Dinsdag , Oktober 16 2018
Home / Music / Michelle Marx stel DAYMOON bekend!

Michelle Marx stel DAYMOON bekend!

“Die liefde kan ingewikkeld raak wanneer ’n mens die heeltyd meer verwag as wat voor jou is… Dit is ook nie eintlik iets wat ’n mens met jou oë kan sien nie, maar ’n hartsproses wat tyd gegun moet word om – soos ’n brose plantjie – te groei en te ontwikkel soos wat dit water, aandag en tyd kry. DAYMOON is my eerste enkelsnit en ’n gedig, uit my eie pen, wat juis gebore is uit my frustrasie oor iets wat so mooi kon wees as die ander persoon net wou stilstaan, tyd spandeer, die hier en nou kon geniet vir wat dit was en ook die liefde tyd wou gee om tot volle potensiaal te ontwikkel,” verklap sangeres en liedjieskrywer, Michelle Marx, die betekenis agter haar debuut-enkelsnit wat pas vrygestel is.

Hierdie musikant glo dat musiek met die siel moet praat en haar eie emosievolle sangstyl en lirieke is ’n pragtige getuigskrif hiervan. DAYMOON is ’n hoendervleismooi kontemporêre ballade, met ’n Jazz-aanslag, wat die kunstenaar se stem soos ’n handskoen pas en jou van die eerste noot af in vervoering sal hê. Dit is iets heeltemal vars en anders in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en is een van daai liedjies wat jy oor-en-oor sal wil luister, omdat die wysie in jou kop en die rou emosie in jou hart sal vassteek. “My musiek is diep en my lirieke is eintlik gedigte, soos wat Leonard Cohen s’n ook is. Almal is mos eintlik romanties diep in hulle hart en het al liefdesverhoudings gehad wat dalk meer kon wees, daarom glo ek dat gehore van alle ouderdomme met die enkelsnit sal kan vereenselwig,” sê sy.

Dié finalejaar mediese student het begin sing toe sy twaalf jaar oud was en neem al sedert sy sestien is aktief deel aan skoolkonserte, teaterproduksies, ATKV-toneelopvoerings, kunstefeeste, sangkompetisies, kerkfunksies, liefdadigheidsfunksies en vele meer. Sy was ook deel van TUKS se koshuisserenadegroep wat in 2015 die nasionale trofee gewen het.  Vir haar is musiek ’n roeping en onlosmaakbaar deel van wie en wat sy is. “Ek is amper klaar met my graad en gaan na 2018 my twee gemeenskapsjare doen, waarna ek gaan spesialiseer. Rekonstruktiewe chirurgie is vir my baie interessant, omdat dit mos eintlik ’n kunsvorm is en ek self ook hou van skilder en beeldhouwerk. Niks raak my hart so aan soos ’n rou kunswerk of optrede waar die kunstenaar jou laat snak na jou asem nie. Sing is iets wat ek net moet doen – daar is ’n deel van my wat moet verbaal uiting gee aan al die kreatiewe denke en gedigte binne in my,” gesels die sangeres. “Ons almal het Godgegewe geskenke en talente gekry en ons moet dit gebruik om ’n verskil te maak in ander mense se lewens en om hulle nader aan God te bring.”

Oor die jare het sy die voorreg gehad om die verhoog met verskeie bekende kunstenaars te deel by feeste, liefdadigheidskonserte en ander geleenthede, waaronder Innibos waar sy vir vyf agtereenvolgende jare opgetree het vanaf 2010 tot 2014. Sy beskou alles wat sy sover bereik het met haar talent as ’n hoogtepunt, want wanneer sy op die verhoog is voel dit vir haar asof sy regtig leef. As sy egter ’n geleentheid moet uitsonder, sou dit haar tannie se begrafnis wees waarop sy moes sing. “Ek moes Andrew Lloyd Webber se ‘Pie Jesu’ sing. Dit was by verre die mees uitdagendste optrede vir my tot dusver, maar ook die beste omdat ek die krag van die Here kon sien – hoe Hy deur my sang vir ons familie en vriende vrede en troos gegee het. Die optrede het vir my gewys wat die krag van musiek en sang is en hoe dit mense werklik kan aanraak.”

Volgens haar geniet sy ’n wye verskeidenheid musiekgenres, waarvan Jazz beslis haar gunsteling is. Musikante met wie se musiek sy grootgeword het, soos Leonard Cohen, Johannes Kerkorrel, Cat Stevens, Theuns Jordaan en Koos du Plessis het almal ’n invloed gehad op haar eie styl. Sy bewonder ook groot, kragtige stemme en lys Celine Dion, Christina Aguilera, Aretha Franklin, Ertha Kitt en Shirley Bassey as haar grootste rolmodelle.

Die musiekbedryf het die ster geleer dat nie almal nie van alle soorte musiek hou nie, maar dat dit gaan oor wat binne in jou as kunstenaar is, want as jy dit deel sal jy die regte hartsnare prikkel en die effek hê wat jy beplan het.

Omdat Michelle Marx self inspirasie put uit die emosie wat in sekere musiek opgesluit is, wil sy graag ook daardie tipe boodskap met betekenisvolle lirieke aan luisteraars oordra. “Ek wil hê mense moet my werk geniet en ek weet dat dit iets diep in almal se hart kan raak,” sê sy. DAYMOON gaan nie net nesskop in Suid-Afrikaanse musiekharte nie, maar is ook die begin van groot dinge vir hierdie pragtige musikant.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Instagram: @michelle_marx_x

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Qwade Dunn stel nuwe somertreffer vry!

Wat is die geheim vir die perfekte somertreffer? Vars veelsydige talent, ’n opgewekte wysie en …

Prime Circle begin hulle eie musiek-en leefstyl fees!

Prime Circle onderneem ’n splinternuwe reis met die aankondiging van hulle eie musiek- en leefstylfees: …