MOET SIEN! Die reuk van appels toneelstuk

270

Ek wou so graag die toneelstuk by vanjaar se KKNK gaan kyk, maar tyd was te min en ek was baie kwaad vir myself toe ek die laaste vertoning misgeloop het. Paar maande later kon ek my ‘te-doen-lysie’ aftik, toe ek die openingsaand van Die reuk van appels kon bywoon. Die eenmanvertoning het my diep geraak. Ek sal dit weer gaan kyk.

Die reuk van appels (1993) is die veelbekroonde debuutroman van die Suid-Afrikaanse skrywer Mark Behr. Hierdie seminale boek is vir die verhoog verwerk en het by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn gedebuteer in April 2017. Die reuk van appels is ‘n bildungsroman (Bildungsroman – ‘n roman wat handel oor ‘n persoon se jeug of spirituele groei) wat die verhaal vertel van Marnus Erasmus, die elfjarige seun van ‘n generaal in die Suid-Afrikaanse Weermag. Dit beeld op meesterlike wyse die Afrikanermentaliteit in die laat sewentigerjare en vroeë tagtigerjare uit, asook die brutale gevolge van apartheid en die militansie in Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk.

Die roman en Engelse vertaling (The Smell of Apples), ook in 1993, is ‘n grensverskuiwende werk wat Behr in die geledere van jong en talentvolle skrywers soos Etienne van Heerden en Koos Prinsloo opgeneem het (Tony Eprile, New York Times). Met sy voortydige dood op 27 November 2015 was Behr ‘n professor in kreatiewe skryfwerk by die Rhodes College in Memphis, Tennessee.

Vandat Johan van der Merwe (van die produksiemaatskappy Theatrerocket ) die roman die eerste keer gelees het, was dit sy droom om Die reuk van appels as ‘n verhoogstuk aan te bied. Toe hy met mede-teaterliefhebber Rudi Sadler in 2015 begin saamwerk het, was dit ‘n vanselfprekende keuse vir hulle eerste onderneming as ‘n produksiemaatskappy.

Van der Merwe en Sadler het ‘n gedugte span genader om hulle droom te bewaarheid. Johann Smith, ‘n veelsydige skrywer vir sowel die verhoog as die skerm het hierdie veelbekroonde roman omskep in ‘n toneelmatige verhoogteks. Gideon Lombard (…miskien, The View, Special Thanks to Guests from Afar, Orpheus in Africa) vertolk die rol van die grootoog Marnus onder leiding van die bekroonde regisseur Lara Bye (Yellowman, London Road, Oscar en die Pienk Tannie, Vaslav). Kosie Smit is verantwoordelik vir die beligtingsontwerp en Lombard, self ‘n talentvolle musikant, het die klankontwerp gehartig. Met Die reuk van appels maak Lombard sy hoogaangeskrewe solodebuut. Hy is vir sy rol in dié produksie aangewys as Beste Akteur tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) 2017 se jaarlikse Kanna-toekennings.

Na die debuut by KKNK, toer Die reuk van appels deur die land na verskeie feeste en teaters, onder meer die Nasionale Kunstefees in Grahamstad (Julie 2017), waar dit genooi is om deel te wees van die hoofprogram as die enigste Afrikaanse produksie op die hele fees; en die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein (Julie 2017). Speelvakke volg by die Suid-Afrikaanse Staatsteater, Pretoria (1 tot 24 September 2017), Aardklop Kunstefees, Potchefstroom (3-7 Oktober 2017) asook die Fugardteater, Kaapstad (18 Oktober tot 4 November 2017). Verdere opvoerings sal mettertyd bekend gemaak word.

Danksy die gewildheid van die toneelstuk, het die uitgewers besluit om nog ‘n oplaag van Die reuk van appels te druk. Dit is beskikbaar deur Queillerie, ‘n druknaam in die stal van NB Uitgewers.

Die reuk van appels het ‘n ouderdomsbeperking van 16 met die verwysing SNTGV (Seks, Naaktheid, Taal, Geweld en Vooroordeel).

Vir meer inligting kontak gerus vir Rudi Sadler by 082 464 2113 of Johan van der Merwe by 082 829 6035 of stuur ‘n e-pos na info@theatrerocket.com. Besoek ook die Facebook-blad by www.facebook.com/diereukvanappels.

OPSOMMING

Dit is die somer van 1973. Apartheid floreer te midde van toenemende kritiek vanuit internasionale gemeenskappe teenoor Suid-Afrika. Boonop broei daar onrus op die Angolese grens. Elfjarige Marnus Erasmus en sy beste vriend, Frikkie, is salig onbewus van die sake wat die grootmense kwel. Hulle stel meer belang in visvang en walvisse en aanvaar die verdeling van landsburgers volgens velkleur as ‘n gegewe.

Marnus lei ‘n oënskynlik eenvoudige en gelukkige lewe: sy pa is ‘n generaal-majoor in die Suid-Afrikaanse Weermag en sy ken is heeltemal vierkantig; sy ma is baie musikaal en vir hom die mooiste vrou in die wêreld; sy ouer en meer liberale suster is slim, al irriteer sy hom soms; en hul kleurlinghuishulp, Doreen, gaan eendag hemel toe omdat sy nie suiker steel nie. Tog word hy blootgestel aan die kompleksiteit van internasionale politiek as ‘n generaal van Chile vir ‘n tyd by sy gesin kom kuier.

Weldra word Marnus gekonfronteer met vrae oor menswees en manwees, oor wat reg en verkeerd is. Die gehoor word medepassasiers op Marnus se reis na volwassewording en manlikheid en kan nie anders as om te wonder of hy kritiese bevraagtekening sal kies bo indoktrinasie en kondisionering.

Marnus se lewe verander onherroeplik wanneer ‘n brutale daad sy kinderlike onskuld vernietig. Vanaf daardie beslissende oomblik kleef die reuk van appels aan alles wat Marnus aanraak.

BIOGRAFIEË VAN KUNSTENAARS

GIDEON LOMBARD (akteur)

Gideon Lombard is oorspronklik van Namibië. Aangesien sy ouers albei akademici is, het hulle heelwat gereis en het Gideon ‘n ware wêreldburger geword. Hy het skoolgegaan in onder meer Namibië, New York, Kalifornië, New Jersey en Holland. Gideon het hom uiteindelik in Kaapstad gevestig.

Nadat hy musiek, filosofie en literatuur studeer het, het hy gevind dat teater en film die mees stimulerende kombinasie van sy onderskeie belangstellings is. Hy het sy studies aan die Universiteit van Kaapstad se Dramadepartement met lof geslaag, waar hy spesialiseer in regie.

In 2014 word Gideon deur Kaapstad Opera aangestel as assistent-regisseur vir hul produksie van George Gershwin se Porgy & Bess en toer hy met die produksie na Bordeaux, Barcelona en Madrid.

Hy is een van die stigterslede van The Pink Couch produksiemaatskappy en ‘n lid van die bekende Polony Theatre Collective. Hy is ook uitvoerende vervaardiger van ‘n rolprentmaatskappy met drie drie bekroonde kortfilms agter hul naam.

Gideon werk tans in ‘n verskeidenheid mediums, onder meer toneelspel, regisseur en skryfwerk vir teater en film, beligting-, stel- en klankontwerp vir kuns- en klankinstallasies, film, opera, dans, visuele kunste en musiek. Hy is bekend vir sy rol in die Kyknet-sepie Suidooster en ook vir sy uithalerverhoogwerk. Van die hoogtepunte in sy loopbaan sluit in …miskien (met Albert Pretorius), waarin hy sowel akteur as medeskrywer was. Die produksie is wêreldwyd al meer as 100 keer opgevoer en Gideon is genomineer as Beste Akteur by die Aardklop Kunstefees (2011).

Hy is een van ‘n handjievol akteurs in die geskiedenis van die Fleur du Cap-teatertoekennings wat in dieselfde jaar (2012) genomineer word vir twee pryse, naamlik Beste Akteur (The View) en Beste Byspeler (Special Thanks to Guests From Afar). Ander onlangse teaterhoogtepunte sluit in Moeder Moed en Haar Kinders, Wie Drink Wat, Bidsprinkaan, The Graveyard en David Kramer se Orpheus in Africa. Onlangse filmwerk sluit in Lien se Lankstaanskoene, Jimmy in Pienk, Twee Grade van Moord, (Gamechangers met Daniel Radcliffe) en die internasionale reeks Black Sails (The History Channel).

Hy is vier tale magtig en sy gunsteling kunstenaar is Miles Davis. Hy is ‘n ywerige leser en ‘n student van filosofie en uitsoek-literatuur. Hy beskou reis as die beste leermeester van die lewe.

Gideon Lombard maak met Die reuk van appels sy solodebuut. Hy is vir sy rol in dié produksie aangewys as Beste Akteur tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) 2017 se jaarlikse Kanna-toekennings.

LARA BYE (regisseur)

Lara Bye is een van Suid-Afrikaans se mees veelsydige en gerekende teaterregisseurs en haar werk word gereeld plaaslik en internasionaal opgevoer. Sy werk in verskeie genres, van opera tot fisiese komedie, grootskaalse buitelugvertonings en meer intieme dramas in beide Engels en Afrikaans. Lara het ‘n passie vir die groei en ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse tekste en sy het nou met skrywers saamgewerk aan ten minste 11 nuwe toneelstukke.

Operas wat sy geregisseur het, sluit in Wagner se The Flying Dutchman en Rossini se La Serva Padrona. Sy het die regie behartig van onder meer Oscar en die Pienk Tannie en Nag, Ma (met Sandra Prinsloo), Yellowman, London Road, Rainbow Scars, Braai, Vaslav, Richard 3, Die vrou wat haar man gekook het, The Exonerated en Twilight-Los Angeles 1992.

Sy is passievol oor onderrig en het opleiding in teater- en toneelspel aan die Universiteit van Durban gedoseer en ses jaar klasgegee aan die Universiteit van Kaapstad se Dramadepartement. Lara het ook verskeie toneelspel/opvoering/bewegingswerkswinkels gefasiliteer, onder meer by die Afrovibes-fees in Amsterdam en die Grahamstad Nasionale Kunstefees, waar sy tans lid is van die artistieke keuringskomitee.

Lara het ‘n Meestersgraad (met onderskeiding in regie) en het haar voorgraadse studies in Teater, Opvoedkunde en Sosiale Antropologie voltooi. Sy het vir twee jaar aan die Ecôle Jacques Le Coq studeer – die bekende en internasionale skool vir fisiese teater in Parys.

Voor sy haar aandag verskuif het na regie en opleiding, was Lara ‘n bekroonde aktrise en ook ‘n sirkuskunstenaar. Sy gee tans klas by die Live Performance Department by Afda, Kaapstad.

Haar produksies het die afgelope tien jaar meer as 55 teaterpryse ingepalm, onder meer die Fleur du Cap-teatertoekennings vir Beste Nuwe Regisseur (2000), Kanna-toekenning vir Beste Produksie vir Yellowman (KKNK 2009), Standard Bank Golden Ovation-toekenning vir London Road (Grahamstad Nasionale Kunstefees 2010) en Fiësta-toekenning vir Beste Regisseur asook ‘n Kanna-toekenning vir Oskar en die Pienk Tannie (2013).

MARK BEHR (skrywer)

Mark Behr is op 19 Oktober 1963 op die plaas Mbuyu in Tanzanië, voorheen Tanganjika, gebore. Na die nasionalisering van wit boere se plase in Oos-Afrika, het die Behr-gesin na Suid-Afrika geëmigreer. Mark het skoolgegaan aan die Drakensberg Seunskoor en aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy het sy studies in Noorweë en die Verenigde State voortgesit. Hy het meestersgrade in Engelse Letterkunde, Internasionale Vredestudies en Fiksie Skryfkuns aan die Universiteit van Notre Dame, VSA.

Die reuk van appels is in nege tale vertaal en gepubliseer, waaronder Hebreeus, Chinees, Duits en Portugees. Mark se werk handel hoofsaaklik oor kwessies van ras, geslag en die militarisering wat binne hedendaagse outoritêre kulture plaasvind en word in baie universiteite regoor die wêreld voorgeskryf.

As ‘n voormalige navorser aan die Internasionale Instituut van Vredestudies in Oslo, Noorweë, het Mark ook onderrig gegee aan universiteite in Afrika, Europa en die Verenigde State. Hy was ‘n professor in Wêreldliteratuur en Fiksie Skryfkuns aan die College of Santa Fe in New Mexico en het ook jaarliks ​​klasgegee as deel van die MA-program aan die Universiteit van Kaapstad, sowel as die MFA-program aan die Universiteit van New Mexico. Sedert die middel 90’s was Mark professor in Kreatiewe Skryfkuns aan die Rhodes College, Memphis, Tennessee, VSA. Hy is op 27 November 2015 in Johannesburg oorlede.

Toekennings

Die reuk van appels en The Smell of Appels het onder meer die volgende pryse ontvang:

  • Eugene Marais-prys
  • CNA Letterkunde-toekenning vir Beste Debuut
  • M-Net Boekprys
  • Art Seidenbaum-toekenning deur die Los Angeles Times
  • Betty Trask-toekenning vir Beste Debuut in die Verenigde Koningkryk
  • Genomineer vir die Guardian-prys
  • Genomineer vir die internasionale Man Booker-prys

JOHANN SMITH (verwerker)

Johann Smith is ‘n regisseur en bekroonde dramaturg en skryf onder meer ook lirieke en draaiboeke vir televisie. Hy is driemalige wenner van die ATKV CR Swart-prys vir Dramatekste (2008, 2012 en 2016) en sy teks Simfonia debuteer tydens die Nasionale Kunstefees in Grahamstad (2012).

Johann se toneeltekste word gereeld by die ATKV Tienertoneel opgevoer, en sy nuutgeskrewe tekste dring dikwels deur na die landswye finale rondte by die Aardklop Kunstefees. Johann is tans ‘n draaiboekskrywer vir die gewilde televisiesepie, 7de Laan en het voorheen ook vir die KykNET-sepie, Binnelanders, geskryf.

In 2017 word hy benoem vir ‘n ATKV-Woordveertjie vir Dramatekste as medeskrywer van DEURnis. Hy het Mark Behr se bekroonde roman Die reuk van appels vir die verhoog verwerk. Dit debuteer by die KKNK 2017 en toer daarna na verskeie feeste en teaters.

THEATREROCKET (vervaardigers)

Theatrerocket is die teatermaatskappy van vervaardigers Johan van der Merwe en Rudi Sadler.

Johan het meermale erkenning ontvang vir sy liefde en passie vir die teaterbedryf en die bevordering van die uitvoerende kunste. Vir die afgelope 30 jaar woon hy al die groot Suid-Afrikaanse feeste getrou by en sien soms tot 700 produksies per jaar. Hy woon ook gereeld die Edinburgh Internasionale Kunstefees by. Hy dien tans op die paneel van die Naledi-teatertoekennings en het voorheen op verskeie ander panele gedien, insluitend die Standard Bank Ovation-toekennings (Grahamstad Nasionale Kunstefees), Kanna-toekennings (KKNK) en Woordtrofees (Stellenbosch Woordfees). Hy is die sameroeper van die toekenningspaneel van die jaarlikse Krêkvars-Kopanong Studentefees (Universiteit van Pretoria). Hy het voorheen opgegtree as verhoogbestuurder vir Charles Fourie se Wond by die Suidoosterfees 2016 en meer onlangs as regisseur vir twee DEURnis produksies, Swem en Winkelpop.

Rudi is ‘n teaterskrywer, grafiese kunstenaar en vervaardiger. Hy is lid van die Naledi-teatertoekenningspaneel en het voorheen gedien op die panele van onder meer die Standard Bank Ovation-toekennings (Grahamstad Nasionale Kunstefees), Kanna-toekennings (KKNK) en Aardvark-prys (Aardklop). Hy het onder meer ervaring in klank- en beligting en het al opgetree as verhoogbestuurder en musiekregisseur vir produksies by die Grahamstad Nasionale Kunstefees.

Theatrerocket streef daarna om nuwe, opwindende en grensverskuiwende werk te skep terwyl hulle ook lewe blaas in bestaande tekste en verwerkings van groot landmerkwerke. Die reuk van appels, hul debuutproduksie, toer deur die land na al die feeste en groot teaters waar dit met groot lof ontvang word.

DEURnis, hul grensverskuiwende projek wat een-tot-een teater behels, het die teaterwêreld aan die gons. Twaalf toneelstukke word by die 2017 Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied in samewerking met die fees.

SOSIALE MEDIA EN RESENSIES

Facebook blad

Krit resensie (Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2017)

Cue resensie (Grahamstad Nasionale Kunstefees 2017)

Die Burger / Netwerk24 – terugvoer van gehoor (Grahamstad Nasionale Kunstefees 2017)

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments