Monique Steyn terug met ’n Mosaïek-kunswerk!

36

Monique Steyn word sonder twyfel as een van ons top-vroulike kunstenaars beskou, met ’n stem wat nie vir enige talent in die wêreld terugstaan nie. Haar splinternuwe album, Mosaïek, is nou beskikbaar en daar word reeds gegons oor al die treffers op dié album.

Monique se debuutalbum, Ek val vir jou, is in 2011 uitgereik en het goue status bereik. Daarna was sy deel van die popgroep, 4Werke, wat platinumverkope behaal het. Sy keer nou terug met ’n meer volwasse klank, eie aan waar haar hart lê.

Meeste van die musiek op dié album is deur Johan Oberholzer, ’n goeie vriend van Monique, geskryf en hulle het saamgewerk om die album so persoonlik as moontlik te maak. Daarna is die album deur die alombekende Coleske-broers, met Paulo Azevedo in die ateljee, afgerond.

“Ek glo nie daarin om terug te kyk en jouself te bevraagteken nie. Ek dink die besluite wat ek tot dusvêr geneem het, die pad wat ek geestelik gestap het, die vriende wat ek gemaak het en die oomblikke wat ek op ’n rigting moes besluit, het my gemaak wie ek vandag is. Dit kom alles bymekaar, amper soos ’n mosaïek-kunswerk – al is daar krake en lyk dit nie altyd perfek nie, maak dit ’n mooi prentjie van my lewe. Daarom dink ek die titel is gepas,” sê Monique.

Mosaïek bevat 13 snitte waaronder die treffer-duet, Hartseer, saam met Ruhan du Toit van Touch of Class. Die album bevat ook ’n splinternuwe opname van die bekende, Sweef soos ’n arend en The Prayer, ook saam met Du Toit opgeneem.

Alhoewel die album ’n meer volwasse aanslag het, kan aanhangers steeds uitsien na lekker-luister musiek. Liedjies soos Die Boom, Ek is verlief en Mosaïek betower nie net met die mooi lirieke nie, maar laat ook voete op die ritme klop.

Mosaïek is nou by alle musiekwinkels landswyd beskikbaar, asook digitaal op JOOX om te stroom en op iTunes om af te laai.

 

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments