Sondag , Desember 16 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Musiekprogram by KKNK 2018 skop op ‘n ander noot af!

Musiekprogram by KKNK 2018 skop op ‘n ander noot af!

Verskeie top-musikante maak hulle buiging in die Klein Karoo by Awê Kaktus

 

Awê Kaktus begin vanjaar se KKNK met ’n onvergeetlike aand van musiek op die Huisgenoot-verhoog, deur van ons land se top-musiekkunstenaars.

 

Mi Casa, Matthew Mole en Majozi is vir die eerste keer in die Klein Karoo op ’n verhoog te sien en dit is ook feesgangers se enigste geleentheid om die klanke van Spoegwolf te hoor. Op Donderdag, 29 Maart om 19:30 begin die Huisgenoot-verhoog se musiekprogram met ’n reusejol, vir beide die wat jonk én jonk van gees is.

Alhoewel die multi-bekroonde groep Mi Casa gereeld in die Wes-Kaap optree, is hierdie die eerste keer dat hulle Oudtshoorn besoek. “Ons optrede by Awê Kaktus gaan beslis een wees om te onthou, met ons nuwe treffers soos ‘Nana’ en ‘Feeling You’, wat groot sukses op die radio gehad het. Die nuwe album het ’n somer-gevoel met baie diversiteit en ’n skeut Portugees. Ons sien daarna uit om die nuwe gehoor te ontmoet en ons liefde vir musiek en hoe ons ‘Jika’ met hulle te deel,” vertel hulle.

Die eerste ding waaraan Mi Casa dink as hulle Oudtshoorn hoor? “Pragtige natuurskoon en hartlike mense.” Mi Casa het onlangs hulle treffer “Nana” verwerk tot ’n twee minute stort-liedjie, om mense aan te moedig om vinnig te stort en water te spaar.

Matthew Mole tree ook vir die eerste keer op Oudtshoorn op. “Ek sien geweldig daarna uit om vir die eerste keer by die KKNK op te tree. Ek het al só baie van die fees gehoor, sedert ek begin optree het en sien daarna uit om die fees te ervaar. Oudtshoorn het so ’n ongelooflike erfenis.”

Dit is die tweede keer dat hy Oudtshoorn besoek. “Ek was nog net een keer op Oudtshoorn en dit was in die laerskool. Ek is verlief op daardie deel van Suid-Afrika,” sê hy. Die Awê Kaktus-gehoor kan musiek van beide sy albums “The Home we Built” en “Run” verwag. “Ek werk hard aan my optredes, so daar is baie energie op die verhoog van begin tot einde.” Sy twee treffers “Run” en “Take Yours, I’ll Take Mine” gaan beslis gehoor word.

Spoegwolf sê die gehoor kan ’n groot party by Awê Kaktus verwag. “Ons sien baie uit na die roosterkoek by die fees en om ons ou classics en nuwe musiek met die gehoor te deel. Ons eerste vertonings by die KKNK was in 2012 en ons is opgewonde om weer by die fees op te tree.”

Vir Majozi, is dit die eerste keer dat hy by ’n vertoning op Oudtshoorn te sien is. “Ek was nog net een keer vantevore op Oudtshoorn.” Hy sê dié vertoning gaan ’n opgewekte, saamsing en -dans gevoel hê. “So kom gereed vir ’n lekker jol.” Een van sy treffers om na uit te sien is beslis “Darling”.

“Dit is vir my ’n eer om by die KKNK op te tree. Ek sien geweldig daarna uit om nuwe mense te ontmoet en ’n nuwe ervaring te beleef,” voeg hy by. Die eerste ding waaraan hy ding as hy Oudtshoorn hoor? “Beslis, volstruise.”

Kaartjies vir Awê Kaktus kos R85, wat ook toegang tot die Kuierbuurt vir die dag bied. Weekkaartjies vir die Kuierbuurt kos R255 (vir al sewe dae) en bied toegang tot dié konserte, asook die vyf ander aandkonserte op die Huisgenoot-verhoog. Hulle is:

  • kykNET – Dans op die Vlaktes (30 Maart 19:30) met Alistair Izobell (seremoniemeester), Kurt Darren, Craig Lucas (The Voice), Paxton (Idols), Willem Botha, Leah, Gerrie Pretorius, Pieter Koen, Stephanie Baartman (Getroud met rugby) en Germandt Geldenhuys (Binnelanders)
  • Karoo-nag (31 Maart 19:30) met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace, Gail & Malcolm Arendse en Fatman
  • Boontoe: Engelstemme (1 April 19:30) met Jo Black, Robbie Wessels, André Terblanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna, die Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor en orkes Melissa van der Spuy, Tim Rankin, Henry Steele en Schalk van der Merwe
  • Sterrenag – Musiek met hart (2 April 19:30) met Snotkop, Jay, Brendan Peyper, Leah, Willem Botha, Pieter Koen, Caroline Grace, Fatman, Lee Scott, Jan Bloukaas, Early B, Vernon Barnard, HemelBesem, Chris Else, Elwira Standili en Gerrie Pretorius
  • Rymklets van Oos tot Wes (3 April 19:30) met HemelBesem, Yoma, Early B Oxijin, Dj J-EFX, Yugi Yo en MC IXA

Die KKNK word van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April op Oudtshoorn aangebied. Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 gedoen word.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

[Kyk] Liewe Lisa se lokprent bekendgestel!

LIEWE LISA, die debuutfilm van KOMPANJIE STORIES, se lokprent is nou aanlyn te sien. Die film …

Liewe Lisa… nuwe fliek

LIEWE LISA, die debuutfilm van KOMPANJIE STORIES, se plakkaat is vandag bekendgestel. Die film word …