‘n Energieke debuutalbum vir The Voice SA se FATMAN!

36

Skaars ’n maand na die suksesvolle vrystelling van sy eerste enkelsnit, Boom Baby, is Suid-Afrika se gunsteling-vermaaklikheidster terug met sy debuutalbum, wat beloof om nie net voort te bou op die energieke opgewekte wenresep wat so kenmerkend is aan dié kunstenaar nie, maar ook om sy sangtalent in volle glorie ten toon te stel.

BOOM BABY is ’n versameling snitte wat spesiaal uitgesoek is om aan elkeen van sy aanhangers se vereistes te voldoen. “Ons wou ’n album skep wat iets vir almal het. Ons het snaakse liedjies, liefdesliedjies, dansversamelings en ou treffers opgeneem,” vertel Fatman, oftewel Johan Brümmer, entoesiasties. “Ek dink die titel is gepas omdat dit so goed by my pas. Met my gewig, is ek juis baie lief vir dans.”

Die CD, waarvan die oorspronklike inhoud ’n spanpoging was deur Fatman, Johan Vorster, Roux Cloete en Appel, bestaan uit tien pragtige liedjies wat jou sal nooi om saam te dans en sing. Dit bevat vier oorspronklike werke en ’n versameling van ou gunstelinge deur kunstenaars soos Lucas Maree, Gé Korsten, Elvis Presley en Leon Schuster.

Advertensie"As jy hou van my blog,
GROOT asb stem vir my!" SA Blog Awards Badge

Buiten vir ’n unieke verwerking van Kurt Darren se treffer, Kaptein, saam met Parlotones-voorsanger, Kahn Morbee, bevat die CD nóg twee ballades wat diep tref. Liedjie Vir Jou, die Jannie du Plessis-treffer, wat hy saam met Caroline-Grace Brüssow van The Voice SA opgeneem het, sal jou hoendervleis gee en lank bybly nadat die laaste note weggesterf het. Sonneblomgesiggie, ’n liedjie wat hy vir sy kinders (Sanrico en Pedri) geskryf het, word ook met soveel gevoel gelewer dat ’n mens dadelik besef dat dit vir hom baie spesiale betekenis het.

’n Musiekvideo van die titelsnit is onlangs uitgereik en is baie goed deur die publiek ontvang. Die voetjeuklekker popmusiektreffer gaan oor date night. “Ek en Mammie het die kinders by haar ma gelos en nou gaan ons uit om te dans en mekaar te geniet, want dit is belangrik om die spark in jou huwelik te behou. Ek’s iemand wat daarvan hou om te vermaak en ek kan dit beter doen met ’n lekker dansliedjie as met ’n liefdesballade,” vertel die sanger, wat na agtien jaar van getroudwees steeds mal is oor sy vrou, Susan. ’n Gatsby-tema is vir die video gebruik en Fatman se persoonlikheid en vermaaklike veelsydigheid het die atmosfeer perfek gekomplementeer. Die titelsnit kry ook gereelde speeltyd oor die radio en is reeds op verskeie treffersparades gelys.

Die een-en-veertig-jarige musiekonderwyser van Bela-Bela het van jongs af geweet dat hy die gawe het om mense te vermaak. Hy het in die vroeë 90’s vir sewe jaar lank saam met sanger, Pieter Smith, opgetree, waarna hy en sy vrou die stad verruil het vir die plaaslewe om hulle kinders groot te maak. Nadat hy vir drie-en-twintigjaar sy eie ding gedoen het, het sy gesin besluit om hom in te skryf vir The Voice SA. Hulle het ’n opname gemaak van hom wat Mika se Grace Kelly sing en dit as ’n video-oudisie ingestuur vir die kompetisie. Die liedjie, wat verskeie fasette van sy talent ten toongestel het, het vir hom ’n plek in die blindeoudisies besorg waarna hy in die Top 5 van die kompetisie geëindig het.

Fatman glo dat jy nooit te oud is om enigiets te doen nie en dat jy die lewe ten volle moet geniet en daarom het hy nog baie drome en planne vir die toekoms, wat ’n eie kletsprogram en fliekrol insluit. Hy het onlangs in die Kaap opgetree saam met mede-kompetisiedeelnemer, Caroline-Grace Brüssow, in ’n vertoning wat hulle Beauty and the Beast noem en gaan ook deel wees van die The Voice Reunion Show.

Die sanger lys Elvis Presley, Tom Jones, Engelbert Humperdinck, Bles Bridges en Charlie Pride as kunstenaars wat ’n invloed gehad het op sy eie musiekstyl, maar hy hoef beslis nie ’n tree terug te staan vir een van hulle nie want hy het reeds diep in Suid-Afrikaanse musiekharte kom nesskop. BOOM BABY is nie net ’n getuigskrif van Fatman se uitsonderlike veelsydigheid nie, maar beloof ook om een van daai albums te wees wat die hartklop gaan word van elke partytjie en kuier. Sy aanslag is vars en verfrissend en die eindresultaat is ’n ware bederf vir die oor. Dit is ’n moet vir elke CD-versameling en die ideale metgesel om die langpad mee aan te durf.

VOLG HOM OP

Twitter: @fatman_brummer

Facebook

Instagram: @fatmanbrummer

Webblad

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Advertensie