikaanse Musiek / ‘n Nuwe album en toer vir Jannie du Toit!

‘n Nuwe album en toer vir Jannie du Toit!

Afrikaanse musieklegende, Jannie du Toit, is een van die min kunstenaars wat die toets van tyd kon deurstaan. Hy het homself oor die afgelope paar jaar daarop toegespits om musiek van sy gunsteling-musikante, soos Jacques Brel, Jules de Corte, Koos du Plessis en Lucas Maree  te sing, maar stel hierdie week sy splinternuwe album, OESJAAR, bekend!

Die eerste enkelsnit vanaf dié nuwe album, ’n aangrypende liefdesballade – Jy Kyk Sag, kan reeds gereeld op verskeie radiostasies gehoor word.

OESJAAR ’n hoogtepunt en viering van agt-en-veertig jaar as ’n Afrikaanse kunstenaar, maar dit bevat slegs materiaal wat hierdie jaar geskryf is. Dit gaan oor wat ek glo, goed waarvoor ek hoop en oor die mense, plekke en dinge wat ’n verskil in my lewe gemaak het en steeds maak. Ek is vol vertroue dat die eindresultaat nie sal teleurstel nie.” sê hy.

Die nuutste vrystelling spreek ’n wye verskeidenheid temas aan. Daar is ’n huldeblyk aan die oorlede klavierlegende, Christa Steyn, wat vir vyf-en-twintig jaar Jannie se goeie vriendin, begeleier, mede-komponis, musiekverwerker op sy albums en musiekvennoot op wêreldwye reise was. Die titel van die liedjie is die woorde wat Christa self – in haar laaste hartroerende televisieonderhoud – vir Coenie de Villiers gesê het: Sy Genade Is Genoeg. Koffiekafeetjie is ’n nostalgiese onthouliedjie oor ’n koffiewinkel in Melville wat gereeld in die 1990’s deur kunstenaars besoek is, maar ook oor Badia Isaacs, die dame wat die hart en siel van die plekkie was. Vat Die Pad gaan oor musiekreise saam met Christa, maar ook saam met sy huidige musiekkollegas oor meer onlangse ervarings. Dan is daar Ons Soek ’n Tata,  opgedra aan Madiba en op die titelsnit, OESJAAR gebruik Jannie ’n wingerd as beeld van sy musiekloopbaan: “Hierdie wingerd is my gawe, my pasella reg van Bo. Hierdie wingerd daag my uit om hard te werk en vas te glo. Hierdie wingerd is my hawe, sorg vir brood en sorg vir hoop. Stuur my weg op ver ver paaie, vir die hart om op te loop…”

OESJAAR bevat ook ’n paar bonussnitte – van vroeëre liedjies uit sy wingerd, waaronder Karen Zoid se opwindende rockverwerking van ’n Liedjie Vir Jou. Dié liedjie is presies veertig jaar gelede deur Jannie geskryf en dit het vanjaar opslae gemaak nadat Karen en Jannie dit opgeneem het vir haar program, Die Republiek van Zoid Afrika. Binne ’n uur na die uitsending, het dié opname bo-aan iTunes se treffersparade gepronk.

OESJAAR, wat deur die briljante Clinton Zerf verwerk is sal via Vonk Musiek, beskikbaar wees op iTunes asook by uitgesoekte musiekwinkels.

Sy mees onlangse projek – voordat hy die uitdaging aangepak het om OESJAAR te skep – was ’n maandlange konsertreeks in België en Nederland in 2017. Intussen gaan sy programme soos Doep Is Nie Dood Nie, Bonjour Monsieur Brel, Kiekies – Lucas se Liedjies en Die eggo van jou Oë voort. In November word sy jaarlikse produksie, In Kersfeestyd, ook weer aangebied.

Om OESJAAR verder bekend te stel, onderneem hy in Desember ’n uitgebreide toer deur die Kaap. Hy sal begelei word deur sy top-ensemble: Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier/trekklavier) en Theuns Botha (perkussie).

Optredes sal by die volgende plekke plaasvind:

1 Desember:  Melville Kruiskerk

4 Desember:  Kroonstad Micro Theatre and Showcase

5 Desember:  Surval Boutique Olive Estate, Oudtshoorn

6 Desember:  Theatre Bay Pasta Co, Jeffreysbaai

7 Desember:  Jongensdal, Stilbaai

8 Desember:  Gouda Hotel

9 Desember:  Die Boer, Durbanville

10 Desember:  Montagu Country Hotel

11 Desember:  De See Kat, Paternoster

12 Desember:  Die Ou Meulteater, Paarl

13 Desember:  Drostdyteater, Stellenbosch

14 Desember:  Tin Kitchen by Vensterklip, Elandsbaai

15 Desember:  Hermanus Ouditorium

17 Desember:  Showroom Theatre, Prince Albert

20 Desember:  NG Kleinmond, Bettiesbaai

21 Desember:  Nature’s Valley Gemeenskapsaal

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

YouTube

Web

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Alternatief is Groot word gebore en studente kan die jaar behoorlik afskop

Studente in Pretoria wat teleurgesteld is dat hulle nooit die destydse JOOL in volle glorie …

Rami Malek: Becoming Freddie – an Apple music exclusive!

Go inside star Rami Malek’s casting and discover how he captured the look, physicality, and …